top of page
  • Izak de Vries

Pornografie of erotiek?

Ek tob nou al ’n hele ruk oor die verskil, indien enige, tussen die erotiek en pornografie.

Vir mý is die verskil taamlik duidelik: Pornografie is enkelvlakkig, en dis dood eenvoudig ingestel op die kortstondige bevrediging van behoeftes.

Erotiek is veel meer. Erotiek vra vrae, dit bevredig nie altyd nie, dit laat soms selfs die leser met ’n prikkelende sin van onvergenoegdheid.

Erotiek transendeer dus seks.

Ek wil julle verwys na Maangodin, of te wel Annelise, se heerlike Maanvrug. Dié van julle wat die teks al gelees het, sal weet dat dit allerlei vrae vra oor die soort godsdienstige wêreld waarin ons grootgeword het. Maanvrug daag uit. Dit laat die leser ongetwyfeld na binne kyk. Baie van ons het groot geword met die waardes wat gedeel word deur die hoofkarakters in Maanvrug.

Maar, en hier is die wonderlike polariteit in Maanvrug: Die hoofkarakter is gefrustreerd, en sy droom allerlei koorsagtige drome oor die wildste, en soms selfs gewelddadigste seks. En dis hiér, in hierdie drome, waar ek voel die teks glip soomloos oor in die pornografiese “quick fix”.

Is Maanvrug dus pornografies? Geensins. Bevat Maanvrug pornografiese passasies? Ek dink beslis so.

Die mooiste voorbeeld van die onderskeiding tussen hierdie twee wêrelde is die volgende: In die droomwêreld is daar geen kondome nie, geen wroegings nie en geen harde woorde tussen die getroudes oor hierdie wilde seks nie. In die roman se “werklikheid” ís daar kondome, daar ís spanning, woede en baie angs. Kortom, een van die goed wat Maanvrug baie mooi toon, is dat die liefde sigself nié laat vaspen in die klein, guitige verbeeldingsvlugte van ’n gefrustreerde geliefde nie.

Dus? Ek kan vele ander voorbeelde noem, maar ek het juis by Maanvrug begin omdat die spel so maklik verduidelik kan word in Annelise se boek.

Pornografie is dus nie per se sleg nie. Dit is ook nie (noodwendig) ’n waarde-oordeel nie. Ek dink Fanny Hill, or Memoirs of a Woman of Pleasure, deur John Cleland, ís pornografie. Elke cliché word ondersoek en mee gefoeter. Dit is egter ook ’n wonderlike boek wat verdien om gelees te word. (Ek het dit al vir vriendinne geleen wat dit tot hulle tone geniet het.)

Is Kennis van die aand pornografies, soos in my jeug beweer is? Nee. Dis ’n keiharde boek oor menslike verhoudings. En seks is déél van daardie verhoudings.

En Magersfontein, o Magersfontein? O, genade nee. Ek het dit in standerd agt gelees en kon glad nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie. (Die boek was toe nog verban.) Ek het veel erger goed in Wilbur Smith, Hammond Innes en Dick Francis gelees.

Maar, kom ons gaan kyk na Henry and June, daardie pragfliek deur Philip Kaufman oor Anaïs Nin se dagboek: Dis wonderlik. Dis hartseer. Dit ondersoek soveel vlakke van die liefde, ook die seerkry van die liefde. Die ontstellendste deel van die fliek is egter die begin. Daar waar haar uitgewer haar eenvoudig opeis, net omdat sy erotiek skryf. Niemand kla daaroor nie. Hulle kla wél oor die feit dat Henry en Anaïs op mekaar verlief raak.

In Se, jie (of Lust, Caution soos dit in Engelse lande verskyn het), deur Ang Lee, is daar ’n afgryslike scène waar Yee die jonge Wang Jiazhi aanrand, en basies verkrag. Dit is veral ontstellend omdat dit kom na ’n uur van sieldodende niks.

Pornografie? Daardie stukkie dalk, want dit was suiwer manlike varklikheid. Hard core, dus? Ek dink so. En die fliek? Kyk dit, dis een van die ontstellendste liefdesverhale wat jy nog gesien het, gebaseer op ’n verhaal deur ’n vrou geskryf. Dis wonderlike fliek wat ek sterk aanbeveel.

En so kan ek aangaan.

Ek dink egter WWF Smackdown moet ’n 2-18 ouderdomsberking kry en verban word tot middernag. Dís nou ontstellende, gewelddadige snert. En dit leer kinders totaal verkeerde waardes.

Ek weier dat my seun dié gemors kyk.

Wanneer hy egter my boekery gaan begin invaar aanvaar (wat reeds begin gebeur, al lees hy nog prentjies), sal daar nie ’n enkele boek wees wat ek sal verbied nie.

Wonder wat julle dink?

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page