- Uitmelkbos
PROFESSOR GROOTLIEG
Vir die Saterdagbylae By skryf ek nie meer briewe nie. Soos ‘n donkie nie sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie, nooi hierdie gryse koerantman van weleer nie dieselde By om hom twee keer te steek nie.
Dis mos gewoon dom om jou soos ‘n lam ter slagting beskikbaar te stel om uit kwaadwilligheid, onkunde, kwaadwillige onkunde of onkundige kwaadwilligheid getrap te word!
As ek wel nog vir daardie publikasie briewe sou geskryf het, sou ek iets van die hart wou kry na aanleiding van Sandra Troskie se Bysaak vanoggend (Saterdag 4 September) oor “Seks, skandes en mag”, en die onsin wat ‘n sogenaamde “gerespekteerde” akademikus – “een van die mees gerespekteerde” op die kampus – “aan ‘n groepie jong en ontvanklike siele meegedeel het”, soos sy dit stel.
Troskie is duidelik ietwat ongemaklik oor die sappige brokkie dat die moord op dr. H.F. Verwoerd “deur sy eie kabinet georkestreer” sou gewees het. Sy noem dit – in selfverdediging? – ‘n “stukkie sensasionele skindernuus” en ‘n “wilde aanspraak”.
Al bevraagteken sy die “waarheidsaanspraak” sien sy tog kans om sito-sito ‘n growwe versinsel te versprei en haar bron die weelde van identiteitloosheid te gun. Hoekom so gulhartig, Sandra?
Om nie daardie “kleurryke persoonlikheid” (nog een van haar beskrywings van Professor Grootlieg) verantwoordbaar te maak vir sy misleiding van studente met roekelose historiese onjuisthede nie, vind hierdie waarnemer nie besonder heuglik of hoogstaande akademies nie, jammer. Trouens, Troskie kan gerus maar oor die akademiese en morele meriete van sulke wolhaar-skrywes gaan besin.
As sy uit respek, kollegiale lojaliteit, verleentheid of om watter ander beweegrede ookal, nie geroepe voel om die geleerde se masker af te haal nie, sal hy hopelik manmoedig genoeg wees om dit self te doen.
‘n “Gerespekteerde akademikus” is tog nie skaam om in die openbaar pa te staan vir die “waarheid” wat hy in ‘n beskermde akademiese omgewing aan jong grootoog-kollegas en weerlose studente kwytraak nie.
Of is die “waarheid” dalk in hierdie bedenklike geval te “kleurryk” om vaderskap daarvan te erken?