Het in diepe deernis gedink aan die draers wat die seker tamaaie kis van Napoleon Bonaparte die 750 meter na sy voorlaaste rusplek in die lowerryke Sane-vallei op die eiland St. Helena moes dra toe ek met kierie en brandvoete self die taai toggie aandurf.
Om die graf te bereik in ‘n groen holtetjie wat die Franse krygsheer glo self uitgekies het weens die skoonheid en rustigheid daarvan, moet ‘n man goeie brieke hê, want dis steil en die gras is glad. Of ek weer bo gaan kom en of ek amper twee eeue ná sy dood self een van Napoleon se vele slagoffers sou word, was die vraag wat swaar op hierdie man se gemoed gerus het terwyl hy tree vir tree na bo beur.
Dit het my nie ontgaan nie dat die datum 1 April is – Gekkedag.
Toe ek met ‘n fluitende bors by onse toerbussie kom, was ondersteuning dringend nodig. Die bord wat die pad na die graf aandui, was uitgeknip vir die doel. Tokkie kon nie die versoeking weerstaan nie om ‘n onvleiende foto te neem van haar moeë gade, so oor sy eie rusplek gedrapeer.
Baie trappies.
Uiteindelik bo, was die nuwe vraag in my gemoed: Waar is my medalje? Dit het gevoel of ek ‘n Comrades agter die rug het, “Polly Shorts” en al. Later in die middag is die geleentheid ons gebied om die 699 trappies van die sogenaamde “Jacob’s Ladder” na die hawe af te klim. Vir ‘n verdere 600 meter se swaarkry het ek nie kans gesien nie. Die geleentheid is hoflik van die hand gewys.
Maar die pelgrimstog na die netjiese graf in die veld was tog die moeite werd. Die vallei is skilderagtig, die oog sien ver en die graf self is klassiek in sy eenvoud – presies die teenoorgestelde van Napoleon se laaste rusplek – ‘n praalgraf in die Les Invalides in Parys, waarheen sy oorskot in 1840 verskuif is. Beroemdheid verg ‘n prys selfs ná die dood.
Op St. Helena word nie net swaar eise aan vlees en bloed gestel nie. Ook die taxi’s – ‘n vreemde bontspul van gehawende kombi’s en bakkies met houtsitplekke – moet behoorlik beur om teen die heuwels uit te kom. Die enjins protesteer hard soos die mishandelde voertuie op smal kronkelpaaie van die een eiland-“wonder” na die ander opkruie. Nie die ideale plek om ‘n gebruikte voertuig aan te skaf nie!
Gehawende taxi.
Wonders is daar wel, veral in die natuur wat aan die golwende Natalse Middellande herinner. Merkwaardige “monumente” van die groot vulkaan wat die eiland oor miljoene jare gevorm het, het kleurryke name soos “Lot” en “Lot se vrou”, en sorg vir ‘n innemende landskap.
Longwood House waar Napoleon van 1815 tot 1821 in bannelingskap gewoon het, word gereken as een van die mees ikoniese Napoleon-museums ter wêreld. Die historiese dorpie op ‘n smal strepie land tussen die heuwels is bekoorlik, met o.m. die oudste Anglikaanse kerk in die suidelike halfrond en ‘n kasteel.
Lot en sy vrou.
Tog het ek ietwat verneuk gevoel. Het darem gedink ‘n duur eilandtoer sou nie so sterk op Napoleon-relieke konsentreer nie, maar ook ander belangrike voetspore volg, veral dié van die Boere van wie in ‘n stadium 5 000 tot 6 000 deur die Britte op die eiland gevange gehou is. By die Boeregrafte word egter stilswyend verbygery. Navrae oor waar die kamp was, word met ‘n wuif na ‘n groepie windlaaiers in die verte begroet. Dit was “daar iewers”.
Ook die eiland se kleurryke slawegeskiedenis word geheel veronagsaam.
Ds. Johan Els, voorheen van die Klipkerk in Bloemfontein, nou afgetree op Pringlebaai, was ook op die vaart op die MSC Opera. Hy was slimmer as die uwe. Het die museum opgesoek waar hy ‘n kersie vir die Boere aangesteek het. Sy mededelings oor die foto’s (o.m. van genl. Piet Cronjé en sy vrou wat handjies hou), voorbeelde van die kampkoerantjie en vlae wat hy daar aangetref het, het jou die verlore verbintenis laat voel. ‘n Jammerte het jou beetgepak oor jou eie oppervlakkiger besoek.
By ‘n malva (dalk deur een van die Boere geplant) het Johan vir sy vrou, Louise, in sy melodieuse stem Jan F. Celliers se treffende gedig “Dis Al” voorgedra. Wens ek kon daardie gewyde oomblikke beleef het.
Comentários