top of page
  • Uitmelkbos

PERS EN POLITIEK : ‘N TERUGBLIK

Wyse woorde van die hoogs bekroonde historikus Herman Giliomee in vandag se Weekliks in Rapport: “Die belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis (is) om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel.”

Amper 30 jaar gelede, op 5 Julie 1989, het pres, P.W. Botha in sy bastion, Tuynhuis, die ANC-leier, Nelson Mandela – fier en statig in ‘n splinternuwe blou dubbelborspak – verrassend hartlik ontvang. Ondanks alle vorige protestasies en kwalifikasies – die ANC-leier se afswering van geweld onder meer – het die Nasionale Party-leier begin praat met die ANC.

Presies dit – praat met die ANC – het Ton Vosloo, redakteur van Beeld, in Januarie 1981 voorgestel; agt jaar voor die ontmoeting in Tuynhuys, sewe jaar voordat Niël Barnard, hoof van Nasionale Intelligensie, se eerste, aanknopende gesprek met Mandela in Pollsmoor, en amper ‘n dekade voordat die internasionale ikoon op Sondag 11 Februarie 1990 as aanstaande president uit die Victor Verster-gevangenis sou stap.

Vosloo se baanbrekende kopskuif het Botha destyds met afgryse laat sidder. Hierdie verrassende oproep uit die binnekring van konvensionele Afrikanerdom het my, wat een van sy adjudante was, self ietwat onkant gevang, moet ek bely. Later sou ek telkens weer daaroor wonder: Hoe sou die geskiedenis kon verloop het as vroeër na Vosloo geluister is? Kon ‘n paar vrugbare jare nie daardeur gewen word nie?

Agterna gesien, is dit klinkklaar duidelik dat Vosloo geen skielike bevlieging gekry het nie. Sy profetiese visie was die manifestasie van ‘n nuwe realisme wat al geruime tyd by verligte redakteurs en hul koerante ontkiem het. Wat die oproep wel was, was ‘n soort waterskeiding. Asof deur ‘n onsigbare krag aangedrewe, het koerante soos Beeld, Die Burger en Die Volksblad daarna al hoe sterker die pas begin aangee in ‘n uitbreidende soektog na geregtigheid, menswaardigheid, versoening, verandering en hervorming.

‘n Gedugte arsenaal ideologiese wette het nog die toekomspad versper. Bewysbaar uit koerant-argiewe, het die drie Afrikaanse dagblaaie in die Naspers-stal – twee van hulle, Die Burger en Die Volksblad, nogal amptelike mondstukke van die NP – egter in gelid met hul Sondag-suster, Rapport, dit konsekwent en toenemend hul taak gemaak om hierdie ideologiese koevoete te identifiseer, te bevraagteken te help begrawe.

En gee hom die eer: dr. Wimpie de Klerk, redakteur van Die Transvaler, die noordelike mondstuk van die party, het in hierdie opsig, in selfs dalk nog moeiliker omstandighede as sy kollegas van die Nasionale Pers, ook sy kant gebring.

Al van die tweede helte van die 70’s af, maar veral in die 80’s , is die onhoudbaarheid van allerlei arbeidswette, veiligheidswette, maatskaplike wette soos die sogenaamde Ontugwet, die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike en, les bes, daardie hoeksteenwet van apartheid, die Wet op Groepsgebiede, toenemend krities onder die loep geneem.

Skermutselings tussen pers en party het gevolglik taamlik gereeld begin voorkom – soms skerp en bitter. Onverskrokke kollega Willem Wepener van Beeld, waar hy Ton Vosloo opgevolg het, was veral in die spervuur oor sy rondborstigheid. Oor die Groepssgebiedewet het hy bv. pront verklaar: “Skrap dit”. Ook oor Nelson Mandela het hy nie doekies omgedraai nie: “Die tyd het aangebreek om hom uit die tronk vry te laat.“

Onder sy kollegas het sy waagmoed vir Wepener die naam “Ysterman” verwerf. In Tuynhuys was daar egter met elke nuwe Wepener-sarsie beroering. Dit is hoe die naam “Kruithuis” destyds ontstaan het!

Later moes die damwal bars. Een na die ander hoeksteen-wet van apartheid is geskrap, onder meer ook die gehate Paswette. Toe hulle in April 1986 verdwyn het, het Afrikaanse koerante hartlik saamgejuig met die swart menigte wat van een van sy swaarste apartheidsjukke bevry is. Ook die hoofartikels daaroor word in argiewe bewaar.

Oor die verbod in 1988 op sir Richard Attenborough se omstrede rolprent “Cry Freedom” (oor die aktivis Steve Biko wat in 1977 in polisie-aanhouding dood is) was die Naspers-dagblaaie almal afkeurend. Premier Botha was erg gesteurd. Sy wens wat hy direk aan Ton Vosloo, toe besturende direkteur, oorgedra het, was: redakteurs moet hom bel en hom waarsku as ons van hom verskil en hom in ons koerante gaan pak. Die antwoord was eenparig: jammer, daarvoor sien ons nie kans nie!

Dit was die jaar waarin Botha later na joernaliste in die algemeen as “lunsrieme” sou verwys.

Koerante het nie net kritiseer nie, maar het ook kreatief en opbouend saamgedink, en dikwels op die voorpunt gedink, oor boustene vir die toekoms. Al verkennende is berge versit. Een pragtige voorbeeld van hoe ‘n koerant met sy skeppende denke as ‘t ware ‘n katalisator in die Groot Mirakel van Suid-Afrika geword het, is deur pres, Nelson Mandela aan sy tafelgenote onthul toe hy op 9 Oktober 1997 ‘n middagete tot sy eer by Naspers in Kaapstad bygewoon het.

Ton Vosloo, voorsitter, Koos Bekker, besturende direkteur, Boetie van Zyl en Niel van Heerden, direkteure, en Conrad Sidego, Khulu Sibiya en Zelda Jongbloed van Naspers is aan tafel vergas op ‘n boeiende relaas oor hoe ‘n Dawie-rubriek oor groepregte in 1989 in die gesprek tussen die NP en die ANC vir ‘n deurbraak gesorg het. Die rubriek is geskryf deur Wiets Beukes, wat toe redakteur was. Hy het Piet Cillié opgevolg.

Dawie se standpunt was dat oor wette soos die Groepsgebiedewet, die Bevolkingsregistrasiewet en die Wet op die Aanwysing van Aparte Geriewe “ingrypend herbesin” moet word, omdat ‘n nuwe Grondwet “kleurblind” moet wees.

Die gedwonge klassifikasie van mense was een van die “onhoudbare erfenisse van die ou apartheid”, het hy betoog. Die “groep-gedagte (sal) in die eerste plek van alle dwang en diskriminasie gestroop moet word”. Groepvorming sou “bevry” moet word om spontaan plaas te vind, en een van die “basiese regte van die mens” sou herstel moes word: “Dat elke mens die reg het om vryelik te assosieer en self te besluit by watter groep hy sy heil wil soek.”

Mandela het, volgens hom, in een van hul eerste ontmoetings F.W. de Klerk se aandag op die rubriek gevestig. De Klerk het onmiddellik positief gereageer: “Nou ja, as Dawie so sȇ, sal ek vir my mense sȇ ons kan dit (daardie groepwette) maar los.” Daardie antwoord het Mandela verheug. Hy het aan sy topstruktuur gaan rapporteer: “Met die man sal ons kan saamwerk.” Daarna het sake begin vlot.

Die partymondstuk-status tot diep in die jare tagtig van Die Burger, Die Volksblad en die heengegane Die Transvaler, was histories verantwoorbaar deur ‘n gemeenskaplike oer-herkoms uit die breë Afrikaans-Nasionale beweging in jare van platgeslaanheid. Dit is na my wete nooit amptelik geformuleer nie. Geen “kontrak”, geen voorskrif, selfs geen verwagting is aan my gestel toe ek redakteur van Die Volksblad geword het nie. Geen dusdanige dokument is, sover ek weet, ooit aan enige ander Naspers-redakteur gegee nie. Maar dat dit tot vandag suspisies voed oor waar die Afrikaanse koerante in die legkaart van die apartheidsera inpas, moet geredelik erken word.

Dalk verstaanbaar, as jy uit ‘n hoek van onbegrip kyk, word koerante verdink dat hulle weens hul partybande, formeel of informeel, soos dit in die geval van Beeld en Rapport was, gevangenes van die Nasionale Party was, en daarom outomaties ook stoere kampvegters vir die status quo.

Toenemend is by koerante besef dat die ongemaklike verbintenis nie kon voortduur nie. In 1988 het Ebbe Dommisse, redakteur van Die Burger, toe die bul by die horings gepak. Op sy inisiatief is by die Kaaplandse kongrs van die NP ‘n besluit geneem om die ou koppeling te laat vaar. In die Vrystaat is geen besluit ooit geneem nie. Die gebruik om jaarliks by die NP-kongres die koerant as party-mondstuk te herbenoem, het eenvoudig in onbruik verval. In Transvaal was geen amptelike mondstuk oor nie nadat Die Transvaler se vlerke in 1983 geknip is en hy in sak en net ‘n Pretoriase koerant moes word.

Met die Dommisse-inisiatief is ‘n proses voltrek wat in die middle van die jare 80 momentum begin kry het namate die gekompliseerdheid van die landspolitiek ou bindinge al hoe meer onder druk geplaas het.

Oor hierdie aspekte van die geskiedenis word om die een of ander rede ‘n sluier getrek asof ‘n onwilligheid bestaan om die verlede onbevange te bekyk en ewewigtig te beoordeel. Dit is ten seerste te betreur omdat wanpersepsies oor die rol van die Afrikaanse koerante, en veral redakteurs, helaas, deur die verspreiende onkunde gedy.

Met die onheuglike Magnus Malan-sage het sulke wanpersepsies weer uitgeborrel. Ou vooroordele is afgestof. In die kaalvuis-debat oor die omstrede Bird-Island-boek het beskuldigings rondgevlieg, soms in heel onelegante fraserings. Die kerksake-kommentator Jean Oosthuizen het bv. in ‘n Facebook-inskrywing die volgende kwytgeraak: dat van ‘n bepaalde Afrikaanse redakteur in die era van Magnus Malan en Barend du Plessis tog bekend is dat hy in die NP “se ali ingekruip” was.

Noodwendig ontbreek die ruimte om in ‘n enkele koerant-artikel op al die dimensies van ‘n gekompliseerde verhouding in ‘n gekompliseerde tyd in te gaan. Die rol van die Afrikaanse koerant in die politieke oorgang is in elk geval eerder ‘n navorsingstaak vir historici. In die gemoed van hierdie oud-redakteur van die jare 1980 tot 1992 leef egter geen skuldgevoelens oor in watter deel van wie se anatomie hy dan ingekruip sou gewees het nie.

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page