top of page
  • Uitmelkbos

PLASE IN HUL PEETJIE


Afgetakel en vervalle is die opstal op die spogplaas van Herman Louw van Komatipoort, digby, die gewilde Laeveldse vakansieplekke Marlothpark en Ngwenya Lodge, op foto’s wat die afgelope ruk op die internet rondgeblits is.

By my het daardie foto’s minstens tien keer opgedaag, van vriende op o.m. Mtunzini in Kwazulu-Natal, Stilbaai in die Suid-Kaap en Yzerfontein aan die Weskus. Woord soos “hartverskeurend” en “tragies” word gebruik om die agteruitgang te beskryf.

Herman Louw se plaas was ‘n sitruplaas, suikerplaas en piesangplaas – geil en groen. Toe verkoop Herman dit drie jaar gelede aan die Regering. Nou’s dit barre niks – tuine is tot niet, die boerdery het tot stilstand geknars, die geboue is gestroop.

Natuurlik is dit geen geisoleerde geval nie. In die media duik verpletterende voorbeelde van mislukte grondhervorming gereeld op, byvoorbeeld die teeplantasie by Letsitele wat tot niet is. Die fabriek het padgegee na Kenia. Nou voer ons dieselfde tee daarvandaan in!

Ek voel dié dinge ook (al is dit onregstreeks) aan my eie bas. Van my vriend Piet Henning (nou op Louis Trichardt), wat by Chiredzi in Zimbabwe in wanhoop moes aanskou hoe sy reuse-boerdery uitgeroei word, kry ek van tyd tot tyd eerstehandse verslae. Langs Sabiepark lê die Lisbon-landgoed waar ek nie eens verby wil ry nie. Die vrekkende boorde en die gesing van treksae soos die hout herwin word vir vuurmaakhopies maak jou siek.

Wat die Komatipoort-fiasko die trefkrag van ‘n dubbele hamerhou gee, is die aard van die foto’s: voor en ná uit naastenby dieselfde hoek. Die verval word grafies uitgebeeld, Op die laaste foto is die dop van die opstal uit ‘n helikopter – voorspelbaar dakloos. Die nuwe foto’s het Herman geneem toe die gesin onlangs die halfeeufees van hul gemeente gaan bywoon het.

Volgens Herman was die aanskoue van sy plaas se lot die hartseerste dag van hul lewe. Al die hulpbronne is opgeleef. Die begunstigdes doen absoluut niks om die plaas te bewerk nie. Hulle plak nou in klein kaias, aanmekaargetimmer uit die sink van die huis se dak en ander boumateriaal wat gestroop is. Herstel van produktiwiteit, indien hoegenaamd moontlik, sal jare duur.

“Kan jy dink hoe voel ons oor die Regering?” vra Herman. Ja, as ‘n mens in hul harte kon kyk, sal jy seker skrik.

Die buurpark Marlothpark se mense, weet ek, hou self hart vas, want in die middel van Marloth, op die rivier, is die Maritzplase wat ook in ander hande is. Marloth-eienaars sê vir my hulle wag maar almal dat die bom ook daar gaan bars – dit is waarom die misdaad by Matloth ook so moeilik is om onder beheer te hou (Dit is waar die skrywer Pieter Pieterse vermoor is.)

Hoe treurig dit presies in Lisbon-landgoed, langs Sabiepark, gaan, weet ‘n mens nie, want die paaie is so verspoel jy kan nie daar inry om van naderby te gaan kyk nie. Maar wat jy van ver sien, is erg, erg, erg. Op die murasietjie van die gewese netjiese Lisbon-padstal het iemand met spuitverf groot die volgende graffiti aangebring: “Nog ‘n plaas in sy moer”. Jy verstaan die boodskap goed wat onelegant maar met trefkrag oorgedra word

Waarby ek eintlik wil kom, is ‘n onheilsprentjie wat ‘n vriend van Kwazulu-Natal skets. Na aanleiding van die Komatipoort-foto’s laat weet hy ‘n vriend van hom werk al jare met plaaslike Zoeloekapteins. Verlede week spog een dat al die plase in die Empangeni-omgewing in “grondeise” teruggevat gaan word. Dan gaan alle gelos word om te vergaan met geen verdere boerdery nie.

“Hoekom?” wou die vriend se vriend weet. ” Wel, jy sien, ons wil net die grond terugkry. Die wittes moet net weg.”

“Waarvan gaan julle leef?” vra hy.

“Wel, jy sien, die mynbedrywighede gaan groot geld (tantieme?) vir ons almal bring sodat niemand ooit weer hoef te werk nie.”

Net sit en niks doen! Nooit weer werk nie! Lotusland! Kan dit waar wees!

Ek e-pos vir Piet Henning dit klink vir my ongelukkig “onheilspellend geloofwaardig”

Piet laat weet terug: “Ek ys behoorlik. Nie skrik nie, maar ys.

“Onheilspellend geloofwaardig? Ja, dit is inderdaad wat ek ook glo. Nie dat die Zoeloekaptein se voorspelling oral of selfs in ‘n beperkte mate SAL gebeur nie, maar dat dit KAN. ”

Ai tog, kom ons hoop maar die Bokke wen môre!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page