
Oupas is nogal ‘n spesiale spesie – ‘n oupa se knie word kamma-perd, hy ken al die antwoorde op al die vrae, hy kerf biltong met sy knipmes in dun opkrul-happies.
Uit ‘n seuntjie se hoek: ‘n Oupa is ‘n man-ouma. Hy gaan stap saam met seuns en hulle praat oor visvang en trekkers en sulke goed.
Uit ‘n meisietjie se hoek: ‘n Oupa is soos Kersvader. Hy gee jou altyd presentjies. Hy deel altyd drukkies (en suiglekkertjies) uit en hy vertel mooi stories wat sulke wye draaie loop.
Ná dese, met die sepie “Sewende Laan” se ontstellende nuwe storielyn is ‘n oupa ook iets geheel anders as die gawe ou wat in Anakke Müller se boekie “Spesiaal vir Oupa” geskilder word: dalk ‘n nare ou man wat snags kug-kug jou slaapkamerdeur binnesluip en aan jou vroetel.
Die arme Christelle is ‘n wrak soos sy in die Laan onder haar ou vuilgoed van ‘n oupa
deurgeloop het , en ma Madel het eenvoudig oë toegeknyp. Ondenkbaar.
Hierdie oupa het net seuntjies as kleinkinders. Vir hulle is hy baie-baie lief, maar hy merk tog by geleentheid skertsend op dat hy graag ook ‘n kleindogter sou wou hê wat hy lekker kon soen en druk.
Watter impak het “Sewende Laan” se kinkels egter op oupa-kleindogter-verhoudings? Vrees, suspisie, misverstand oor die allerbeste en onskuldigste bedoelinge – dit lyk vir my of dit party oupas se lot kan wees.
Hoeveel mammies skrik hulle nie eensklaps boeglam oor die gevare wat ‘n skewe oupa vir hul vrolike krullebolle kan inhou nie, of word gepak deur die vrees dat hulle soos ‘n Madel hul kinders in die steek kan laat? “Kleinsus, jy moet vir mamma sê as oupa aan jou vat,” hoor ek in my verbeelding die waarskuwings.
En hoeveel vrugbare klein verbeeldinkies word nie geprikkel tot oortyd-aktiwiteit nie? “Mamma,
mamma weet, oupa het my kamer se deur laas nag so stadig oopgedraai….”
Nou-ja, sepies is sepies. ‘n Mens moenie te ernstig raak oor die intriges wat draaiboekskrywers bedink om kykergetalle hoog te hou nie. Verder word darem elke aand mooi gewaarsku dat tonele op die skerm die kleingoed kan ontstel en dat ouerleiding onontbeerlik is.
Maar dan broei tog vaagweg by hierdie oupa die vrees dat ‘n klomp gif nou in “Sewende Laan” gesaai word, wat plek-plek skade kan aanrig.
Ek weet nie hoeveel oupas vang sulke nare dinge aan nie, maar is ek verkeerd as ek vermoed veral in die stand van die Terblanche-familie van “Sewende Laan” moet dit maar bitter yl gesaai wees?
Dan voel ek amper geroepe om namens die oupas van Suid-Afrika in die veel oorwerkte woorde van Jeanne Goosen uit te roep: Ons is waaragtig nie almal so nie!
Comments