As iemand dink daar word baie geskryf oor Jacob Zuma se gereedskap moet ek hierdie verrassende nuus meedeel: die Zuma-sage is eintlik maar ‘n vulletjie onder die penis-penaries. Die Groot Bul was ongetwyfeld mev. Lorena Bobbitt se bloederige stukkie chirurgie met ‘n vleismes op haar man John – uit wraak oor seksuele mishandeling vroeër die aand.
Letterlik miljoene woorde oor elke aspek van die opspraakwekkende aangeleentheid het in 1993 uit rekenaars en die laaste generasie outydse tikmasjiene gevloei. Meer as dertig media-organisasies, ook uit die buiteland, het die sogenaamde “plattelandse hofsaak van die eeu” in Manassas, buite Washington, bygewoon. “The case of the unkindest cut” is behoorlik in die kollektiewe Amerikaanse geheue uitgekerf.
Selfs ernstige koerante het lustig op die tradisionele terrein van die ponies rondgalop. Die New York Times het ‘n volblad afgestaan aan die operasie om mnr. Bobbitt se orgaan weer te heg – kompleet met grafiese diagramme. Die Washington Times het ‘n bylae van 24 bladsye gepubliseer oor mans oor die hele Amerika wat soortgelyke amputasies aan die hand van hul vroue of jaloerse minnaars moes verduur.
Die ganse Amerika het penorent voor die TV vasgenael gesit om elke woord uit Manassas in te drink. John, ‘n fris uitsmyter by ‘n nagklub, het voor die kameras gespog hy sou in die toekoms nog beter bedeel wees as voor Lorena se destruksie. ‘n Aanbod om vir ‘n koele R50 000 uit te haal en te wys, is oorweeg maar van die hand gewys.
Entrepreneurs het ‘n geil tyd beleef. Voor die hof is T-hempies verkoop met slagtersmesse waarvan bloed drup daarop. Die Courthouse Deli het ‘n spesiale middagete aangebied: ‘n worsbroodjie van agt duim, glo die presiese lengte van die stuk Bobbitt-anatomie wat na die nagtelike operasie so minagtend by ‘n motor se venster uitgewerp is.
‘n Toestel bekend as die BPP (Bobbitt Penis Protector) is in New York bekend gestel met … wie anders? … as seremoniemeester as die man wat die beskeie “penis” soveel reklame besorg het. Die “Protector” is vervaardig uit klipharde akriel en aanspraak is gemaak dat dit volkome kombuismes-bestand is ten einde ‘n goeie nagrus te verseker. ‘n Pornografiese rolprent is uiteindelik vervaardig – waarin die skou-perd Bobbitt selfvoldaan alle twyfel uit die weg geruim het dat hy iets kort kom.
In Johannesburg wou ‘n seuntjie in die bad glo in daardie bewoë dae by sy pa weet wat is daardie dingetjie van hom se naam. “Seun,” het die pa geantwoord, “dit word ‘n bobbitt genoem”. Daardie naam het nie juis inslag gevind nie, maar een ding is nou maar wors: die geval Bobbitt het, meer as enigiets anders, die woord “penis” laat penetreer tot die algemene gebruikstaal van die media wêreldwyd. Trouens, in die gekattemaai oor die Zuma-skildery is in Suid-Afrikaanse koerante ‘n vindingryke verskeidenheid ander name opgerakel wat nie in doktersboeke voorkom nie.
Laat my skielik aan iets helemaal anders dink: die vroulike eweknie. Soos “penis” is “vagina” geen gefluisterde woord meer nie. As ek reg onthou, was daar selfs al ‘n toneelstuk met “vagina” in die titel (tietel?). Wat my oë (my oë) ietwat laat laat rek het, was toe ek die eerste keer die minder wetenspalike en veel minder elegante ekwivalent in ‘n koerant sien – daardie vierletterwoord wat nie met ‘n “d” begin nie. ‘n Onverskrokke skryfster het dit daglig gegee in ‘n resensie van Koos Prinsloo se skokboek Slagplaas
Die skryfster is nou, soos almal van ons, ‘n paar jaar ouer. Sonder om haar naam te laat glip, sal ek haar dit egter ter ere nagee: selfs met ‘n grys haredos en enkele rimpels hier en daar (so lyk dit op foto’s) veroorsaak sy nou nog meermale, sal ons maar sê, trillings van skok met haar pront manier van ‘n ding (manlik, vroulik of andersins) op sy naam noem.
Comments