top of page
  • Uitmelkbos

OU BUFFELSBAAI, JY IS NOG JY!


Die vuurtjie begin flikker vir die eerste aand se braai.

Die dierbare Buffelsbaai is nog dieselfde plek as die een wat die Van Deventers in jare her liefgekry het. Hy is ook anders.

Van Vrydag tot Dinsdag was ons hele gesin – nou versprei oor drie geslagte – in dié bekoorlike Lilliput aan die Suid-Kaapse kus saamgetrek rondom die matriarg, Tokkie, se 63ste verjaardag. Die nostalgie was hewig Om dieselfde plekkies, paadjies en poeletjies saam met die kleinkinders te verken as wat meer as 30 jaar gelede met ons eie kinders verken is, was een groot hartsvreugde.

Een andersheid wat dadelik getref het, is die teenwoordigheid van Trellidors voor die skuifdeure van die vakansiehuis Kammarus, met die hand uitgesoek vir dié sentimentele herbesoek. As jy by sy voordeur instap, begin die herinneringe immers opstapel. In Kammarus en die buurhuis Kop-bo-Water het feitlik al ons vorige Buffelsbaaivakansies hulle afgespeel. Rede nommer twee is ligging. Geen ander huis op Buffelsbaai staan so teenaan die immer woelende oseaan nie. Die naam Kop-bo-water spreek vanself. Maar die heerlike dek van Kammarus is nog nader aan die water. As jy by sy voordeur instap, wil jy koes vir die dreunende branders wat jy deur die sitkamertjie se venster ritmies aangerol sien kom.

Nog ‘n andersheid tref jou soos ‘n hamerhou. Buffelsbaai het die speelplek van rykes geword, boetie. ‘n Oulikrige huis kos ‘n plaas se prys – van R6 miljoen tot ver oor die R8 miljoen. ‘n Huis in holte met die naam No View (nie sonder goeie rede nie) is aan die onderent van die leer teen R4,5 miljoen – maar die “eienaar sal waarskynlik R4.4 miljoen vat”! Wat die nuwe paleise kos wat intusen kol-kol soos paddastoele verrys het, wil ek liewer nie weet nie.

Ons raai oor Kammarus se waarde. Die raaiskote begin in die lig van bogenoemde kennis by ‘n “beskeie” R7 miljoen en druk aan die bokant deur die R9 miljoen-plafon. “Position, position, position” … julle weet mos.

In die afgelope dekade het sy nuwe eienaar vir hom net R600 000 betaal. En hier in die middel 70’s kon oupa Malan hom koop vir R28 000, meubels die lot. Oupa wou nie – die ou dorpie met sy baie opslaanhuisies het vir hom bra gomtorrerig gelyk. Toe gaan koop hy as belegging ‘n ordinêre Capitolpark-huis in Pretoria vir dieselfde prys. Ai, ai, ai.

Dit tref nietemin dat die Te Koop-bordjies volopper is as wat jy ooit op Buffelsbaai gesien het. En in meer vensters as tevore pryk hoopvolle Te Huur-kennisgewings. Die tentakels van die vrot ekonomie – nes misdaad – wurg klaarblyklik ook hier nes daardie die kwaai seekat met die vele arms in die poel voor Kammarus toe die kinders hom met hul visnetjies versteur.


Die element van bekendheid is tog groter as die effense vreemdheid wat jy aanvanklik ervaar. Want terwyl strandoorde oral onherkenbaar verander het, het ou Buffelsbaai Buffelsbaai gebly. Hy is nog hy, soos Lafras Verwey.

Hope nuwe huise het oor die jare bygekom, nog meer huise is gerestoureer en opgegradeer. Oral tussen die ou bekende name by die voordeure pryk nuwes wat verklap dat ander eienaars nou daar die leisels hou. Die houthuisie Die Anker anderkant langs Kop-bo-Water heet byvoorbeeld nou Vol Sand.

Omdat die dorpie nêrens grense hierdie kant toe of daardie kant toe versit het nie (kon versit het nie), het sy voetspoor egter dieselfde gebly. Ook sy karakter.

As jy gaan stap, is dit in dieselfde steil straatjies as 30 jaar gelede. As jy gaan swem, nooi die wye strand jou steeds ewe gul. As jy brood, ys of ‘n koerant wil gaan koop, bestaan nog altyd net die een plek: die halfmaan-winkel-cum-restaurant aan die soom van die swemstrand. Dit lyk of die tyd stilgestaan het – en dis as een reuse-kompliment bedoel.

Op die preekstoelrots voor Kammarus sit selfs ‘n ewe groot seemeeu op presies dieselfde kolletjie as drie dekades gelede!

En toe ‘n storm die voorlaaste aand losbars, skep die krag van die wind en die wrywing van onstuimige water teen die rye op ry soliede rotsbanke wat bo die water uitrys, weer ‘n reuse-“melkskommel” van wiegende bruin skuim, identies aan die een wat ek 20 jaar gelede op dieselfde patroon hier voor my sien vorm aanneem het.

Die sonsondergang skilder die lug presies soos jy dit onthou, met dieselfde intense diep kleure en meesleurende spel tussen donker en lig. Kan enigiets anders ewigheid so treffend uitspel?

Glo my, toe ons Kammarus en Buffelsbaai Woensdagoggend groet, was dit met ‘n amperse bewoëndheid van hart. Was dit dalk die laaste keer dat jy, 68-jarige, met daardie verspoelde stuk pad by Goukamma verby koers kies N2 toe?

Gelukkig het ons pakke en pakke foto’s om op terug te val, en ook die wete dat die liefde vir ‘n stukkie wonderlike skeppingswerk van die Goeie Vader diep in die hartjies van ‘n nuwe generasie Buffelsbaai-liefhebbers voortgeplant is. Dat dit stewig vasgeanker is, twyfel ek nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

コメント


bottom of page