top of page
Uitmelkbos

REGTE “KONTAKTE”

Met die regte “kontakte” kan jy alles regkry en oral inkom. So glo sommige mos – veral sommige politici (darem gelukkig nie almal nie) van elke herkoms en generasie.

As jy sukkel om by die hemel in te kom: “Man, hoekom bel jy nie net gou vir Petrus nie?”

Die stryd is aan om my geld uit Shosoloza Meyl terug te wurg ná die ineenstorting van

passasiersdienste en die opskorting van o.m. die Premier Classe se Oos-Kaapse roete.

Pleks van more op die trein klim (rooi tapyt, verwelkomingsdrankie, deftige kompartement, aandete uit die boek), ry ons nou maar Sondag met die Honda George toe. Dis ten minste goedkoper.

Nietemin, om sy geld terug te kry, is vir die arme passasier ‘n omslagtiger taak as wat dit vir PRASA (Passasiersdienste van Suid-Afrika) ‘n probleem was om sy dienste oornag op te skort en derduisende reisigers te verontrief en ontwrig.

Om te begin, moet ek my kaartjies terugvat Kaapstad-stasie toe, van waar dit na Johannesburg gestuur sal word vir verdere “prosessering”.

Hier kom Mnr. Politikus nou in die prentjie.

Hy is besig om kaartjie te koop Johannesburg toe (daardie roete is intussen weer oopgestel), en verneem belangstellend na my besigheid op die stasie. Ek verduidelik en verduidelik die jammerlike sage, maar hy bly onbegrypend.

“Man, hoekom gaan praat jy nie net met …… nie?” – en hy noem die naam van die grootbaas van die Premier Classe.

“Goeie plan, ou vriend, baie dankie,” wou ek sarkasties terugkap.

Jinne, dat ‘n mens nou so dom kan wees en nie self daaraan kon gedink het om die grootbaas te gaan spreek nie. Hy kon mos maklik-maklik ‘n spesiale trein vir jou gereël het!

“Alte seker, mnr. Van Deventer, bly om van diens te kan wees. Sê net weer hoeveel waens moet ons vir jou aanhaak!”

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page