top of page
  • Uitmelkbos

PIENK KLEINDING MET ‘N LOMP SLURPIE



Die werklik geboorte het ons nie gesien nie. Die “vroedvroue” soos Riette (Conradie) in haar magistrale “Aardwolf tot Ystervark” die hulpvaardige ander koeie noem, het om die mamma kringetjie gemaak soos rugbyspelers destyds om ‘n spanmaat wat sy broek verloor het.

Toe ons gewaar, lê die pienk wesentjie op die sandbank in die Sabierivier, iewat oos van die piekniekplek en net buite bereik van ons kameras. Drie olifante staan met hul rug Wildtuin se kant toe en nog twee skerm die kleintjie af van Sabiepark se kant. Eersgenoemde drie stoot-stoot liggies aan die nuwe aankomeling met swaaiende slurpe. Laasgenoemde twee kyk anderpad.

Die kleintjie beur en beur maar kry nie opgestaan nie. Die koddige lomp slurpie werskaf in die lug. Die situasie wil-wil reddeloos lyk. Toe verskyn ‘n ridder op ‘n wit perd in die vorm van ‘n opgeskote olifantjie van seker ‘n jaar of wat. Boeties en sussies word soms saamgeneem vir ‘n olifantgeboorte, lees ek ook in “Aardwolf”.

 Boetie of sussie – hoe sal ‘n mens nou weet by ‘n klein olifantjie, terwyl jy die verskil skaars by grotes kan agterkom? – gaan lê op die sy styf teenaan die woelende baba, streel dié gerusstellend met die slurp en begin stadig, amper in vertraagde aksie, demonstreer hoe ‘n olifantjie sy/haar eerste opstaan moet opstaan.

 Die kop word opgelig, die voorste bene solied op die aarde geplant en die agterlyf daarna na bo  gebeur. Weer streel die slurp asof die boodskap oorgedra word: Maak jy jou presies net so.

Die ou kleintjie het mooi gekonsentreer op hierdie Olifante-trap-der-jeugd. Koppie op, voorbene solied neergesit, agterlyfie boontoe. Skote Petoors! Olifantjie staan sy/haar eerste staan terwyl die res van die span slurpswaaiend hul goedkeuring betoon.

 Die rivier vloei rustig voort Mosambiek toe. Nog ‘n natuurwonder het gekom en gegaan.

 Ons bespreek nog later op die voorstoep die wonderlikheid van wat ons daar by die piekniekplek aanskou het, toe peetkind Jaco van Wyk uitroep: ‘n Njala-tjie of iets.

 Nee najala kan dit nie wees nie, antwoord ek – geen njalas in Sabiepark nie. Maar op die oomblik sien ek die gestreepte bruin lyfie tussen die takke agter ons watergat. Onmiskenbaar ‘n njala-ooitjie!

 Ek sluip met die kamera om die huis en klik-klik-klik: een halwe njala-ooitjie na die ander. Toe stap sy uit die skaduwee na die voëlbad wat gelukkig vol water is. Beter kon sy skaars vir die daaropvolgende fotosessie poseer.

 Daardie foto’s is nog op my rekenaar. Sal dit later hier opsit. Wys intussen nog resente olifant- aktiwiteit by die piekniekplek. Maar die besoek van ‘n njala-ooitjie – nog ‘n onuitwisbare herinnering van Vrouedag 2013. En nog is dit het einde niet.

 Kort daarna pak die wolke donker saam, begin die weer al hoe dreigender rammel en stort die eerste druppels op die swembadseiltjie neer. Gou is dit net een reëngordyn –n tipiese somerse Laeveld-donderstorm, en dit op 9 Augustus.

 Gisteraand dreun ‘n kikvorskoor langs die Sabie en vanoggend wys my reënmeter 16mm. Absoluut oorstelpend. Die drolpeer en sambokpeul kan enige oomblik hul lentegewade aantrek – dalk nog voordat ons Vrydag ry. Hoop net die klein olifantjie het die “vuurdoop” goed deurstaan. 

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page