Balule – Toonbeeld van rustigheid
Balule-en-suite
KORT ná ‘n droomvakansie in die verre Suid-Afrikaanse wildernis begin ‘n Amerikaanse vrou blind word. Haar besorgde man wil haar vir oulaas iets laat beleef wat in haar geheue ingeprent sal bly nadat die Groot Donker toegesak het. Haar begeerte is om terug te keer na die Kruger-Wildtuin wat diep in haar hart gekruip het. Haar tweede wens is om op die herbesoek leeus te sien. Die koning van die diereryk het hulle die vorige keer ontwyk.
Die Amerikaners tref ylings reëlings, vlieg na Suid-Afrika en kom laatmiddag in die Pretoriuskopkamp aan. Hul gids vertel vir die beamptes haar aangrypende verhaal. “Julle is gelukkig,” laat ‘n veldwagter hoor, “’n trop leeus lê net ‘n paar kilometer hiervandaan op die teerpad.” Haar droom was vervul.
‘n Eie Wildtuindroom is op Dinsdagaand 20 Julie 2011 vervul. Daardie nag het ek en Tokkie in rondawel nommer vyf in die klein ruskampie Balule, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n lank gekoesterde wens. Die betowering van Balule is beslis nie onbekend aan ander Wildtuin-tradisionaliste nie!
Enige datum in Julie. Dit was my versoek in April aan die besprekingsbeampte in Skukuza. Op 20 Julie is een van die ses – net ses – rondaweltjies toe gelukkig beskikbaar. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy (net Engelse) reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Anderkant ‘n draadheining is vyftien kampeerplekke, ewe gewild by ‘n vaste klandisie, van wie baie al saam met hul ouers in Balule kom kamp het toe enorme ou “karavane” agter kragtige Amerikaanse Fords, Chevs, Buicks, Pontiacs en Dodges nog die in-ding was. Tente was doodgewone khaki-weermag-eksemplare. Vandag is dit net duur 4 x 4’s en ontwerperstente oral.
Nêrens in Balule is elektrisiteit nie. In sy hutte sal jy lank soek as jy, soos ‘n nuwe generasie, jou mikrogolfoond, ysmasjien of groentestomer wil inprop. ‘n Swart vrou daag om 17:30 op met ‘n tros lanterns in die hand. Jou “en-suite” bestaan uit ‘n waskom op ‘n driepoot-metaalstaander en, ewe bedagsaam, ook ‘n outydse “koos”.
Die rondawel, net muur, dak en vloer en taamlik karig gemeubileer, kan dien as illustrasie vir ‘n hartbeeshuisie. Vensters ontbreek. ‘n Korterige mens moet buk by die deur wat skewerig in sy raam hang. Ventilasie is deur ‘n strook sifdraad direk onder die dak wat, op sy beurt, só laag is dat jy gemaklik met een hand op die deurknop en die ander op die dekgras kan staan.
Die vrieskaste en stowe in die ruim gemeenskaplike kombuis is aan gasbottels gekoppel. ‘n Reuseketel op ‘n gasplaat sorg vir genoeg kookwater vir almal.
Ek was nooit ‘n kampeermens nie, maar begrippe soos “rudimentêr”, “stoer” en “outentiek” vind by my sterk aanklank. Dit herinner aan die “ou Wildtuin” wat ek as kind leer ken en as jong volwassene leer lief kry het: ‘n aardse plek – hoe nader aan die aarde des te beter – en waarlik ‘n natuurtuin – hoe nader aan die natuur des te beter. Dit is immers tog die magnete wat ‘n mens keer op keer Wildtuin toe lok, en nie vyfster-geriewe, eksotiese geregte of oorgeorganiseerde programme nie.
Maar kyk, nou praat ons werklik van toeka, lank voor die hoogwaterbrug oor die Sabierivier veertig jaar gelede, in 1972, gebou en die bekende Paul Krugerhek op 21 Maart 1973 geopen is. (Coert Steynberg het sy granietbeeld van die bebaarde ou “vader van die Wildtuin” in 1976 by dié hek staan gemaak.)
Vir ons was die poort tot die Wildtuin toe nog die Numbihek, naby Pretoriuskop, met sy naam teen ‘n hardekoolstomp en ‘n karaktervolle grasdak-rondawel-kantoortjie, wat jou dadelik laat voel het jy is nou in die Wildtuin, anders as deesdae se lelike Chinese pagoda-goeters. Hekwagte met kortbroeke, langkouse en opslaanhoede het jou met ‘n flinke saluut verwelkom.
Op pad na Skukuza is by die “Hippopoel” in Sabierivier stilgehou vir ‘n toebroodjie en koffie uit die padkosmandjie – dalk ‘n koue frikkadel en gekookte eier. Gewapende swart wagte het die insittendes van een stowwerige motor na die ander na die rivieroewer vergesel terwyl die seekoeie snork.
Jou rondawel se deur is nooit gesluit nie. Trouens, die bestaan van sleutels was in die Wildtuin onbekend.
Die beddens was staaldivans. Beddegoed is op tweewiel-trollies afgelewer, soos dié wat stasieportiere gebruik het. Dit is al lank vervang met gholfkarretjies, selfs 4 x 4’s.
Grasperke was asof gemanikuur, en is dwarsdeur die dag met dik strale rivierwater besproei. Welige tuine was ‘n lushof, en in elegante, koloniale restaurants het kelners met wit baadjies en wit kepse tradisionele viergang-maaltye bedien.
Van 04:00 soggens kon jy lê en luister hoe die personeel die koolstowe begin stook vir warm water vir die toeriste se eerste koppie boeretroos sodra hulle ontwaak. Die reuk van houtvure en antrasiet het in die lug gehang. Dit was voor die tyd van kombuisies in elke rondawel. Gespikkel in die kamp was enkele gemeenskaplike kombuise, soos die ene in Balule. Saans het die kampvuurtjies by haas elke rondawel in ‘n gesellige kring geflikker. Nou word oop vure al hoe minder.
By piekniekplekke soos Tshokwane het hardekoolstompe heeldag gegloei. As jy kole nodig het, kon jy na hartelus met langsteelgrawe kom skep. Roomys op Onder-Sabie se stoep (voordat die dek gebou is) was ‘n heerlikheid waarna uitgesien is van die oomblik dat die vakansie aangebreek het.
Vir almal wat smag na die herbelewing van sulke toeka se dinge, kan ek Balule – die oorspronklike Olifantskamp – van harte aanbeveel. Mense wat verlang om gepamperlang te word, bly egter weg!
As jy Balule toe wil mik, en gelukkig genoeg is om plek te kry, moet jy jou in Satara of Olifants gaan aanmeld. Dáár ontvang jy jou beddegoed-papiertjie (ja, werklik, nes in die ou dae!). Met daardie klein dokumentjie in die hand, begin jou avontuur: ‘n sentimentele geestesreis die verlede in. Só kan ook jou Wildtuin-droom bewaarheid word.
Comments