Om te “practice what you preach”, soos dit op zijn idiomatiese Engels lui, is een van daardie mooiklinkende maar moeilik uitleefbare praktyke wat ons graag rond en bont aanbeveel by mekaar, en vele ook as ‘n persoonlike riglyn nastreef. Helaas, die vlees is swak.
Ek praat uit eie ervaring. Een van die uwe se sienswyses wat hy nooit onder ‘n maatemmer verberg het nie, is die verwante beginsel: As jy uit is, hou jou bek. By geleentheid selfs vir P.W. Botha daaroor kapittel, op die voorblad van my koerant nogal toe hy sy opvolger, F.W. de Klerk, in die openbaar kap.
Maar hoe dan gemaak as jyself sterk voel oor sake wat ongelukkig op die terrein van jou vorige lewe voorkom en nou in ander hande berus? Ek struikel ook maar dikwels met uitsprake oor die media en hul dinge, en gaan vandag weer. Hierdie keer is dit die verskynsel van eie-reklame in sy verskillende vorme wat my verby die limiet van selfbeheersing gedwing het.
Reklame, in die eerste plek, soos Ian Wessels en ander SAUK-mense dit toenemend oor die lug bedryf. Ek hou ‘n eenmanvertoning, ek het ‘n kookboek geskryf, ek vat toergroepe na eksotiese bestemmings. …. So moet ‘n mens tot vervelens uit omroepersgeledere aanhoor.
Die heer Wessels vat in hierdie opsig die koek. Niemand kom naby hom nie moet ek die loslippige Loslip-aanbieder dit toegee. Ewe selfversekerd deel hy sy stomme luisteraars vanmiddag weer mee hoe baie e-posse hy dan ontvang oor waar en wanneer hy in sy eie tyd vir sy eie sak sy ding gaan doen. Toe gee sy toerprogram van A tot Z.
“Vir diegene wat nie pen en papier byderhand gehad het nie, herhaal ek dit later.” Nee, ek lieg darem nou, mnr. Wessels, maar dis amper so brutaal!
Sulke bemarking kom ongelukkig in elke soort program voor: inbelprogramme, godsdienstige programme, versoekprogramme, aktualiteitsprogramme, die lot. Spits maar die ore wanneer Fanie, Amore, Willem, Johan en ‘n hele paar ander skaamteloos lostrek.
Bestaan geen beleid dan oor hierdie soort van ding nie? Is kontrole deur ‘n baas iets wat verlede tyd geraak het. Is etiek by die venster uit? Meen te sê as iemand toegelaat word om sy/haar eie beul so oor die eter te blaas, doen hy/sy dit mos eintlik mos uit jou en my sak. Ons betaal vir die lugtyd met ons lisensies. Jammer, dit gaan teen hierdie lisensiehouer se grein in.
Natuurlik kom die verskynsel, maar in ‘n mindere mate, ook by koerante voor, waar dit hom veral voordoen in die vorm van die een hand wat die ander was. Om mekaar se kookboeke op boekeblaaie op te vysel (hoekom nie op kosblaaie nie?), lyk na ‘n toenemend gewilde manier van welwillendheid rondstrooi.
Natuurlik kom die verskynsel ook op ander terreine voor. Selfs dominees is nie daarvan te vrywaar nie. Gemeentes se nuusblaaie wemel van sulke “advertensies”, gekamoefleer as nuuswaardige mededelings, oor enigiets onder die son – veral toere na die “Heilige Land” (en, as toegif, ‘n hand vol minder heilige lande ook). Beradings, simposiums, werkwinkels en daardie klas verskynsels van die moderne era is biezonder gewild.
Hanlie Retief skryf in Rapport ‘n top-rubriek oor diepte-onderhoude met nuusmakers. Ek lees dit meesal graag. Maar pas op, Hanlie, hier steek bemarking ook al hoe meer sy lelike kop uit. Sondag was dit die sanger Rudi van die saliger groep Lieflinge se beurt om sy hart, op sy versoek nota bene, uit te stort. ‘n Ruk gelede was dit ‘n TV-aanbieder wat in die openbaar wou skuldbelydenis doen omdat hy sy vrou verneuk het.
Hanlie is eerlik en deursigtig genoeg om die feit nie te verswyg nie dat die toenadering in die betrokke gevalle van die betrokkenes gekom het. Vir my, en seker ook vir ‘n klompie ander lesers, laat dit rooi ligte flikker. Hanlie se blad sal skade ly aan geloofwaardigheid en gesag as mense dit begin misbruik om hul ego’s te poets of om ander minder verhewe redes. Moet die talentvolle dogter waarsku. Voel dit as die ou man se morele plig!
‘n Slim stukkie bemarking was daardie vroulike jagter wat laat weet het van die knewel van ‘n jagluiperd wat een van haar klante in Namibië platgetrek het – met foto die lot. My kollega Johan van Wyk het altyd iets gesê soos: as jy eers gelê, staan, proe het, dan raak jy meer erg. Volgende laat weet sy van die lewendige reaksie, ook van mense wat omgekrap is oor die uitwissing van so ‘n edele dier. Dit was duiddelik nie uit selfverguising nie. Ek sou graag wou sien hoe haar afsprakeboek daarna gebult het.
Maar jy kan nie vir die koerante hieroor kwaad wees nie. Reklame en nuus loop dikwels hand aan hand.
Comentarios