Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, deur Jaco Jacobs. Resensie: Mia Oosthuizen. (Rapport Boeke)
Steeds is daar nie ‘n behoorlike oplossing vir die probleem van hoe jeugromans ten beste geresenseer behoort te word nie. Soms is daar moedige pogings van die redakteurs van boekeblaaie om lesers uit die teiken- of portuurgroep te kry om dié boeke te bespreek. Met gemengde resultate. Mens het altyd die vermoede dat daar ‘n ander persoon aanwesig was wat die taal geskaaf het, soms selfs ‘n bietjie gehelp het met die dink en formuleer.
En dan is daar die ander uiterste. Volwassenes wat vlerksleep by die teikengroep. Op elke moontlike knoppie word gedruk in ‘n poging om die jeug net aan die lees te kry. Kyk na die knallers, hou dop watse opmerkings word gebruik om die boek aantreklik te maak vir ‘n jonger ouderdomsgroep as dié waaraan die resensent behoort.
Sonder uitsondering sal resensente in laasgenoemde groep hulself uiteindelik ontmasker as pedagoë, of kolporteurs van die boek. Hierdie nuk skep ongelukkig dan presies die soort ouderdomsgaping wat die resensent behoort te probeer vermy.
In Mia Oosthuizen se resensie slaag sy uit die staanspoor om nie binne bogenoemde paradigma vas te val nie. Sy gee nie voor dat sy jonk is of ‘n spesiale begrip het vir die probleme van vandag se jeug nie.
Sy gee eerder dadelik erkenning aan al die goeie aspekte van Jacobs se skryfwerk en die sterk eienskappe van hierdie roman. Sy bied ‘n idee van wat die verhaal behels sonder om die inhoud in besonderhede te verklap. Sy sny die tematiek aan en lê dit bloot in een lang sin sonder jargon.
Maar dan begin die steurende elemente hul verskyning maak. Kort voor sy Jacobs se hoë taalstandaard aanprys, skryf sy vanwaar as twee woorde. Nou goed, miskien het die Taalkommissie in een van sy onheldere oomblikke besluit dit kan maar twee woorde wees. Vir my pla dit.
Mens kan nog aanvaar, soos Oosthuizen doen, dat jonger lesers grafiese elemente by die prosa verkies, maar wanneer sy met groot stelligheid verklaar dat lesers van 11 en ouer deur die boek vermaak en verryk sal word, en dat volwassenes dit op verskillende vlakke sal kan gebruik en geniet, moet mens protesteer – of ten minste stawing vra.
Hoekom kinders van spesifiek 11 en ouer? Wie het die ouderdom bepaal? Of is dit omdat kinders deesdae omtrent elf in Graad 5 word, en Graad 5 is wanneer hulle veronderstel is om self te kan begin lees? Nou hoekom nie só sê nie?
Verder: Hoe “gebruik” volwassenes ‘n boek? Wil volwassenes jeugromans “gebruik”?
En hoe seker is sy dat sommige lesers, 11 of ouer, nié verryk en vermaak sal word nie?
Sulke opmerkings laat my agterdog oor die resensie as geheel groei – en eintlik is dit nie nodig nie as mens hierdie laaste opsommende paragrawe ignoreer. Ek kry die gevoel dat die lastige paragrawe geskryf is vir ouers, onderwysers en bibliotekarisse. Daar is ander maniere om sulke inligting oor te dra, en as mens die resensie fyn lees, kry jy al daardie indrukke sonder dat dit met ‘n lepel aan jou gevoer word.
Met die uitsondering van die ouderdom-bepaling, natuurlik. Spoorvat, deur Riana Scheepers en Leti Klein. Resensie: Gisela Ulyatt. (Boeke24) ‘n Formulistiese resensie wat nie ver van ‘n ramp af is nie. Begin met kontekstualisering, en dan paragraafsgewyse ‘n beskrywing van een en soms twee skrywers se bydraes. Ten slotte probeer die resensent ‘n veralgemening (dat dit in dié bundel oor liefde vir die geskrewe woord gaan) staaf aan die hand van ‘n aanhaling uit Riana Scheepers se bydrae (ek neem aan dis haar bydrae, mag ook ‘n voorwoord wees, die resensent dui nie aan nie). Van ‘n grondige kritiese reaksie op die skryfwerk is daar werklik nie sprake nie, en dus sou mens hierdie poging as reklame eerder as resensie kan tipeer. Dit is jammer, want wat Ulyatt oor die inhoud verklap, wek by my die vermoede dat die onderwerpe die skrywers geïnspireer het en dat hier dalk baie goeie skryfwerk te vinde is. Jammer dat die resensent nie gedink het die lesers van resensies wil dít weet nie.
‘n Dief aan die kers, deur Anton F. Prinsloo. Resensie: Constant Steyn (Boeke24) Nog ‘n resensent wat die irritasievlak opskuif met ‘n opmerking dat “ons taal en sy gebruikers net baat kan vind by verrykende lees- en leerstof soos dié”. Hoe kan ‘n resensent aanneem dat lesers onverryk is op enige gebied? Maar gelukkig is Constant Steyn andersins ‘n man na my hart. Hy omseil die verklaring van die boek se titel baie netjies, ‘n vernuftige manier om die leser van die resensie te motiveer om die boek te lees indien nie te koop nie. Die paragraaf oor Prinsloo se hantering van “skelm woorde” is ook ‘n prikkel wat dieselfde doel dien. Die resensie maak mens nuuskierig, en dít is wat uiteindelik die meeste saak maak.
Comments