top of page
  • Uitmelkbos

PAMPOENE … EN PAMPOENE

BREYTEN KOOP ‘N PAMPOEN BY ‘N BOEREMARK IN NEW YORK

In ‘n bekende kinderliedjie sing Doris Brasch van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ‘n paar ander nikswerd-weggooigoed.

Toe ek jonk was, is dit plus-minus waar pampoen in my waardestelsel geklassifiseer was: as iets vir die ashoop. Die enigste pampoen wat in my oë ‘n deugdelike funksie verrig het, was die ene wat tot Aspoestertjie se koets omgeskep was.

Trouens, my vooroordeel teen pampoen was so sterk dat ek in Standerd 5 amper daaroor slae gekry het. Ons het van Durban Potchefstroom toe getrek en ek moes die middag met die trekkery by ‘n losieshuis eet. ‘n Bord boerekos is voorgesit met ‘n ruim skep pampoen. Dié het ek in my broeksakke geprop – het nooit besef dat ek later sou moes verduidelik watse kolle op my broek uitslaan nie.

Eers toe ek na Tokkie begin vry het, en in Hertzogstraat 5, Bultfontein, haar ma, Marietjie, se voortreflike pampoen geproe het (ek het gedink ek eet heerlike patats!), het my gesindheid jeens dié nederige groente radikaal verander.

Ek eet deesdae graag pampoen, maar dat die pampoen so ‘n sentrale plek in Breyten Breytenbach se poësie beklee, wis ek nie. Dit lees ek Saterdag in die “Die Burger” in die naweekbylae BY.

Sedert hy in sy bundel “Katastrofes” die eerste keer oor die fascistiese pampoen geskryf het, het dit so ‘n deurlopende Breytenmotief geword dat van sy vriende op sy verjaardag pampoendag vier, en dit ook gedoen het toe hy in die tronk was, is van die nuwe nuwe kennis wat ek in BY verkry het. (Ek het verder o.m. ook gelees deesdae reken Breyten “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap”. Ek is dadelik kombuis toe …)

Dié stories herinner my aan die enigste ander pampoengedig wat ek ken. Dit kom uit die pen van Hans du Plessis en is in 1976 geskryf toe ons saam aan die Harvard-universiteit in Amerika was. Die tema van Hans se gediggie was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.

Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe ‘n tengere drie, “pampokie” begin noem. Die naam het nogal ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers!

Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste, kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die grootste pampoen kan kweek.

In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandsde korrespondente nogal lief daarvoor om mense se groot pampiene af te neem en vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as so ‘n pampoenfoto nie die koerant haal nie.

Uit nog vroeër tye onthou ek die gewoonte om pampoene op ‘n plat sinkdak te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Ek weet nie.

Hier naby my op Melkbos het die gewoonte onlangs by ‘n mooi moderne huis in Charles Hoffestraat herleef, sien ek. Twee pampoene pryk op die afdakkie by die voordeur.

In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n winkeltjie in die distrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana, wat in jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort het.

Die nuwe eienares is ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, is sy skoon uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim op die dak en kom met ‘n yslike kampioen-pampoen grond toe, wat sy in my hande prop.

“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was.

Hierdie storie is spesiaal bedoel vir Julius Malema. Ongelukkig sal dié … amper sê ek pampoen … dit nie lees nie. (HvD)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page