Kollegedae: Piet (heel regs) in die modderbad in 1958, met pak en pyp as lid van Kollege se berugte “bierklub” (1959) en as hardvogtige senior wat ‘n ienk se swaarkpou aan Kollege se “pil” geniet (1962).
‘n (Ryk) vriend het geglo jy hoef nie werklik ryk te wees nie; jy moet net “ryk maniere” hê. Ryk maniere – ek meen dit is wat Piet Henning van Sweetwaters, Louis Trichard, van ons gewone vaal Boertjies onderskei het toe hy in 1958 uit die “fênsie” St. John’s College in Johannesburg by Tukkies se Kollegetehuis opdaag.
Daarmee bedoel ek nie dat ienk P.B. Henning hom “opstêrs” gehou het of iets nie. Inteendeel! Dié jintelman was dadelik 100% een van ons, net fyner geslyp as die res – ‘n feit wat ook weerspieël is in die indrukwekkende repertorium oneerbiedige “rugby songs” wat hy geken het.
Liedjieboer Piet se “songs” was in die algemeen slimmer, ouliker, oorspronkliker, verfynder en … gewaagder … as “Die maan skyn so helder op my p….”. en so aan voort, wat ons Wes-Transvalers gesing het as ons van Potjiesdorp na plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg en, ja, Ventersdorp reis om op die sportveld kragte te meet.
(Ons het ook gesing “Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus (sic) het nie ‘n vel…” en “Tekkies laat jou voete stink, Brasso laat jou stêre blink” op die maat van “Pale Toe” – taamlik “voorstedelik en banaal”. )
Daarteenoor het Piet se repertorium gevorderde liedjies soos hierdie ene van St. Johns se buurskool, die meisiekool Rodean, ingesluit: “We are the girls from Rodeon High, we take pride in our virginity; we take precautions by having abortions, we are the girls from Rodean High.” Veel meer gesofistikeerd!
In 1963, toe Piet 23 was en ek 22, het hy vir my Ayn Rand se formidabele boek “The Fountainhead” present gegee – een van die beste boeke wat ek gelees het. Dat hy toe al van “The Fountainhead “bewus was en sy waarde besef het, spreek boekdele vir die skenker se stoffasie.
Met harde werk, waagmoed en idealisme het Piet ‘n suikerbaron en ‘n voorste wildboer in Zimbabwe geword, ‘n werkskepper van die eerste water en sterk bydraer tot die Zimbabwiese ekonomie.
Die pyprokende Piet het die pyp gerook!
Soos vir ander wit boere in onse buurlandjie was die laaste jare weens al die onbekookte grondeise vir die Hennings egter ook maar taai.
Piet, sy vrou, Moraig, en hul seun, Greg, was meermale die slagoffers van gewapende plundertogte deur aggressiewe bendes van korrupte, grondhonger oorlogsveterane, polisiemanne en soldate, asook van voortdurende viktimisasie en intimidasie deur grypsugtige politici en amptenare.
Hul private wildreservaat, met “lodge”, rondawels en al, is verwoes. Duur, gesofistikeerde trekkers en swaar plaastoerusting vir die suikerboerdery is gestroop. Die Hennings moes enkele jare gelede magteloos toekyk toe ‘n massiewe weermag-hyskraan ingespan is om hul waardevolle eiendom op polisievragmotors te laai.
Van ‘n hofbevel dat die plunderaars daardie plaastoerusting moet terugbesorg, het – soos van hope ander hofbevele in hul guns – dadels gekom. Van die buit is tot in die afgrond verniel. Die res is deur die polisie uitdagend verdeel en uit die Chiredzi-omgewing verwyder.
Vandag, Woensdag 5 Mei, vier Piet sy 70ste op sy plek van herkoms, Louis Trichard, waar hy nou weer die meeste van sy tyd deurbring. Oor sy kop hang verskeie swaarde, onder meer die swaard van Zimbabwiese “regspleging” omdat hy weier om te net te swig voor die pogings om hom en van die familiegrond te boender, asook die swaard dat hul mooi opstal vir ‘n sogenaamde “favoured new lady-farmer” opgeëis word.
Die viktimisasie is geweldig, en Piet moes net ‘n week gelede weer ‘n dag in die smerige gange buite die hofsaal van Chiredzi rondhang en wag om verhoor te word. Geen klagstaat is nog teen hom uitgereik nie, maar hy bly op dagvaarding.
Intussen veg Piet moedig aan vele fronte en in vele forums vir kompensasie vir die enome skades en verliese van miljoene der miljoene wat hulle gely het.
Oor waar hierdie goeie ou Kollegemaat die geestelike stamina kry om so hardnekkig te bly vasbyt, wonder ek dikwels. Ek sou al lankal tou opgegooi het. Maar Piet is een van diegene wat ligstraaltjies sien waar dit vir ander net duisternis is.
Vir sy 70ste kan ek hom niks beter toewens nie as dat daardie straaltjies uiteindelik sal kulmineer in ‘n sterk, helder straal wat sy geduld, moed en inspanning ryklik sal beloon.
Comments