top of page
  • Uitmelkbos

Politiek kom en gaan, maar lekkerlees hou vir altyd aan

Fransjohan Pretorius bespreek Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid, deur Albert Blake. (Boeke24) Sedert Gert van der Westhuizen se bespreking van hierdie boeke verlede week in Rapport verskyn het, het baie gebeur: Rhodes se standbeeld is weggevoer na ’n pakhuis, en ’n hele nasionale diskoers oor beelde, geskiedenis en die verering van die helde van weleer het ontstaan. Die dogter van ’n berugte sniksanger het haarself aan een van die beelde op Kerkplein gaan vasketting, bygestaan deur ’n gewilde ateïs. Ek vermoed Fransjohan Pretorius het sy resensie geskryf voordat die konteks so radikaal verander het. Dit is nietemin interessant om sy beskring van Ontsnap! binne die nuwe intellektuele klimaat wat deur die veranderende konteks teweeg gebring is, te lees. Gelukkig is Pretorius iemand wat sy resensies vir alle seisoene skryf. Dit gaan om die bewaring van historiese inligting, en die ontginning van bestaande bronne vir herbenutting in boeke soos hierdie. Om dit in terme van die vermaledyde Rhodes-beeld te stel – Pretorius mag miskien nie ooghare vir Rhodes hê nie, maar hy weet hoekom die beeld daar was. Net omdat die Boere-krygsgevangenes wat probeer ontsnap het deel was van ’n magstryd van kolonialiseerders, beteken dit nie dat ons hul heldedade moet verswyg of igoreer nie. Trouens, sê Pretorius, hierdie boek lees só lekker dit is eintlik goeie ontvlugting. Daai laaste woord spook …

Jan-Jan Joubert resenseer Kaapstad se ‘Streetgate’, deur Johan C. Moll. (Boeke24) Ook hierdie resensie adem ander asem ná die wegvoering van die Rhodes-beeld. Dit handel oor die keer toe Pieter Marais uit die stoel van Kaapstad se burgemeester besluit het om Adderley- en Waal-strate te hernoem, na FW de Klerk en Nelson Mandela. Joubert merk tereg op dat die boek aantoon hoe hoog die prys is wat betaal word vir politieke kleinlikheid en oneerlikheid. Die resensie sou aan interessantheid gewen het as hy meer uitgebrei het oor die rol wat hierdie insident gespeel het in die “oneervolle aard” van die Nasionale Party se ondergang. Joubert het een pragtig geformuleerde paragraaf (“Vandaar vertel hy ’n politieke spanningsverhaal wat setel in egoïsme, opportunisme, beginselvastheid, beginselloosheid en die kernstryd tussen liberale waardepolitiek en nasionalistiese be­langepolitiek.”) waarby hy moontlik ’n paar name kon gevoeg het. Ek is seker Moll draai nie doekies om nie, maar in ’n resensie soos hierdie is dit soms waarna die koerantleser soek – die idee van “name them and shame them”.

Riaan Grobler bespreek Kodenaam Icarus, deur Henk Breytenbach. (Boeke24) Moet ’n resensent ’n debutant met satynhandskoene benader? Hom ligkens streel en mooi mik op die pad na sy volgende boek? Verkieslik ja, sou ek sê – behalwe in gevalle waar die skrywer baat sal vind by brutale eerlikheid. Grobler het laasgenoemde strategie vir sy resensie gekies, en die enigste afleiding wat ’n mens kan maak, is dat hy reg gekies het. Dit is goed om te erken dat die skrywer, Henk Breytenbach, ’n tematiese hoek gekies het wat uniek is, maar dan noem Grobler ’n paar dinge wat belangrik is vir die skrywer om ter harte te neem – vir eers dat sy skryfstyl geforseerd aandoen, ten tweede dat dinge té dikwels ongeloofwaardig is, en ten derde dat hy nie baie oorspronklik is met sy slimmighede en kwinkslae nie. Voeg daarby slordige werk deur die uitgewer, en dis maklik om die resensent se negatiewe besluit te verstaan.

JB Roux bespreek Kodenaam Icarus, deur Henk Breytenbach. (Rapport Boeke). Roux takel die roman en die uitgewer met ’n klompie baie pertinente opmerkings. Dit is die soort opmerkings wat resensente net maak wanneer hulle weet hulle sou, indien vereis, ’n groot aantal voorbeelde kan voorlê om daardie opmerkings te staaf. Die vraag wat mens jouself afvra, is uiteraard of só ’n situasie ooit sal ontstaan. In hierdie geval sal dit waarskynlik nooit nodig word nie – Roux en Boeke24 se resensent, Riaan Grobler, is eensgesind in hul punte van kritiek. Die waarskynlikheid dat ’n ander resensent dit anders sal bevind, is skraal. Ek sal LitNet se resensiewerf dophou.

Lona Gericke skryf oor Bambaduze, deur Derick van der Walt. (RapportBoeke) Gericke het reg, Derick van der Walt kan ’n storie vertel. Dis net nie nodig dat die resensent dit té uitvoerig herhaal nie. Gericke kom tot die nippertjie van oordaad, maar gelukkig besef sy presies waar die punt is wat ’n koerantleser genoeg inligting het om die volgende stap te kan neem.

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page