Oor my “Meer van Vreugdes” raak ek maklik liries. In “Duisend Dae Langs Die Sabie” besing ek opnuut die lof van Lake Panic, skilderagtige lafenis vir die siel digby Skukuza, net 15 kilometers van Sabiepark se hek af.
Lake Panic se voëlskuiling is op die S42 tussen die Krugerhek en die kamp. Dit is net ‘n klipgooi van Skukuza se gholfbaan en die skaduryke inheemse kwekery af. Watervoëls – van die yslike reusereiers tot die fyntjiese kleinkoningriethane – is gek na die plek. Ek ook. Om op die gholfbaan se stoep ontbyt te eet, is eweneens ‘n gunsteling-bosaktiwiteit.
In die duisend dae van die Van Deventers se bosbelewenis tot dusver was die nimlike Sabierivier soms rustig, soms onstuimig. Een keer, in Februarie 2000, het hy hand-uit geruk. Hierdie week, in Januarie 2012, sommer aan die begin van ons tweede duisend dae, was daar amper ‘n herhaling van daardie onheilsdag.
Namate die nuus oor die siedende rivier se stygende hoogte en berigte oor die skades begin inkom het, asook die asembenemende fotomateriaal uit alle oorde, is asem opgehou. Het wat voorheen met vaste vertroue ‘n “honderdjaarvloed” genoem is, dalk nou sy siklus tot slegs 12 jaar verkort?
Toe die skoknuus kom dat Lake Panic se wal gebreek het, het die vae onrus skielik die hart van skrik laat steier. Gaan Lake Panic sy naam gestand doen, was die vraag op almal se lippe. Vrese dat die dam se muur water die personeeldorp Skukuza kon platloop, het opgewel.
Die “panic” in Lake Panic se naam beteken immers werklik “paniek” oor daardie wal – die paniek van sy bouers dat dit kon breek. Terwyl die dam in 1977 in aanbou was, het die vrees ontstaan dat die nuwe wal, nog broos en ongevestig, voor die watergeweld sou meegee.
Jeanette Coetzee van Tennessee, voorheen van Skukuza, vertel: “‘n Vreeslike donderstorm het een middag losgebars – ‘n ware wolkbreuk. Sou daardie massa vloedwater oor die grondwal stort, sou dit verby wees met die nuwe dam. Dit het ons dadelik besef. Al wat leef en beef kom toe met hul grawe en pikke. Die manne werp alles in die stryd om die dam te red. Hulle het paniekerig net bly grawe om die uitloop dieper en groter te maak. Só red hulle toe die dam – ‘n heldedaad met pik en graaf.”
Na 35 jaar gebeur die ondenkbare toe wel – die damwal breek. Maar genade van bo: die dam se water stroom wel deur die dorp; egter nie bo-oor die dorp, soos gevrees nie. Om die huise lyk dit soos mere. Maar die huise bly staan. Slegs tuine, stukke paaie en ‘n hap van die kwekery word weggevoer. Die goeie mense van Skukuza en hul vriende oral kan ‘n sug van verligting slaak.
Die paniek van 1977 was dalk geregverdig; die paniek van 2012 was gelukkig van korte duur.
Oor waarom die ergste vrese nie bewaarheid is nie, kan ek nie uit Melkbos probeer bespiegel nie. Skukuza van 1977 en Skukuza van 2012 is egter in vele opsigte verskillende plekke. Die kwesbaarheid is waarskynlik deur omvangryke ontwikkeling verminder.
Soos ek hier tik, is ek diep dankbaar dat soveel van die mooi behoue gebly het. Kom die Van Deventers in die winter weer in die bos, soos nog altyd sedert 1997, sal ons bepaald binne die eerste paar dae gaan ontbyt eet op die gholfklub se stoep. Miskien wag dan nog ‘n uitgestrekte modderbad waar voorheen ‘n plaat blink water met hope seekoeie en ‘n ryke voëllewe was. Dalk hoor ek g’n seekoei proes nie. Dalk sit die gapende gat steeds in Lake Panic se wal, soos op die foto hierby wat op die webwerf van die gemeente Krugerwildtuin (tik Krugerwildtuin Gemeente in Facebook se soekhokkie) verskyn het. Een wete sal egter oorheers: dit kon egter soveel erger gewees het.
Trouens, die hele vloed se impak kon soveel groter gewees het. Skade aan brûe – laagwater- en hoogwaterbrûe – het nie uitgebly nie, maar happe is darem nie uit brûe geruk soos op die kleiner foto hierbo van die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek nie.
Mense soos ds. Carl Louwrens van Skukuza meen dat ons juis 2000 se vloed daarvoor moet bedank. Dié het die rivier skoon gespoel. Destyds is bome meegsleur. Die stamme het teen brûe opgestapel. Hemelhoë damwalle is gevorm. Die muur van water kon nie vorentoe nie en reusegolwe het o.m. oewerhuise ingesluk.
Vanjaar was die rivier oop, die water kon vloei – see toe.
Op die houtblad van Lake Panic se skuiling het iemand lank gelede uitgekrap: “What I saw here you could not even imagine.” Mense wat die vloed van 2012 en die wonder van die relatief beperkte skade beleef het, sou ongetwyfeld met diepe dankbaarheid dieselde kon rapporteer. Dit is bo menslike verbeelding.
Comments