top of page
  • Uitmelkbos

OVERDAAD IN OVERBERG


Soveel kraanvoels, soveel walvisse, soveel elande, soveel bontebokke … in my dag des lewens het ek nie in 24 uur so ‘n ryke en ongewone verskeidenheid in die natuur gesien nie.

Ja-nee, ‘n kort kuiertjie by die De Hoop-natuurreservaat in die Overberg verlede week, met basis die karaktervolle Boegoe-boskamp een kilometer van De Hoop se hek, was vir die Van Deventers ‘n splinternuwe ondervinding, waarlik genotvol en deur en deur die moeite werd.

Honderde kraanvoëls in swerms van twintig en meer in die veld tussen Bredasdorp en Malgas het my kamera oortyd laat werk. In die loom waters van die Indiese Oseaan by Koppie Alleen het die skuimstrepe ‘n honderd-plus (ja honderd-plus) walvisse verraai. In De Hoop was elande en bontebokke om elke hoek en draai.

Maar die “overdaad in die Overberg” het nie by kraanvoëls, walvisse, elande en bontebokke opgehou nie.

Oor die die snaaksigheid van bobbejane langs die water by die Mond in De Hoop het ek in’ ‘n vorige blog verslag gedoen. Naby Malgas het ek en Tokkie die Honda vinnig tot stilstand gebring en gefassineerd van die pad dopgehou hoe twee ratse skaaphonde ‘n paar honderd skaap vir die vanger op ‘n bondel jaag.

Ons het die geel muishond die eerste keer hier gesien (binne en buite die reservaat), en baie volstruise, pelikane, flaminke en ander watervoëls.

Vir ons, wat nie stappers is nie, was dit ‘n belewenis om by Koppie Alleen te sit en walvisse kyk toe ‘n vyfdaagse staptog op die Walvisroete van Potberg af daar eindig. Die vroue was in ekstase oor hul ervaring – hoop my en Tokkie se ritse spanfoto’s op allerlei kameras sal altyd vir daardie stappers van die Boesmanland en elders ‘n heuglike herinnering aan hul staptog wees.

Die wuiwende groen koringlande, gespikkel met kolle goudgeel canola, so ver soos die oog kan sien, omskep, om alles te kroon, hierdie mooi deel van ons land hierdie tyd van die jaar in ‘n lushof, wat (soos die veldblomme elders) toeriste in busvragte behoort te lok.

Daarvan gepraat: Die Burger rapporteer dat De Hoop in Junie, gedurende die Groot Sokker, 433 of 112% meer besoekers gelok het. Net 433 en dit is 112%! ‘n Eenvoudige sommetjie vertel die storie van ‘n plek wat baie bied maar klaarblyklik te min besoekers lok. Veral Suid-Afrikaners is blykbaar lui om daardie 40km hoofsaaklik grondpad van Bredasdorp af (50 km van Swellendam)

af aan te pak.

Mense, daar is wonderlike anderster soort blyplek vir elke sak, gawe kampplek en genoeg om te sien en te doen, sodat jy De Hoop (die liedjie Skipskop se wêreld) as top-reservaat kan uitsonder. Julle moet kom, kom, kom dat hierdie juweeltjie tog nie, soos andersins onvermydelik sal wees, deur kruipende agteruitgang getref word nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page