Wie onthou die lugdiens Nationwide? Ek onthou hom met ‘n seer hart, want ek het kaartjies vir my en Tokkie en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens, vir ‘n vlug van Kaapstad na Mpumalanga Internasionaal in my besit gehad toe Nationwide op 29 April 2008 gevou het.
‘n Spul vorms is dadelik ingevol om my R5 392 terug te eis. Die likwidasieproses sloer nou egter langer as twee jaar. Ons hoor niks. Vir daardie R5 392 het ek lankal koebaai gewuif.
Nou huil ek oor die Shosholoza Meyl.
Shosholoza, Shosoloza het ons in 1995 op Ellispark gedreunsing toe ons (danksy Joel Stransky se skepskop) die All Blacks om die Wêreldbeker klop. Shosholoza, Shoshola sing ek vandag. Maar ek sing dit “dêm sad”, soos die ouens Suikerbossie op die begrafnis gesing het weens die gebrek aan ‘n liedjie wat meer by die somber aard van die geleentheid pas.
Ek, liewe vriende, sit met R3 000 se kaartjies op die Premier Classe van Kaapstad na George en terug vir my en Tokkie – vir “a journey that will live in your memory long after the trip has ended”, aldus die (peperduur) glansbrosjure.
Maar die wiele het tot stilstand geknars. Die Shosholoza Meyl kos te veel om op die spoor te hou, seg die trein-owerhede.
Ai, ai, ai – koebaai vir nog R3 000. Ek sien dit kom, en ek is nie eens met die helm gebore nie. Hierdie keer gaan ek ook nie eens my siel versondig deur ‘n pak vorms in te vul wat tog maar net tydmors is nie.
Ek gaan maar vir my ‘n dop Jack Daniels skink, vir Melkbos se wonderskone sonsondergang sit en kyk, in broeiende stilte wonder oor waarom ek altyd op ‘n verloorperd wed en saggies huil oor die Meyl.
Oos, wes, Jan Tuisbly se karretjie is bes!
Comments