top of page
  • Uitmelkbos

OUMA SE ROOI NAGROK



Almal wat weet hoe geweldig lief my Tokkievrou vir rooi is, sal begryp hoe dit gekom het dat Ouma Marietjie in haar middel negentigs vir Kersfees ‘n helder rooi nagrok present gekry het – waarskynlik haar eerste.


Vanselfsprekend het die rooi nagrok nie ongesiens verbygegaan nie in die tehuis vir bejaardes (of haar “koshuis”, soos sy dit noem) waarin Ouma die laaste jaar of twee tuisgaan. Trouens, die geskiedenis van die nagrok sedert Kersfees is nogal … om die minste daarvan te sê… taamlik kleurryk.


Laat my egter by die begin begin. Dit is toe Tokkie skuins voor Kersfees by ‘n winkel verbystap, die verleidelike kledingstuk tussen Kersversierings uitgestal sien en op die daad besluit dis sommer bog dat oumense altyd net pastelkleure moet dra.


Sy kry dadelik die bevlieging om dit vir Kersfees vir Ouma te koop – vir eers omdat dit vir haar so treffend is en ten tweede omdat dit van katoen is. Dit hanteer makliker as sy as Ouma, wat nie meer mobiel is nie, opgetel moet word en so.


Toe Ouma die eerste aand getooi in rooi die lakens van haar bedjie oor haar trek om te slaap, loop die storie in die tehuis oor die amper 95-jarige veteraan se rooi nommertjie. Almal”oe” en “aa”. Die verbaasde nagmatrone kon haar oë nie glo nie, het sy Tokkie die volgende dag meegedeel.


Nie lank daarna nie – die kontantstrokie was nog in Tokkie se handsak – verdwyn die rooi nagrok skoonveld. My vrou is omgekrap en maak geen geheim van haar wrewel nie. ”Soek hom!” eis sy. Elke dag gaan verneem sy of hy die nagrok al uitgekom het.


Vyf lange weke lewer die soektogte niks op nie. Die nagrok is weg soos ‘n naald in ‘n hooimied. Toe, nadat ‘n ernstige kennisgewing in die personeelkamer opgesit is, peul die vermiste kledingstuk geheimsinnig iewers uit. ‘n Lid van die personeel kom triomfantlik daarmee by Ouma se kamer ingestap, glad gestryk en mooi netjies opgevou.


Wat die misterie van sy lang afwesigheid verdiep, is dat die synaat van die splinternuwe kledingstuk oopgeskeur is – ‘n feit wat noodwendig tot allerlei bespiegelings lei. Mense met romantiese verbeeldings skets scenarios van ver paaie wat dalk in die tyd van afwesigheid bewandel is en woelige ervarings wat in ‘n sogenaamde hygroman nie uit pas sou wees nie.


Nietemin, die skeur word netjies herstel, en sake gaan weer hul normale gang. Tot so skuins voor die Paasnaweek. Toe kom Tokkie by die huis aan met die nuus: die rooi nagrok se lêplek is weer leeg. Suspisie glinster in haar oog; sy sweer hy’s vir die Paasnaweek “uitgeboek”.


Ouma vier op Dinsdag 7 April haar 95ste steeds minus haar Kersgeskenk van haar liefhebbende dogter, wat nou grimmig beduie een rooi ding wat sy nog nooit gehad het nie is rooi stoflappe. As die nagrok weer uitkom, gaan sy hom vir daardie edele doel stukkend knip en die stukkies aan die tehuis skenk.


Ek ken egter my vrou en neem haar nie ernstig op nie. Toe die nagrok enkele dae gelede weer sy opwagting maak, is die voorneme om die skêr in te lê vergete. Trouens,Tokkie se blydskap is aansteeklik. Ek raak self skoon opgewonde oor die vonds, al het ek die nagrok nog nooit gesien nie.


In elk geval is die naat hierdie keer ongeskeur. Wat seker dui op versigtiger hantering deur die liefhebber van rooi wat vermoedelik die versoeking van bruikleen nie kon weerstaan nie. Of dalk op ‘n saaier uitstappie?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page