top of page
Uitmelkbos

REKENAAR-VERSKRIK

Herman Toerien skryf in sy Weeklikse Nuusoorsig vir die TLU op Maroelamedia se webblad (verkorte weergawe):

“‘n Klompie van ons is in Hennie van Deventer se kantoor saamgetrek. Hennie was destyds, in 1981, redakteur en gaan ons toespreek oor ‘n belangrike verandering aan die koerant – die wegdoen met die loodgietstelsel en oorskakeling tot litografie. Die ou bekende “bloutjies”, ‘n deurslag wat op ou tikmsjiene uitgemoker is, is op pad uit. Rekenaars gaan die ding doen.

“Hennie agter ‘n rekenaar? Hennie agter sy tikmasjien met sy vingers wat oor die toetse vlieg, was immers ‘n baie bekende gesig. So vinnig het sy vingers die toetse bygedam dat ek tot vandag nie seker is of hy al tien vingers ingespan het, of, soos, ek net die twee wysvingers nie.

“ ‘Hier gaan ek rang trek,’” skerts Hennie in ligte luim. “Ek gaan my tikmasjien gebruik. Iemand anders sal dit in die rekenaarstelsel moet intik.’

“Ek is weg by Volksblad nog voordat die rekenaars gekom het, en weet nie hoe lank Hennie toe wel sy verhouding met die tikmasjien voortgesit het nie. Ondanks sy gehegtheid aan die tikmasjien het hy toe tog rekenaars onder die knie gekry. Altesaam 16 boeke nie uit nie, vertel die verhaal.

“Hennie se uitsonderlike geheue het ons jongklomp verstom, veral wanneer jy as groentjie ‘n storie by ‘n voorganger “erf.” Hy kon jou kennisleemte in die skerpste besonderhede toelig – met besonderhede wat dikwels ‘n gans ander lig op die saak kon werp.

“Dat Hennie ‘n besonderse humorsin het, het ek ontdek nadat die redaksielid wat vir die rubriek, Korrelkop verantwoordelik was, ‘n ander pos opgeneem het. Korrelkop was ingestel om met ‘n “kritiese oog” na die nuwigheid, TV, te kyk. Die SAUK- TV was nuut en taamlik baie flaters is begaan. Die flaters het onder die vingers van Korrelkop skreeusnaaks geword. Ek was binne hoorafstand toe ek hoor hoe iemand vir Korrelkop vra wie nou Korrelkop gaan wees. “Die baas gaan dit blykbaar self doen?”antwoord Korrelkop.

“ ‘Wat, Hennie?’”reageer die verslaggewer verbaas. “Jong, Hennie het ‘n skerp humorsin.”

“Hy het toe nie Korrelkop regtig oorgeneem nie. Dis egter of humor ‘n belangrike anker van nie net sy skryfwerk geword het nie, maar sy lewe. Boek ná boek, uit sy huis oorkant die baai van Tafelberg af tot uit sy winter-uitspanplek (en ander tye van die jaar ook) by die Krugerwildtuin.

“Die tyd stap aan. Groot gees op groot gees word weggeneem. Hennie word gespaar om steeds pennevreugde te verskaf – ligjare verwyder van daai Olivetti in die hoek van sy redakteurskantoor waar bloutjie op bloutjie uitgespoeg is.

“Verskeie skeepsreise is aangepak. En skeepsreise so saam met gesinslede of vriende lewer baie onderwerpe vir verhale wat in “vingertaal” opgediep kon word. As daar nie genoeg vriende aan boord was nie … geen probleem nie. Vriende word gou-gou gemaak en deel van opgetekende avontuur op avontuur aan boord. Met Na Verre Hawens kan u deel word van die opgetekende verhale van ‘n meesterverteller wat soos ‘n goeie verslaggewer bedrewe waarneem.

“Na Verre Hawens word op Donderdag 9 April 2020 om 12:00 heel gepas by die Oppiwaterfees bekend gestel. Die fees is van 5 April tot 10 April aan boord van die MSC Orchestra. Die skip vaar uit Kaapstad na Walvisbaai en Luderitz. Die boek is te koop by boekwinkels en aanlyn by www.naledi.online. Die skakelpersoon daar is Tertia Swart by tertiaswart@naledi.online”

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page