top of page
  • Uitmelkbos

Piekniek by Hlanguleni


Vertel ons meer van Hlanguleni. Ek voldoen graag vandag aan daardie versoek wat ontvang is n.a.v. die blog oor Skukuza en die lysie van vyf in die tydskrif Weg wat vir die uwe n nuwe verkyker besorg het. Ek hou nog die pos vir my Pentax Sports Optic dop …


‘n Piekniek-ontbyt by Hlanguleni – dis nou Wildtuin met ‘n hoofletter W. As jy dit gelukkig tref, is jy dalk stoksiel-alleen. Moontlik baljaar olifante in die pannetjie oorkant die lae heining terwyl die geur van die roergereg in die skottel talmend met die natuurlike geure van die ongerepte Bosveld begin meeding

Nhlanguleni is afgesonder, stil, aards – eintlik primitief. Los maar jou selfoon in jou motor se paneelkissie. Die enigste sein – en dis bra floutjies – is as die foon doodstil met presies die regte hoek in ‘n halwe beker staan gemaak word onder die wellewende, mank opsigter se afdakkie.

Nhlanguleni het ons ontdek ná die sterk aanbeveling van ‘n amptenaar van die gewese Parkeraad se vrou. “Dit is waarheen ons Parkeraadmense altyd gaan. Dis nie juis op ‘n toeristeroete nie,” het sy verklap. Die eerste besoek was ver van die laaste!

Buiten dat Nhlanguleni so ongerep is – waarlik “unspoilt by human hands!” – het ons al op pad daarheen van die beste leeu-, buffel- en olifanttonele gesien.

Die skilderagtige Lugmagdam net voor jy Nhlanguleni bereik, is uit ‘n wildoogpunt ‘n Wildtuindam sonder weerga. Groot samedrommings sebras, waterbokke, blouwildebeeste, rooibokkies en seekoeie kom konstant voor. As jy gelukkig is, kry jy kameelperde, koedoes en buffels op die koop toe. Die Vyf Grotes is almal iewers daar rond.

Verskeie ander damme op die roete lewer gereeld verrassings en mooi foto’s.

Hoe kom jy daar? Ry van Skukuza noordwaarts Tshokwane toe. Draai links af na die Mantimahledam. Bly dan op die grondpad verby N’watindlopfu, Jones se Dam en die Manzimhlophe-dam. Mik noordwaarts. Dit is die S36, die Nhlangulenipad. Ná so 30 km sien jy die piekniekplek (aan die linkerkant) se watertenk.

Die natuur in daardie geweste is nie waffers nie, mar kanse is dat net een of twee ander motors – of geen – die bosatmosfeer daar met jou deel. Safarivoertuie vol buitelandse toeriste kom nie juis in groot getalle daardie wêreld nie. Van ‘n groepie Japanners het ek egter daar die spoor gekry. De bedremmelde hekwag het raad gevra met die hopie jen wat hy as fooitjie in die hand gestop is.

1 view

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page