top of page
  • Uitmelkbos

PAD NA “AFRIKA”


Suid-Afrikaners is só bederf met die ryke oes aan natuurwonders in ons mooi land dat party daarvan totaal onderskat word.

Een onderskatte wonder is die sogenaamde Kaart van Afrika, naby Wildernis. Ek wonder hoeveel mense stop daar. My eie inklinasie was om verby te ry. Toe laat sak ek, tog nuuskierig, die Honda se voorruit om ‘n vrywillige gids, Helene, te vra hoe ver ‘n mens moet stap.

Haar antwoord het verras: “Jy sien dit sommer van hier af.” Sy het met haar regterarm na ‘n houtrelinkie gewys. Ek klim uit, eers sonder kamera. Dadelik roep ek vir Tokkie om ook te kom kyk … en “bring sommer my kamera, asseblief”.

Twee riviere, die Kaaimans en die Silwer, het in die vallei voor jou die replika van die Afrikakaart uitgekerf, al die kontoere … wel, amper al die kontoere, en die boggel op die koop toe.

Die Amerikaners, meesters in bemarking soos hulle is, sal jou ver laat ry om na so iets te gaan kyk, met groot kennisgewingborde vol beskrywings in flambojante hiperbole wat jou lok. En jy sal nie agterna voel jy’s geflous nie.

Ons is dalk te beskeie, of eenvoudig vrot bemarkers.

Maar gaan kyk self. As jy van Wildernis af ry, soos die uwe, draai jy by die hotel links, rigting George. Die grondpad klim en kronkel deur Wildernishoogte todat jy die bord “Kaart van Afrika” kry. Dan draai jy links in Remskoenlaan.

Ongelukkig is op die hoek ‘n onaantreklike plakkers-kolonie, maar sluit maar daarvoor jou oë. Net enkele kilometers se ry bring jou by die stilhouplek. Boonop sien jy Wildernis en sy kuslyn van bo af buitengewoon skouspelagtig doer ver onder. Hou net dop vir die plaasnaam “Forever wild” en vertoef by daardie naambord ‘n paar oomblikke om die beste hoek vir jou foto te kry.

Helene en ‘n vriendin “doen diens” by die “Kaart van Afrika”. Hulle versorg liefdevol ‘n tuintjie wat hulle daar gemaak het, en hou die plek sindelik, ‘n taak wat ná naweke veral avontuurlik kan raak. Onderkleertjies word glo meermale daar uitgeskop … “forever wild”!

Na links sien jy die N2-verkeer in die Kaaimansrivierpas en voor jou, in die verte, die Outeniekwaberge, waar juis die Silwerrivier ontspring. Ook na link is is ‘n groot woonstelblok, maar, lig Helene in, geeneen van die woonstelle van R3.5m elk is nog verkoop nie. Erge verspoelings kom gereeld daarlangs voor, en die versekeringsmense wil nie byt nie, dankie. Boonop is daar ‘n onopgeloste dispuut oor ‘n deel van die grond.

Remskoen loop dood. Jy ry op jou spore terug “grootpad” (Whitesweg) toe. As jy steeds links hou, sluit die pad aan by die ou George-Knysnapad deur geil bosse, welig begroei met varings. Jy steek ook twee keer die Silwerrivier oor stewig gemesselde brûe oor. Jy ry, net buite George, verby die Saasveld-kampus van die Nelson Mandela-universiteit (voorheen die bosboukollege) wat uit eie reg ‘n besoek werd is. Die Amerikaners sou ‘n manier gevind het om dit onweerstaanbaar te laat klink!

Jy kan ook by ‘n T regs draai Knysna toe met die “pad van die sewe passe”. Dit wil ek ‘n volgende keer doen.

Ons sal net moet roer, mense. Tyd is nie aan ons kant nie. ‘n Stuk van die ou pad is baie erg verspoel, en vir hierdie leek lyk daardie skade ongelukkig onherstelbaar, tensy jou geld jou brand.

Naskrif: As jy van George se kant kom, draai op pad uit na Knysna links Saasveld-kampus toe, later regs na Wildernishoogte en weer regs in Remskoen.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page