Opperste misleiding, sal party mense dit waarskynlik noem, maar as jy diere wil dokter, deug eerlikheid en deursigtigheid nie altyd nie. Toe besluit word om Sabiepark se hiënabevolking teen hondsdolheid in te ent , is derhalwe ‘n spesiale lokaas uitgesit.
Nie net die vars geur van rooibok nie, maar ook die geluide van hiënas by hul prooi is ingespan om hulle ‘n sentrale plek te lok, waar ‘n span met pylgewere oorgehaal gesit en wag het.
Hiëna se kind het nie op hom laat wag nie. Een was vinnig op die toneel, toe twee, toe drie…. Uiteindelik het tien vir die “banket” opgedaag – die eerste keer dat soveel hiënas in Sabiepark op een kol saamgetrek gesien is.
Dit het gelyk nes ‘n skermutseling in Robin Hood se tyd soos die pyle op hul teikens afzoem. Al tien diere is daar en dan ingeënt. Drie maande later is die oefening herhaal. Die geure en klanke is weer gereproduseer, maar die trefkrag was dié keer minder. Slegs vier het vir die aanjaer-behandeling opgedaag.
Hiënas teen hondsdolheid inent? Dit klink nogal vreemd. In Sabiepark is dit egter wys geag nadat vier rondloperhonde die park in die vorige ses maande binnegedring het – almal met die dodelike siekte hondsdolheid onderlede, volgens toetse wat later in Skukuza gedoen is.
Wetende dat hiënas min fiemies het as dit by kos kom (soos vele eienaars weet!), en dat selfs die karkas van ‘n dooie hond waarskynlik daardie aasdiere se eetlus sal aanwakker, het die owerhede en magte op “Operasie Vaksinasie” besluit.
Hoekom tien in Sabiepark saamgehok was, word toegeskryf aan die energieke jag-aktiwiteite van ‘n trop leeus langs die Sabierivier, nie net om hul honger te stil nie, maar ook as oorlogsverklaring teen hul aartsvyande in daardie omgewing.
By twee geleenthede het twee jong leeus drie hiënas – een nogal die matriarg – aangeval en doodgemaak. Die naasbestaandes het Sabiepark vinnig as toevlugsoord geïdentifiseer en daarheen uitgewyk.
Die feit dat twee luiperds in daardie tyd in Sabiepark doenig was, was ‘n verdere bonus wat die hiënas langer laat vertoef het om die luiperds se lerwe by hul prooi te vergal.
Nadat die leeus koers gekies het, was die grootste gevaar vir die hiënas afgeweer, en is die meeste gelukkig weer vort, terug Kruger-wildtuin toe. Maar nie almal nie, hoor, nie almal nie…
Hierdie ene op die foto het verlede Sondag (9 Januarie) om 16:00 by my watergat opgeduik. (Dankie aan die Sabiepark-nuusbrief vir inligting oor die massa-inenting. – HvD)
コメント