top of page
  • Izak de Vries

Reis na die Suide

Tydens haar laaste optrede in Die Boer het iemand opgemerk dat Laurinda Hofmeyr die “hoëpriesteres” is van die Afrikaanse woordkuns. Ons het daardie vertoning geweldig geniet. Laurinda het saam met Schalk Joubert (op baskitaar) en David Klassen (op tromme) vir ’n genotvolle aand gesorg.

Dit was haar laaste optrede, en die mees suidelike, van die bekendstellingstoer om Reis na die Suide, Laurinda se wonderlike nuwe cd, te bemark.

Schalk is soms so sag in die agtergrond dat jy hom skaars hoor, dan skielik slaan hy die “lead” op daardie massiewe baskitaar. En David ook. Soms sit hy net daar, of hy tik so liggies dat jy moet mooi luister, maar boetie, as hy daardie tromstel se lieste begin pekel, dan skud die aarde!

Ek en die geliefde is mal oor Laurinda se musiek en verruk van hierdie cd, maar nou is daar darem meer mense wat saamstem dat Laurinda applous verdien.

Die album is pas genomineer vir twee pryse:

- Beste alternatiewe album (Vonk-toekennings 2008), en

- Die Huisgenoot-Tempo-Toekenning vir die gewildste Kopskuif-album.

Voorts gaan die FAK Laurinda hierdie jaar vereer met die FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie vir die "voortreflike prestasies en bydraes wat sy oor die afgelope jare as uitvoerende en skeppende kunstenaar tot die Afrikaanse musiekbedryf gelewer het".

Die van julle wat naby die Kaap woon, gaan kyk gerus hoe sy speel. Laurinda en die twee manne is ’n witwarm belewenis.

Dinsdagaand (eerskomende) is hulle in Die Boer en Woensdagaand is hulle in The Hidden Cellar op Stellenbosch.

0 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page