top of page
  • Uitmelkbos

PIKKEWYNOORD 11


Ek woon in ‘n oord. Nie dat ons stil-stil na ‘n plek van versorging verhuis het nie. Maar dit is wat ek in Doendinge vir Afrikaans, nuusbrief van die Vriende van Afrikaans, lees. Ons straat is ‘n place, en volgens dr. John Pauw is ‘n place in Afrikaans ‘n oord.

Dr. Pauw verskaf die volgende lysie van al die verskillende benamings vir strate:

Lane – steeg

Avenue – laan

Alley – allee

Street – straat

Place – oord

Way – weg

Walk – deurloop

Crescent – single

Highway – hoofweg, deurpad

Drive – rylaan

Close – slot

Walk – laan

Wat ek mis op die Pauw-lys is onder meer boulevard, parade en grove.

Hollywood het sy beroemde Sunset Boulevard (wat sou Charlize Theron dit by die huis noem?), Melkbos het ‘n Pelican Parade (word alewig met Penguin Place verwar) en in Durban was ons adres in my kinderdae Botanic Grove 9 (al bome wat ek kan onthou, was ‘n paar papajabome hier en daar, maar die twee rye huise is wel geskei deur ‘n yslike stuk, heerlike gras).

Vraag een in hierdie onbegrypende gemoed is hoekom onder die son soveel betitelings vir ‘n doodgewone straat bestaan? Omdat “variety”die “spice of life” is, soos die Engelse sê?

Dat ‘n singel (crescent) ‘n ander soort straat as die gewone is, begryp ek. ‘n Regmerkie dus vir daardie naam. Maar – en nou is ek nie moedswillig nie – naas onse Penguin Place op Melkbos is ‘n Strandstraat wat in die praktyk ‘n singel is, en tog nie ‘n singel genoem word nie. Wie het so besluit en hoekom?

Wat Penguin Place betref:

‘n Mens wil graag suiwer Afrikaans besig. As ek skielik sou meedeel ek woon in Pikkewynoord sal Melkbossers my seker skeef aankyk. Klink Simonstatterig, of Bettysbaaierig, of Robbeneilanderig. Maar Melkbosserig?

Baie ouens soek hulle nou al gedaan na ‘n kompleks as hulle hoor van Penguin Place 11. Pikkewynoord 11 gaan hulle bepaald helemaal in die bed sit.

Nou vra hierdie Boertjie raad, asseblief: moet ek of moet ek nie? Moet ek my taal suiwerder probeer hou of moet ek maar voorstrompel op die pad waarop ek my bevind. Dis ene wat na Penguin Place lei, nie na Pikkewynoord nie.

Of, behoede my: woon ons perdalkies in Penguin-oord?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page