top of page
  • Uitmelkbos

POENSKOPPE, POEIER EN PARRASLAGTERS


By die ingang was ‘n kenteken soos ‘n gedraaide reuse-suigstokkie van rooi, blou en wit. Binne het die reuk van naskeermiddels en Dettol gehang.  Die enorme stoele was van dik blink chroom of ornaat uit hout gekerf. Die bultende sitplekke was van egte leer. Van hulle kon draai, swaai en kantel soos ‘n hiper-moderne tandartsgevaarte.

 Teen die mure was spieëls en Bryclreem-advertensies. Op ‘n verskeidenheid rakkies was ronde bottels gerangskik; gevul met ‘n melkerige wit vloeistof  waarin ‘n verskeidenheid kamme, skêre en  parraslagters pryk. Rondom was kwassies, poeier en ander parefarnalia.

 In ‘n ry het kordate barbiere flink met hul skêre geknip-knip of met elektriese skeermesse zoei-zoei-zoei die hare laat waai. In party stoele was manne met die skeerseep wit om hul kiewe.  Net ‘n paar vinnige hale van so ‘n parraslagter en die wange was blinkglad onder die elektriese lig.


 “Finweek” van 23 Mei vertel van die “manneding” van daardie dae: om jou hare (of baard) by ‘n regte, egte mansbarbier te laat knip.  Elke aand op 7de Laan op SABC 2 sien ons nog vlietend so ‘n plek, die Scala.  Op Melkbos is ook nog  ‘n ouderwetse manshaarkapper.  Maar hulle word relieke.

 Deesdae is ‘n hareplek mos  ‘n deurmekaarbesigheid met in jou buurstoel dalk ‘n vrou met ‘n kop soos krismis-koekstruif.  Maar ek weet nie eintlik veel van die nuwe harekultuur nie. Tokkie is my persoonlike barbier van dag een van ons huwelik af. Sy is ‘n veteraan van 46 jaar.

 Voor haar het my studente- en later woonstelmaat Piet Theron gesorg dat Van Deventer se ramkat-kuif spoggerig vertoon en die nekhare nie oor die boordjie hang nie. Ek dink Piet het in die laat jare 50 ‘n halfkroon (25c) vir ‘n sny verdien.  Piet Theron en Brylcreem – onoortreflike kombinasie. Hy is op sy oudag ‘n uithaler-boomsnoeier. Dit is geen verrassing nie. 

 Op Volkies het ene Hennie de Bruin, ‘n standerd agter my, sy sakgeld op skoolmaats se koppe verdien.  Ek het hom my een keer in ‘n avontuurlike bui poenskop laat sny. My meisie het die Saterdagaand sigbaar gegril vir die onvleiende kontoere van die ontblote Van D-skedel. 

 Maar “Finweek” draai die horlosie vir my verder terug as selfs my dae op Volkies.  Dit vat my na my pre-tienerjare, die jare 40 inKimberley.  Ma Baby sleep die onwillige Hennie al remmende na die haarkapper naby die stasie.  Die man sit ‘n plank oor die leunings van sy stoel om my kop beter by te kom, en bind ‘n wit lap so groot soos ‘n halwe laken styf om my nek.  


 Vir ‘n sjieling en ‘n sikspens (15c) word jou boskasie gesnoei: borselkop of “short back en sides”.  Die bruin hare val in slierte op die wit lap en van die lap weer op die grond waar ‘n gretige vakleerling met ‘n besem soos ‘n valk op elke nuwe vlagie toesak.

 As die barbier klaar is, staan hy, klaarblyklik ingenome met sy handewerk, ‘n treetjie tru. Jy word ‘n vergulde spieëltjie in die hand gestop, jou nek gepoeier en ‘n suigstokkie aangebied – in voorkoms feitlik identies aan die paal by sy deur.  Volgens party bronne is die suigstokkie-tradisie die oorsprong van die paal voor die winkel. Maar dit kan andersom ook wees.  

 Haarkappers was meesal besig. Soms moes jy geruime tyd jou beurt afwag. In die tydskrifte was gelukkig advertensies van al die begeerlike nuwe motormodelle van daardie tyd: Studebakers, Pontiacs, Oldsmobiles, Mercurys en Packards. 

 Uiteindelik was alles die moeite werd – ook die wag en die pynlike bloedblertsies hier en daar teen jou vel.  Van jou klasmaats, arme goed, se hare is tuis gesny. Almal se ma’s was nie Tokkies nie. Party se koppe was bra happerig – in sulke trappies sodat dit gelyk het of mamma ‘n kommetjie daarop omgekeer en dan al om die rand gesny het. Dalk nog met ‘n stomp skêr.  Eina.

Naskrif: Net een keer was ek met Tokkie opstêrs oor my hare.  Was al ná my aftrede hier op Melkbos.  Ek wou die grys kroon korter, korter, korter hê. Sy het vasgeskop. Ek is vort na ‘n salon van ‘n vrou wat glo haar storie ken.  Die spulletjie kos my R60 of meer. Toe ek met my ge-jelde,  regop kuifie by die huis kom, het mev. Van D. vrolik gegiggel.  Dit was die einde van daardie persoonlike UDI.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page