top of page
  • Uitmelkbos

PIENK “BLOOMERS”


Cas Jacobs, Pierre le Roux, HvD, Piet Theron en Flip Nel. Flip was ook in Kollege, net vroeer.

Elke keer as ‘n opskudding oor studentemanewales iewers ontstaan, gee my gedagtes ‘n sprong, na my geliefde Kollege-tehuis toe. As 1958-ienk in Kollege (toe nog op die Tukkiekampus) is ek nog behoorlik gedril. Meer as een generasies ienk het daarna, later ook in die nuwe Kollege op die proefplaas, onder my hande deurgeloop.

Herinneringe aan modderbaddens, die “pil”, “p”-paarties; ook intervarsities, jole, lentedae, serenades, “raids , kampusromanses, byeenkomste van die “bierklub” by Ta’ Bella en wat nog bly glashelder. Ek onthou deeglik hoe ons ienks in die winter van 1958 in ou Kollege se buite-toilette altyd die sitplek vir wyle Heystek van Rooyen moes gaan warm sit. Hy het gehou van “gerief” in die “geriefie”.

In my foto-album uit my studentedae is onder meer foto’s van die modderbad toe die ienks van 1958 onthef is. Heel prominent is Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler wat as Chick bekend was, omdat hy ons altyd moes aantree met die woorde: “Haai “Chick”-ellorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm. Hy is een van verskeie van die 1958-oes wat nie die ouderdom van 70 gehaal het nie.

Op ‘n raid-foto (Kollege teen Voortrekker op die grasperk voor die Ou Lettere) is die gewese skrumskakel van Noord-Transvaal, Natal, O.P. en S.W.D., Proppie Goosen, sonder ‘n draad. Sulke raid-foto’s was glo baie gewild onder die Asters vir informele anatomiese studies.

Cas Jacobs, Pierre le Roux en Piet Theron is tydgenote wat my 70 kom vier het. Ek en Cas het ‘n Sondagmiddag my 1953-model Peugeot 203, die Santa Maria, voor Asterhof gaan parkeer met ‘n karton waarop ons groot geskryf het: hoekie vir eensames. Teen die aand was ons nog eensaam.

Pierre is die een wat die opvolger van die Santa, my Fiat 500-stasiewa, die “Skoolbus” gedoop het. Party het daardie karretjie die “Grassnyer” genoem – hulle was dalk nader aan die kol.

Pierre en sy trawante het plesier daaraan gehad om die “Skoolbus” die trappe op te dra die

koshuis in, veral as dit by verleentheid op die romantiese vlak kon beteken.

Pierre – ek het hom “Leroeks” genoem – was een van drie informele “medewerkers” tot my nuwe boekie “Tamatiestraat”. Pierre is eintlik “mede-outeur”. Ons boekie is ‘n viering van ons vriendskap van meer as 50 jaar. Hy is ‘n gedugte storieverteller. Een van sy stories is oor die Namakwalandse windstilte. Koop, steel of leen die boek, maar lees daai storie oor Oom Eli en Ta’ Kotie en die windpomp wat so begin tsjierie-tsjierie-tsjierie …

By my verjaardag het hy die storie vertel van die magte en owerhede wat dwaaslik besluit het dat Kollege se onderskeidende kleur vir die iensksport van 1962 pienk sou wees. Vir die tradisionele HK-aflos (1 x 880, 1 x 440, 2 x 220) koop ons toe ‘n halfdosyn pienk 3X-“bloomers”. Ons betree die baan in ons kamerjaponne. Toe ons dit afstroop, dawer die menigte.

Ons het gewen, “bloomers” en al. Ek is eerste oor die wenstreep na die laaste 220. Ongeluklklig is die foto uit-fokus-rig. Die fotograaf kon blykbaar nie bybly by hierdie vetgesmeerde “bloemer”-draer nie.

Piet Theron, die beste haarkapper in Kollege op sy dag en n bruikbare senter, is ‘n oorgangsfiguur. Hy is saam Volksblad toe – die volgende fase in my lewe. Ons was woonstelmaats in Rambler’s View. Ons was nie altyd ad idem nie, maar ons was soos die egpaar wat nooit aan egskeiding gedink het nie, wel aan moord.

Een ding wat vir my in jonger dae steurend was, was Piet se groter welslae by die meisies (soms in mededinging met HvD). Agterna besef ek hulle moes snuf in die neus gehad het hoe hy en ek onderskeidelik sou verouder. Hy lyk jonger en skraler, al is hy ouer. Hy is ook ‘n jintelman van die eerste water. Nie dat ek nie hard probeer om ook een te wees nie.

Volgende: Bloemfontein, eerste skof

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page