top of page
Uitmelkbos

RAAKVAT, ONSE HELEN!



Ons is vol moed hier in die suide dat onse kontrei (in die konteks van Suid-Afrikaanse werklikhede natuurlik) oorgehaal is om verreweg dié modelprovinsie in die land te word. Daardie status gaan egter nie uit die lug val net omdat die D.A. regeer nie.


Raakvat met haar kabinet – dit is na hierdie bekeerling se oordeel die eerste groot uitdaging vir Helen Zille wanneer sy as premier die septer in die Wes-Kaap begin swaai.


Gelukkig het die gedugte Helen klaar laat blyk sy wil haar omring met die bewaamste mense wat beskikbaar is. Dit sal ‘n goeie begin wees, en dadelik vertroue inboesem as sy in hierdie opsig die daad by die woord kan voeg.


Onder die kandidate oor wie bespiegel word, is een wat my nogal verbaas. Ek verwys na Lennit Max, gewese Wes-Kaapse polisiekommissaris.


Max is dalk ‘n knap, energieke en toegewyde man wat ‘n aanwins vir die kabinet sal wees. Hoe sal ek weet? Dat in 2003 druk op hom uitgeoefen is om op ouderdom 41 jaar onverwags vroeg uit te tree, is egter ‘n feit.


Mense met lang geheues hardnekkige gerugte onthou dat onvrede tussen Max en ‘n adjunk- kommissaris, Zelda Holtzman, ‘n rol gespeel het. Dié “oorlog” tussen Max en Holtzman het, volgens koerante, begin toe sy uit sy kantoor gestorm en die deur toegeklap het. ‘n Klag van onder meer seksuele teistering teen Max het gevolg. Dit is ongegrond bevind.


Voordat oor die res van hul geskille besleg kon word, het sy egter bedank en van die toneel verdwyn. Die troebelheid rondom Max se uittrede is toe nooit opgeklaar nie.

Onplesierige botsings met die polisie se regsafdeling het ook voorgekom. Stories daaroor het dik in polisiegange geloop. Max se rassevooroordeel is as ‘n rede genoem. Hy sou dit hardhandig probeer opdwing het met die skorsings van polisiemanne wat in tugsake moes verskyn. Die bewering is gehoor dat hy koppig volhard het om ongeregverdigde onderskeide te eis.

Max self het soos die graf bly swyg oor hoekom hy padgee. Marthinus van Schalkwyk, destydse Wes-Kaapse premier, het egter nie doekies omgedraai nie. Hy het reguit verklaar dat hy nie tevrede was met die bestuur van die polisie in die provinsie nie. “Die bestuur moet eerder met die misdadigers baklei as met mekaar in die media.”

Max is later politiek toe. Sy politieke loopbaan het begin by die Onafhanklike Demokrate. Hy het tot Wes-Kaapse leier van die OD gevorder. ‘n Allemintige rusie het egter in 2005 tussen hom en die nasionale leier, Patricia de Lille, losgebars. Die beledings (en beskuldigings van wangedrag) het heen en weer gevlieg.

Max is as Wes-Kaapse leier geskors, en De Lille het beweer hy is oneerlik deurdat hy by geleentheid van die party se geld misbruik het vir hotelverblyf en alkohol. Max het glo ook OD-lede afgedank en kiesafdelingkantore gesluit sonder die nodige toestemming óf deur die regte prosedure te volg.

Soos ‘n kurkprop het Max telkens weer na die oppervlak gekom, en nou word hy selfs genoem as kandidaat vir die Kabinet. Helen Zille moet egter maar rustig oorweeg of dit wys sal wees om iemand met so ‘n geskiedenis tot ‘n leiersrol in die “nuwe Wes-Kaap” te bevorder, glo hierdie veteraan. Tensy sy doodseker van haar saak is.

Naskrif: Wonder of Max nog daardie motorfiets ry waarmee hy as polisiehoof gespog het – ook oor die feit dat die registrasienommer onwettig was of so iets. Die foto was op Die Burger se voorblad, as ek reg onthou.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page