top of page
  • Uitmelkbos

PANIC MECHANIC


Die bos-Honda – muisneste onder die “dash”

Iewers in ‘n versie vermeld ek my vrees vir “Mpumanlange se slange”. Mpumalanga se “mekennieks” verdien gewis ook ‘n waarskuwende kwatryn, ‘n sonnet of dalk ‘n slim limeriek.  

 As ek nou nie ‘n foto weggesmyt het wat ek onlangs per e-pos ontvang het nie, sou dit my woorde uitstekend kon illustreer.  Dis van ‘n netjiese donkerblou Merecedes (A-klas of B-klas) wat iewers in daardie wonderlike provinsie op sy sy omgekeer is om die knaldemper by te kom.

 In die idioom eie aan daardie bedryf vermaan die afsender:  “As jy ooit jou kar neem na n silincer workshop, maak seker dat hulle die regte equipment het soos n kar lift/jack ‘- anders word daar soos hieronder te gewerk gegaan. Ek dink nie jy sal daarmee gelukkig wees nie.   Ek dink as Merc hierdie moet sien, brand hulle die plek af.”

 Dit bring my by my eie ervaring met die “Panic Mechanic” op Hazyview.

 In die bloedige somerhitte van Desember 2012 kalf my Bos-Honda (‘n ’99-model CR-V) se lugversorging.  Dis ‘n lang storie hoe, maar die kern van die saak: ek kom met my nood half per ongeluk by die “Panic Mechanic” te lande.  Dis ‘n plekkie ingedruk in ‘n benoude smal ruimtetjie langs ‘n begrafnisondernemer.

 Die uwe kan, ondanks sy kloeke stryd teen sy oortollige massa, kwalik sy lyf tussen die semi-afgetakelde modelle verbyskuur om by die eienaar, Richard, in sy ghries-besmeerde Bloubul-hemp uit te kom.   Maar Richard se oom het net so ‘n kar gehad.  Hy ken Hondas.  Hy pluk hier, druk daar en diagnoseer vinnig.

 Tokkie begin bedenkinge kry oor die relevansie van sommige plukke, maar kiepie laat hom oortuig.  Hy is, soos afgespreek, om 08:00 terug vir die “vinnige fieks”.  Richard daag eers teen 08:20 met die nodige ekskuse op.  Maar “raak rustig, my oom”, hy bel oor ‘n halfuur met sy kwotasie. Daardie halfuur word ‘n uur en ‘n half.

 Só begin ‘n lang dag van wag in die uiters bedrywige Twin City-sakesentrum met sy sterk inheemse karakter, om, dit sag te stel.  Dit word ‘n dag van baie oproepe, min vordering, al korter wordende lonte aan weerskante en uiteindelik die nuus, meegedeel met die tradisionele fluit van erbarming, dat muise in die CR-V se drade was.  Onder die “dash” is dit die ene muisnes … of ses (die eerste paar woorde van ‘n sonnet?).   

 Intussen doen ons wat ons op Tukkies destyds “pub crawling” genoem het en die Hollanders “stap” noem. Ons skuif van kafee tot kafee; hier vir ‘n “float”, daar vir ‘n “double thick”, my eerste in jare, en later, vir middagete, na ‘n derde plek vir ‘n taai, louerige pizza.  Die skares verdring ons en later gaan soek ek in die koel (uiters besige) domein van Absa tydelike asiel. Ek swaai my kredietkaart en verduidelik: In Kaapstad is ek ‘n kliënt, demmit.”

 Die Honda kom nie klaar nie. Laatmiddag leen Richard die Van Deventers sy swart Land Rovertjie wat beter dae geken het.  Ek kom amper te laat  agter die brandstof-liggie brand gevaarlik, maar ons kan darem Perry’s Bridge haal  vir ‘n “coke zero” met BAIE ys onder die salige koeltebome.  Die kelnerin doen navraag oor ons klaarblyklike ontheemding.  Toe sy van die Honda verneem, raak haar oë soos pierings.  “Hoop net nie dis Richard nie.  My vriendin se BMW is amper ‘n jaar al daar. Sy kry dit nie uit hom nie.”

 Bemoedigende nuus!  En gedorie, toe spertyd aanbreek – 17:00 – hang die “dash” nog moedverlore halfpad vloer toe.  Ek en die belangstellende tweeling Jacob en Thomas word  vinnig uit die werkwinkel geboender. Tokkie sit op ‘n gemesselde muurtjie langs ‘n stegie waarin rondloperkatte klaarblyklik gedy.  Jacob en Thomas jaag die katte rond en word terstond twee aangebied – ‘n kado’tjie wat ons vinnig van die hand wys.

 Wonder bo wonder is die “dash”  tog teen 17:30 terug op sy plek. Die lugversorger is nie reg nie, maar wel so “gefieks” dat dit koue lug inblaas as jy dit volstoom oopdraai. Beter as niks, maar dit kom met die waarskuwing om maar liewer gouer as later die ding te laat regmaak. Die rekening is desondanks meer as die maksimum wat in ‘n “swakste scenario” in die vooruitsig gestel is. “Maar oom, was jy al die hele dag onder ‘n ‘dash’?”

 Om  ‘n lang storie kort te maak, toe dit begin donker word, is my worsie in Sabiepark op die kole, gekneusde gemoed en gatslag vir die beursie ten spyt. Troos is: Die beursie kan ek dalk aanvul deur “Panic Mechanic” se adres te verkwansel aan iemand wat ‘n komiese sepie in ‘n plattelandse werkwinkel beoog.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

תגובות


bottom of page