top of page
  • Uitmelkbos

PURE LEM-PLESIER!




Basies is die beste. So ek glo aan menige front, en baie bepaald as dit by skeer kom. In 1956 het ek met ‘n heel basiese Minoralemmetjie – hulle was in sulke geel pakkies – die eerste donsbaardjies van my ken gekrap. Die seep is per kwas aangewend. Een oggend het ek in die koshuis op Potchefstroom die kwas onder die kraan gewas met die skeermes nog in dieselfde hand. Toe ek per ongeluk so oor die lemmetjie “streel”, was oral net bloed.


Nietemin, nou in die herfs van 2009 – tussen 19 000 en 20 000 skere later (as my sommetjies reg is) – is dit nog (amper) elke oggend tyd vir lem-plesier. Deesdae ‘n Gillette-dubbellem, maaindjoe, en jy koop hom nie meer in ‘n plak pakkie nie, maar in n deursigtige plastiekhouer. Maar dit bly ‘n lemmetjie. Dis nie die een of ander fênsie masjien met dartelende, roterende koppe en ander asemrowende ekstras nie.


Twee keer in my lewe het ek amper vergeet dat basies die beste is. Albei kere was verjaardaggeskenke in die prentjie.


Vir my 21ste was my geskenk van my ouers ‘n “elektriese skeermes”. Ons het hom so genoem al het hy met batterye gewerk. Ek het hom soms gebruik, woer-woer-woer, maar al hoe minder en minder. Een skeer per dag was kennelik te min vir ‘n swartbaard soos ek. Hy is in goeie kondisie vir ‘n waarderende nuwe skeerder present gee.


So twee dekades later was op TV ‘n verleidelike advertensie vir ‘n dubbeldoor – ‘n skeermes wat nat en droog kon skeer. Op my herhaalde versugtings het mev. Tokkie van D. gereageer deur vir my een vir my verjaardag te koop. Ek het een keer probeer, toe sit ek hom neer. Misnoegd.


Tokkie, nogal oulik met daardie klas ding, het hom deeglik gereinig en terugverpak. Die winkel het sonder kwê die onsuksesvolle geskenk teruggevat.


Die laaste twintig jaar al is my skeermes ‘n Gillette Sensor. Maar selfs ‘n skeermes het sy leeftyd. Die laaste maande al verloor die lemmetjie. Ek skeer nog so, dan val hy kaplaks in die wasbak. Dan is dit groot moeite om die verlore stukkie toerusting uit die water te vis en terug te monteer. Later word die verloorslae so twee per skeer, toe drie…


“Hoekom koop jy nie n nuwe skeermes nie?” vra T.


“Gmf,” sê ek. ”Nuwe skeermes op my leeftyd! Dié ene sal maar moet hou tot die bittereinde.”


Een oggend verloor hy vyf keer voor ek rond en om glad is.


“Tokkie, gaan jy winkel toe?”


“Ja, hoekom?”


“Koop asseblief vir my ‘n nuwe skeermes.”


Sy bring die nuwe Sensor en dis ‘n mooi model, moet ek erken (kos ook ‘n mooi prys!) . Maar dis nie net sy lyne wat vir punte tel nie, hoor. Sy gewig is net reg. Dis salig as die lemmetjie so lekker stewig sit en net op die regte plekke en tye sy knakke knak. Die skeer is voortreflik.


Pure lem-plesier is terug – en ek glimlag so deur my skeerskuim (ook Gillette) van oor tot oor.


Trouens, die weelde van iets nuuts vir daaglikse eie gebruik is so verslawend dat ek, met ‘n halwe skuldige gewete, begin rondkyk om my. Vir ander moontlike vervangings wat die oudag kan opkikker.


Iets wat ek nie kan miskyk nie is die afgeleefde waterbeker op die bedkassie langs my kopkussing. Dis ‘n outydse erde-model, die kombuistipe, so romerig van kleur met die tradisionele dik riffie om die mond,


Einde 1997, net nadat ek my kantoordeur op 18de verdieping van die Nasperssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek het na ‘n loopbaan van 35 jaar by koerante, is ons klomp 18de-vloerders per bus Weskus toe vir die jaarlikse einde-van-die-jaar-party. Elkeen kry toe so ‘n beker met “Geseënde Kersfees” daarop geplak present.


Myne is dalk die enigste wat nog in daaglikse gebruik is, maar in die 11 jaar was daar allerlei stampe en stote. Plek-plek is die erdewerk vol swart happe. Ook binne sodat die gebruiker nie altyd seker is of dit ‘n vlieg op die bodem is nie. Die “Geseënde Kersfees” is net onontsyferbare hierogliewe. Die ou se beste dae is agter die rug.


Wat van ‘n spoggerige nuwe beker, wonder ek, sommer dan ook ietwat groter vir ‘n groter volume water wat langer sal hou as my nagdorste my pak?


Vandag kyk ek my beker so. Biedêm, besluit ek toe. Hy’s oud maar hy het karakter en hy’t ‘n geskiedenis. Hy bly net waar hy is. Daar is mos plek vir sentiment ook in die lewe!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page