top of page
  • Uitmelkbos

PLUS 50, WAAR’S JY?

Tien dae lank soek ek die Kaap plat na die tydskrif vir seniors, Plus 50, wat blykbaar opgeraap word (is daar regtig soveel “ou” mense?) of onvoldoende op die rakke kom (opskud, bemarkers!)

Ek was by Pick n Pays, Spar-re, Seven Elevens en Shoprites van Darling tot Blouberg, Welgemoed tot Oude Wetshof – vergeefs. Vanoggend kry Tokkie einde ten laaste ene by die CNA in die Tygervalleisentrum. Ek kon haar soen toe sy met die CNA-sakkie by die motor aankom. Hoekom dié soektog? Noem dit ydelheid, nuuskierigheid, verveeldheid of wat, maar in my grysheid het n vreemde “gier” my beetgepak. As ek deesdae hoor dat iemand iewers iets oor my en myne kwytgeraak het, wil ek dadelik weet wat. Ek vat die spoor terstond en los dit nie sommer nie.

Wat my op Plus 50 se spoor gesit het, was ‘n wenk van my vriend Herman le Roux van Randburg: in die nuwe Plus 50 is ‘n resensie oor “Byl in my bos”. Meer wou hy nie verklap nie as dat die resensent prof. Jan Bekker is (ken hom nie) en dat hy (Herman) dink ek sal nogal daarvan hou.

Nou-ja, Herman was nie verkeerd nie. Ek is prof. Bekker dank verskuldig vir sy vriendelike stukkie.

Nadat ek enkele weke gelede Martie Retief Meiring se resensie in Die Burger hier herhaal het, sal ek hopelik nie verkwalik word nie as ek dieselfde met prof. Jan Bekker s’n doen.

Byl in my bos deur Hennie van Deventer

Resensie: prof. Jan Bekker

Die skrywer het n lang loopbaan as joernalis, en later as redakteur van Die Volksblad en koerantehoof van Naspers gehad. Hierdie boek van hom bestaan uit anekdotes oor ‘n wye verskeidenheid mense wat sy pad gekruis het. Met die titel Byl in My Bos sê hy dit gaan oor mense wat uit die bos van sy lewe gekap is. Hulle is politici, vooraanstaande mense, maar ook familielede, bloot vriende en kennisse wat hom vooruitgegaan het. Dit is nogal aandoenlik dat hy elke skets afsluit met die presiese datum waarop elkeen heengegaan het – baie van hulle is sommer onlangs oorlede.

Sommiges oor wie hy skryf, was so prominent in die openbare lewe dat hulle volksbesit was. Die joernaliste en redakteurs het destyds bekendes geword, hulle was nie gesigloos nie. Hulle het met ons gepraat. In n lekker verteltrant deel die skrywer met ons interessanthede wat hy van dié mense weet of te hore gekom het. Dit, tesame met die groot aantal foto’s, laat hulle weer in die leser se herinnering leef.

Met hierdie boek plaas die skrywer sy eie lewe in perspektief: dis die mense met wie hy gelewe, saamgewerk en geworstel het. Hulle het sy lewe help maak. Nou is hulle nie meer daar nie, en dit laat ‘n onbeskryflike leemte. Die skrywer se goedhartigheid is ook merkwaardig. Daar is geen snydende kommentaar – geen veroordeling nie. Soms met humor, soms net met goeie stories, roep hy insidente op wat die mense aan ons voorstel.

Lees gerus die boek. Griffel Media, 2009. R160

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page