top of page
  • Uitmelkbos

Reklame

Coenraad Walters skryf oor Pleisters vir die dooies, deur Fanie Viljoen. (Boeke24) “Wat het verkeerd geloop?” vra die resensent van Michiel Heyns se jongste roman elders op Boeke24. Inderdaad. Wat loop verkeerd dat ’n top-skrywer soos Fanie Viljoen ’n resensie soos hierdie een op die lyf loop? Mens kan Walters se bewondering vir Viljoen begryp, maar hy vergeet dat hy nie hier besig is met pedagogiese aanvoorwerk vir ’n jeugroman onder ouers, ondewysers en skoliere nie. Te oordeel na dít wat Walters oor die inhoud verklap, is dit ’n roman wat gedompel is in haas elke cliché wat daar die afgelope twintig, dertig jaar versamel is rondom Amerikaanse skoolskieters en Suid-Afrika se Boetman-geslag en hul telge. (Ja, selfs die bekende stereotipe figuur van ’n Engelse onderwyser aan ’n Afrikaanse skool maak sy verskyning!) Vir al wat ek weet gaan Viljoen baie verbeeldingryk daarmee om, maar die resensent wend geen poging aan om die roman in sy onderdele te bespreek nie. Jammer mnr. Viljoen, iets hét verkeerd geloop.

Sarel van der Walt skryf oor Mooiloop, Mooiste reisstories, saamgestel deur Gerrit Rautenbach. (Boeke24) Die bloemlesing as grafskrif; die resensie as reklamestuk. Ons word daaraan herinner dat daar eens ’n tydskrif soos Mooiloop was; dié resensie sou sy doel gedien het as Van der Walt ook gesê het watter bydraes hom verveel het, en hoekom.

Elbie Adendorff bespreek Dubbelspel, deur Wilma Adriaanse. (LitNet) Allawêreld. Adendorff skryf in drie lang paragrawe en twee kortetjies ’n resensie wat mens aan joernalistiek-studente kan voorhou. Sy vind dit nie nodig om haarself van bloemryke taal te bedien nie; gevolglik moet mens die geesdrif gaan soek in wat sy sê, en hoe sy dit sê. Oor inhoud, tematiek, verwikkeling. Ek wens net sy het nie afgesluit met die opmerking dat sy die boek nie kon neersit nie. Dis nou tyd vir ’n nuwe cliché.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page