Die fluweelstem van die Spaanse hartebreker Julio Iglesias het vir vele treffers gesorg – min mooier en geliefder as sy To all the girls I loved before. Ek onthou van hierdie liedjie veral ‘n seepgadde duet met Willie Nelson in Engels en Spaans:
To all the girls I loved before
Who travelled in and out my door,
I’m glad they came along,
I dedicate this song …….
Die meeste mans wat ek ken, sou graag so ‘n sentimentele liedjie aan hul ou liefdes wou opdra, vermoed ek. Ou liefde roes mos nie, lui die spreekwoord. Maar ek wil nou ‘n raaiskoot waag: dit is dat die meeste mans ewe nostalgies voel oor hul ou karre. Metaal roes dalk – maar die liefde vir die karre wat hulle in hul fleur was, leef voort. Die herinneringe is salig. Hier’s woorde vir ‘n alternatiewe dedikasie aan sulke ou liefdes op wiele:
To all the cars I drove before
All cars that passed my garage door,
I’m glad they came along,
I dedicate this song….
Ek is nogal ‘n kar-ou, met veel meer karre in my lewe as meisies. Voor in my kar-liefhebbende oud-kollega wyle Fred Schnetler se boek A century of cars het ek
’n volledige lys, so op datum as kan kom. In my terugblik-boek In Kamera het ek ‘n hele hoofstuk aan my karre gewei. Een resensent, Cecile Celliers, het dit “vervelig” gevind. Vele lesers (motor-entoesiaste?) het my daarmee gekomplimenteer.
Dit daar gelaat. Van my jonger broer, Christo Malan, wat al dekades land-uit is, kry ek uit Australië ‘n e-pos met n interessante variasie op die tema “herinneringe aan my eerste motor”. Pleks van sentimenteel en met geneentheid, bekyk hy – kenmerkend van sy saaklike benadering tot alles – sy eerste Anglia’tjie op armlengte en uit ‘n suiwer tegniese hoek.
Sy vergelykings verraai merkwaardige kennis en ‘n geheue oor die skewe-ruit-Anglia’tjie se spesifikasies soos min. Sy slotsom sal egter nie ‘n romantiese Iglesias-treffer inspireer nie.
Die nuus uit Australië is dat Christo se vrou, Ruth, ‘n nuwe motortjie gekry het, ‘n pragtige klein Micra. Daaroor rapporteer hy:
“ Dis die luukse model van ‘n basiese karretjie gemik op vrouens. As ek hom met my ou Anglia vergelyk, ook ‘n basiese klein karretjie op sy tyd, dan is daar geen vergelyking nie.
“Hy het ‘n 1400 cc enjin met dubbel kopnokaste, 16 kleppe en petrolinspuiting. Die ou Angla was 1000cc met stootstange en ‘n pieklein vergassertjie. Hy het net 27 perdekrag ontwikkel. Die Micra ontwikkel 72Kw wat oor die 80 perdekrag is.
“Die ou Anglia het ‘n ou radio gehad wat agterna ingesit is, die Micra het ‘n ses- CD-speler. Die ou Anglia het nie eens ‘n verwarmer gehad nie, die Micra het lugreëling in.
“My remme was maar gewone dromremme. Die Micra het ABS met skywe voor. Dan het hy ook nog ses lugsakke in, getinte ruite en allooiwiele – 15″ wiele in so ‘n klein karretjie. Hy’s ook outomaties.
“Hy ry heel lekker, trek sterk en is baie solied. Die uitsig is baie goed en die draai-sirkel onder 9m.
“Ruth is baie in haar noppies. Die feit dat haar Micra pienk is, speel ‘n groot rol. Sy het ‘n stuurwieloortreksel en sitplekoortreksels in swart met pienk blomme ingesit. Cassandra (hul dogter) sê dis Barbie se kar.”
Die foto bo is ‘n kompilasie van “Barbie” by haar nuwe kar en ‘n voorbeeld van Christo se ou Anglia . Oordeel maar self of hy darem te straf oordeel oor die tekortkominge van sy eerste wiele. Of is dit net uitgelatenheid oor sy vrou se opwindende nuwe Micra, wat die ou liefde so laat roes het?
Comments