top of page
  • Uitmelkbos

R2 850 VIR ‘N SPYKER

In die somervakansie van 1959 het ek my rybewys op Klerksdorp gekry in die eerste van 23 motors in my huis tot op datum. Nommer een was ‘n 1952-Peugeot 203 en nommer 23 ‘n 2013-BMW X1. Maar dit net terloops.

Vandag se blog gaan nie oor my karre of karre in die algemeen nie. Ek skryf oor bande. Oor die onderwerp het ek in my 73ste jaar nuwe kennis opgedoen wat nie my bydra tot my lewensvreugde nie.

Die storie begin toe die BMW aan die vooraand van ‘n reis na George ‘n spyker in die linkeragterband optel. Ek ry na die naaste vulstasie waar ‘n prop ingesit word.  Terselfdertyd word ‘n vrywaringsvorm onder my neus gedruk met die aanmaning om dadelik ‘n bandeplek op te soek, en in elk geval nie verder as 80 km met die herstelde band te ry nie.

Wat sou dit beduie?  Navrae bring aan die lig dat met die sogenaamde “runflat”-bande van die BMW – op Afrikaans dalk sommer “paplopers” –   ‘n spyker in jou band geen ligtelike saak is nie.  BMW self raai jou af om met ‘n herstelde “paploper” te ry. Die handelaar maak ‘n toegewinkie: “Ry maar George toe – net nie vinnig nie.”

Doodverskrik oor die “tydbom” wat onder die BMW rondomtalie, kom ek op Kleinmond by ‘n vriend aan.  Hy is ‘n ‘n oortuigde google-man. Ons google die vraag of jy kan laat regmaak en ry,  en kry die onomwonde antwoord: “No. It is not recommended”.  Bestel toe maar op George ‘n nuwe. Kos ‘n ronde R2 850 – dit vir ‘n enkele spyker na net 15 000 km.

Maar op Kleinmond hoor ek by my vriend toe ook ‘n ander stukkie onplesierige bandenuus.  ‘n Doodgewone band kan in jou kattebak so lê en degenereer dat jy dit na vyf jaar moet weggooi, vertel hy.  Dis nie hoorsê nie – het hom self oorgekom.  Die “splinternuwe” band vir sy groot Mercedes moes bandebegraafplaas toe. Kos hom amper R4 000.

En ons dag nog altyd as ons ‘n motor verkoop, is dit ‘n pluspunt om trots aan die koper te kan meedeel: Die noodwiel is nog nooit gebruik nie!

Nooit besef bande het ‘n vervaldatum soos ‘n blikkie boontjies of ‘n stuk kaas nie.

Hiermee dan ‘n stukkie goeie raad, mense:  Laat jou noodwiel ná jare se onbruik liewer nagaan of die band nog hoegenaamd bruikbaar is of nie.

Oor die “paplopers” (of “runflats”) win ek sedertdien adviese in. Dis ‘n tydsame, moeitevolle proses. Een kennersmening is dat die herstelde band nog eksieperfeksie is; al kommer is of die versekeraars in die geval van ‘n ongeluk sal uitbetaal of nie.

En wat sê die versekeringsmense?  Ná oorweging is ek vandag soos volg meegedeel: “I can confirm that there would be no difference between the claim because of the run flat tyre.    The tyres are standard tyres, and the claim will be treated the same as per normal tyres. If they are worn there would be no cover. But if they ok we will pay.”

Wat doen ‘n mens nou? Sal ek op grond hiervan BMW se aanbeveling en die google-advies in die wind slaan en die herstelde band terugsit  – of liewer nie?  Die R2 850 is in elk geval al lank uit my bankrekening…

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page