Racheltjie de Beer was in werklikheid dus racheltjie niemand. Dit is die lakonieke kommentaar van my oud-kollega Ollie Olwagen op die helaas onontwykbare gevolgtrekking: dat hierdie jong volksheldinnetjie nie ‘n mens van vlees en bloed was nie, wel ‘n stukkie inspirerende Afrikanermitologie.
‘n Leërskare mense – onder wie die uwe self, ‘n Melkbosse vriendin, Gerrie Coetzee, en Ollie – moet dit eenvoudig maar teen wil en dank aanvaar nadat dieper in die Racheltjie de Beer-sage gedelf is. Nêrens kon ‘n geloofwaardige spoor na die 12-jarige heldinnetjie of haar beweerde gesin deur historici en/of genealoë gevind word nie, ondanks die tienduisende woorde wat oor geslagte heen oor haar dapper daad geskryf is.
Ollie, argitek en skepper van die gewilde “Mieliestronk”-leermateriaal vir kinders, gaan nou ‘n voetnoot in dier voege by die Racheltjie de Beer-storie op die mieliestronk-webwerf sit, deel hy ontnugterd mee.
Ollie se ontnugtering sal wyd gedeel word. Mense wil graag glo Racheltjie het werklik geleef. Hulle wil glo sy het werklik in ‘n sneeustorm haar kleertjies uitgetrek om as lewende skild vir haar boetie in ‘n uitgeholde miershoop te dien. Die tweetjies sou op soek na ‘n verlore kalfie verdwaal geraak het.
Vraagtekens word egter oor die verhaal geplaas deur geloofwaardiges soos die genealoë wat die De Beers se geskiedenis opgeteken het, Diwwie de Beer en Jaleen de Beer. In hul navorsing vir die boek “Die De Beer-familie: drie eeue in Suid-Afrika” het hulle doopregisters, sterftekennisgewings en ander dokumente vergeefs na Racheltjie en/of haar ouers gefynkam.
Geskiedskrywers van die 19de eeu, soos Gustav Preller, verwys ook nooit na Racheltjie se heldedaad nie, ondanks die talle verwysings na ‘n ander kinderheld, Dirkie Uys. Geen melding van die verhaal kom eweneens voor in die Afrikaanse Kinderensiklopedie wat in die 1950’s verskyn het nie.
Tien jaar gelede al was in “Die Burger” ‘n berig met die opskrif: “Racheltjie de Beer: ware heldin of versinsel?” Stephanie Nieuwoudt bring in daardie diepteberig verskeie probleme aan die orde: name en datums wat nie klop nie, ens. Haar berig is deur Leo Kritzinger opgespoor en onder my aandag gebring.
Tussen 1800 en 1900 is, volgens dié twee navorsers, net 12 De Beer-kinders met die naam Rachel gebore. Die meeste is in die laat 19de eeu gebore: te laat om te klop met die gebeure van 1843, toe Rachel 12 sou gewees het. Die navorsers kon nie ‘n Rachel vind wat in 1831 gebore of gedoop is nie. Ook nie ‘n datum wat sou klop met die ouderdom waarop sy glo dood is nie.
Die twee De Beers het wel in hul navorsing afgekom op inligting oor ‘n gesin van 1903 wat merkwaardige ooreenkomste met die ander De Beers toon. “Maar voldoende bewys bestaan nie om onvoorwaardelik te sê dit ís die regte gesin nie.”
Prof. Albert Grundlingh, destydse hoof van die departement geskiedenis op Stellenbosch, het aan “Die Burger” gesê geskiedenis-mites ontstaan dikwels om bepaalde politieke of kulturele gebeure en wanneer daar ‘n opwelling van nasionalisme is. “Die verhaal van Rachel was veral in die 1930’s gewild om en by die Eeufeesviering van die Groot Trek, toe dit nodig was om die volk rondom dié gebeure saam te snoer. Haar verhaal bevestig gesinsideale en dit beklemtoon die beskermingsdrang van die volk.”
Dr. Jan Visagie, ‘n historikus en genealoog van Stellenbosch, het gemeen die twee De Beers se beredenering rakende Rachel was “oortuigend en hul navorsing deeglik gedoen”. Dat die gesin van 1903 wel ooreenkomste toon met ander gegewens oor die verhaal van Racheltjie de Beer, maak dit onmoontlik om die verhaal as ‘n mite af te maak. “Maar dit is steeds grotendeels gegrond op mondelingse oorlewering.”
Jammer, mense, maar ek kon mos nie hieroor swyg nie, of moes ek liewer? Buitendien, as iemand aan Racheltjie wil bly glo, wat staan in die pad?
Commentaires