top of page
  • Uitmelkbos

PIEP-PIEP-PIEP, BUURMAN!

“Môre, buurman!” “Môre, buurman!” “Môre, buurman!”

Dit is oggend hier in ons klein hoekie van Melkbosstrand. Een ná die ander word die alarms in Penguin Place afgeskakel: piep-piep, piep-piep, piep-piep.

Ons “keep” nou “up with the Jones’s” deur te weet presies hoe laat hulle soggens opstaan. Die volgorde is in sement gegiet as ‘t ware. Dis eerste die Van Deventers, dan die ………………….., dan die ……… ….(wil nie op die laatslapers se tone trap nie!)

“Ecquid novi? ” het die ou Romeine mekaar doerie tyd op die markplein begroet: “ Wat’s nuut?”

Wat’s nuut inderdaad! Nee, ek weet elders in die land (nie net in Gauteng nie!) is hierdie oggendkoor van piep-piep-pieps lankal algemeen. By ons is dit nog nuut en vreemd.

Melkbos loop nog voor onder die hawes van misdaadvryheid, soos die jongste polisie-statistieke weer wys. Ons is dankbaar. Stadig maar seker slaan veral enkel-inbrekers egter, helaas, hul kloue ook in ons idilliese dorpie in.

Die huisalarms word meer; die diverse “armed responses” se klandisie neem toe, soos mense – onder wie minstens twee nabye bure – kragtige alarms ryker word. Die oggendkoor neem toe in omvang en volume.

Eintlik skryf ek nie om my oor dié verskynsel van ons tyd te verknies nie. Ek rapporteer graag dat vir my nogal iets geselligs in die oor-en-weer ”môre-sê-ery” opgesluit is. Met die piep-piep-pieps kommunikeer ons hier in ons straatjie aan mekaar: “Alles wel hier by ons, dankie.”

Dit kwel ietwat dat ‘n ondernemende aspirant-inbnreker ook die kodes sal kan ontsyfer, en kan uitwerk wie slaap nog en wie nie. Maar laat ons nou nie slapende honde wakker maak nie.

Pirow Bekker se “Ek het ‘n huisie aan die Rand”, is ‘n jaar of drie gelede bestempel as een van die beste nuwe versetgedigte in Afrikaans. Bekker, ‘n oud-kollega by Die Volksblad, speel daarin in op Fagan se “Ek het ‘n huisie by die see”, wat deur Laurika Rauch gewild gemaak is.

Dié gedig sluit só: “Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag. Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag”

Briljant, briljant!

Mag ek ‘n (minder briljante!) persoonlike “parodie” op Pirow se poging uit Melkbos aanbied?

Ek het ‘n huisie by die see, klipgooi van die Kaap. Hier verklap die piep-piep-pieps hoe laat die bure slaap

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page