top of page
  • Izak de Vries

Outisme Praat

Daar was hierdie week twee baie interessante stukke in die pers oor outisme.

Die een, wat waarskynlik die meeste aandag geniet het, handel oor Ernie Els se openhartige gesprekke rondom sy outistiese seun.

Lees gerus hier. Dit is nou al ’n hele rukkie dat Els se golfsak ’n plakker dra wat sê: Autism speaks.

’n Ander, nog roerender, stuk kom van Mike Trapido, of te wel Traps soos sy blog bekendstaan. Traps is een van die mense wat ek die graagste lees, want hy kyk na die land se regstelsel as ’n kenner en hy skroom nie om populistiese snert aan die kaak te stel nie. (Hy is ’n prokureur.)

Traps is dikwels skerp en talle mense het al onder sy pen deurgeloop. Maar die ander dag het hy uitgekom en vertel dat een van sy eie drie seuns outisties is.

Lees dit hier. Dis eina.

Van julle weet nou al ek en die geliefde het aangeneem. Dit was ’n keuse, nie ’n biologiese rede nie. Talle mense sê gereeld: “Oe, julle het so ’n groot ding gedoen.”

Bull, man.

Weet julle, as ’n mens aanneem, kan jy kies. Jy kry ’n lysie wat baie lank is. Dit lyk so:

Ek wil nie:- ’n Baba met gebreke hê nie- ’n Prostituut se baba hê nie- ’n Baba van ’n misdadiger ... ens, ens, ens.

Ek en die geliefde het lysie eenkant toe gestoot en verklaar: “Ons het net een versoek. Ons soek ’n gesonde, HIV-negatiewe kind. Geslag, ras, niks van hierdie goed is is belangrik nie.”

“En,” het ek bygevoeg, “as die ma intelligent is, sal ek baie bly wees.”

Sien julle? Dis ’n selfsugtige ding om aan te neem.

Ons het presies dit gekry. Knaap is baie gesond, deksels oulik, het verskriklik baie energie, het pas ’n botand verloor en talle mense, nie net ek nie, dink hy’s intelligent. (Sy ma was ook intelligent, maar moet asb nie daaroor vra nie, want ek sal niks meer oor haar sê nie. Sy was baie, baie braaf en HIV+.)

Hoekom noem ek my eie, gesonde knaap in die lig van hierdie twee mense se outistiese kinders?

Twee redes. Omdat ek ’n moerse chicken is en gevra het, openlik, vir ’n gesonde kind. Daar is mense wat willens en wetens kinders met gebreke aanneem. Ek kon nie.

Ten tweede. Na die sukses van óns aanneming het ’n vriende van ons, G & B, ook aangeneem. (G is ook ’n blogger. Hy kan homself out as hy sou wou.) Die mooiste dogtertjie. Vriendelik en só cute.

Op twee het sy ophou praat ... Julle kan raai.

Hemel mense. Outisme is nie pret nie.

My een nefie het Downs. Dit is erg genoeg. My geleerde vriend, Awie, se dogter is gestremd.

Ek?

Ek kan nie my ophou verkyk en verwonder aan die welgeskape, slim klein kabouter wat ses jaar gelede in my arms geplaas is nie. Al het hy vanaand ’n spul room in my hare gesmeer. En toe ek vies is en sê “Kyk hoe lyk my hare nou!” was sy antwoord: “Maar jy het niks meer hare ore nie. Kyk in die spieël.”

Dis woorde en logika wat die ouers van ’n outistiese kind nooit uit hulle knaap se mond sal hoor nie.

Ken julle Annelie Botes se Raaiselkind? Dit handel oor ’n ma se stryd met outisme.


2 views

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page