top of page
  • Uitmelkbos

ORAL NEE VIR SWERWERS TER SEE

Die Prediker het, verstandiglik, al gewaarsku dat daar ‘n tyd is om te omhels en ‘n tyd om weg te bly van omhelsing af. Die kneukelgroet en die elmboog-groet is waarskynlik die beste moontlike voorbeelde van wat hy bedoel het. Natuurlik ook die een-meter-reël, hoewel ‘n mens wonder hoeveel jonges hulle aan hierdie dinge gaan steur. Dit daarby gelaat.

In aansluiting by die Prediker se motto dat elke ding sy vaste tyd het, wil ek graag ‘n eie straaltjie byvoeg. Dit is: daar is ‘n tyd om “na verre hawens” te vaar. Daar is ook ‘n tyd om ver van “verre hawens” weg bly. Nou is klaarblyklik so ‘n tyd.

Meen: In watter hawe waar kan ‘n mens met vrymoedigheid aankom met net jou paspoort en, indien nodig, visum in jou sak, dan’s alles piekfyn. Deesdae is op feitlik elke hawe ‘n kennisgewing opgesit: “Gesluit vir die Covid-19-seisoen”.

‘n Matriekmaat van Tokkie van Bultfontein se dae, Carien Weyers, bevind haar op die oomblik in so ‘n oral-onwelkom-penarie op die Middellandse see. Haar klasmaats word per whatsapp deel van die drama. Carien en haar man, prof. Almero Weyers, afgetrede hoogleraar in sielkunde aan die Vrystaatse Universiteit, bevind hulle ter see op die Costa Pacfica (meen ek) wat op 3 Maart uit Buenos Aires vertrek het na Barcelona in Spanje. Daar is 168 Suid-Afrikners op die skip.

Van toe af vaar hulle, vaar hulle, vaar hulle. Nêrens, by geen hawe, is die skip welkom sodat hulle ’n bietjie kan rondkyk en bene op vaste aarde rek nie.

Gister laat weet sy eers hulle mik nou maar Marseilles omdat Barcelona ontoeganklik is. Later hoor ons: net Duitsers, Amerikaners, Kanadese en Franse is toegelaat om die skip te verlaat. Teen 13:00 is ankers gelig en het die Costa weer begin begin vaar omdat hulle skynbaar “onwettig” in Marseilles was. Waarheen weet g’n mens. Die wat weet. wil nie sê nie. Is dit Savona in Italië . Is dit Genoa?

Die passasiers wat Engels kan praat of verstaan het blykbaar bande gesmee. Hulle sou uit hul geledere ‘n komitee kies om vir die kaptein te gaan sê hulle gaan sowaar nie in Genoa afklim nie, kom wat wil. Daardie Italiaanse hawe lê omtrent in die episentrum van die huidige rooiste van rooi gebiede. Hoop vir Almero en Carien en die ander se onthalwe hul pleidooi val nie op dowe ore nie, maar die wind waai frisserig wes.

Op die webblad Friends of the MSC was gister ‘n noodoproep van ene Tozelle Kohlmeyer dat iemand tog haar ouers te hulp moet snel. Hulle is onder die 168 Suid –Afrikaners wat weier om in Genoa af te klim. Volgens Tozelle word hulle met inhegtenisneming gedreig as hulle sou weier om te gehoorsaam. Onder hulle heers blykbaar ontsteltenis, selfs paniek.

Op ‘n ander Costaskip, die Costa Luminosa is die passasiers sedert Sondag in hul kajuite in kwarantyn nadat vier passasiers positief vir Covid- 19 getoets is. Op die skip is 36 Suid-Afrikaners. Die vier koronalyers het intussen die skip verlaat. Die skip het op 24 Februarie Fort Lauderdale verlaat en is ook nou in Italianse waters, blykbaar op koers Savona of … behoede dit .. Genoa toe.

(Die Costastories herinner ook aan ‘n ander Bybelse woord, nie waar nie, dat jy, as jy oud is, na plekke geneem sal word waar jy nie wil wees nie!)

NASKRIF: Skip het laat vanoggend (Saterdag) in Genoa vasgemeer. Wat nou? Niemand weet nie. Wag blykbaar op die ambassade in Rome. En dis naweek.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page