….
Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020) via LitNet:
Verklarings van Media24:
Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke “The Lost Boys of Bird Island” en “Die Seuns van Bird Island” asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.
….
Vanoggend wil ek vaderlik ‘n ope brief rig aan Jean Oosthuizen rakende sy manifes oor die Bird Island-sage wat hy kans gesien het om op 15 Augustus 2018 op Facebook te publiseer. Amper 500 mense wat ewe mislei was of daardeur mislei is, het dit sogenaamd ge-“like”.
In die manifes bestaande uit 11 genommerde paragrawe kap hy links en regs. Hy loop my van ‘n kant af oor my onmiddellike veroordeling en verwerping van die boek. Met die gewone selfvertroue wat hy openbaar wanneer hy graag in die media oor godsdiens, kerksake en morele kwessies pontifiseer, bevind hy dat ek “ bog” praat. Finish en klaar.
Oor die destydse verklaring tot steun van genl. Magnus Malan deur genl. Constand Viljoen (nou saliger) namens die Weermag-generaals was hy ewe neerhalend. Dit, bevind hy, is ook maar net “nog ‘n verklaring.” Die paragrafie eindig met ‘n arrogante veeg in genl. Viljoen se rigting: “Sak Sarel. Nag generaal.”
Intussen het die boek vinnig verkrummel. Taks om taks is nuwe spykers in sy doodskis getimmer namate die feite bekend n die leuens ontmasker is. Die “bog” wat ek dan sou gepraat, was toe nie “bog” nie maar die waarheid – een van die hoekstene van die joernalistieke beroep, waarvoor ek baie lief is.
Gister het NB Uitgewers ‘n tweede keer teruggekrabbel. Skielik vra hy nou al drie die ministers wat hy beswadder het, en hul families om verskoning vir hul onverdiende pyn en lyding. Hy staan heel weg van die boek en bied verder o.m. ook aan om sy R2,3 miljoen wins op die boek beskikbaar te stel aan mnr. Barend du Plessis om aan ‘n organisasie van sy keuse te skenk, met naamregte, d.w.s. iets soos die Barend du Plessis-hulpfonds.
Né hierdie skouspelagtige ommeswaai van die ontnugterde uitgewers sal Jean Oosthuizen seker saamstem dat sy manifes ‘n “mistykie” was. Dit was, om dit sag te stel, voortvarend, oningelig en onjuis.
Bird Island die boek is toe inderdaad “uit die duim gesuig”; ‘n fabrikasie van fiktiewe insidente, ‘n spul wanvoorstellings en ‘n “laagtepunt in die SA publikasiewese”, soos dit al deur ‘n regdenkende redakteur beskryf is. Of stem jy nog nie saam nie, mnr. Oosthuizen?
‘n Apologie vir sy beledigende taal soek ek nie. Wat sal dit my in die sak bring, of vir genl. Constand Viljoen, wat reeds in sy graf is? ‘n Bietjie meer nederigheid aan mnr. Oosthuizen se kant oor sake waarvan hy klaarblyklik minder weet as wat hy gedink het, en ten minste ‘n openbare erkenning dat hy oor hierdie misbaksel van ‘n boek sleg misgetas het, sal ek wel by hom wou aanraai. Dit sal die eerbare weg wees om te volg.
In sy manifes beweer mnr, Oosthuizen voorts dat ek “in die NP se alie ingekruip was”, wat seker sy goeie reg is om te glo en sy demokratiese reg om uit te basuin, hoewel dit lynreg indruis teen bv. die taksering van die gerespekteerde prof. Johannes Froneman my rol in die oorgangspolitiek. Laasgenoemde beskou ek as ongetwyfeld die gesaghebbender taksering. Ons laat dit maar daar.
Maar mnr. Oosthuizen het in sy manifes meer oor my op die hart. Hy skryf ook nog die volgende: “Hy het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig? “ Korrek – in een opsig. Ek was lid 12951 van die Afrikaner-Broederbond en is dit nou nog van die Afrikanerbond. My lidmaatskap het nie uitgelek nie. Dit is deur myself in die jare 90 bekend gemaak. Ek was ook lid van die F,A,K, is lid van die Akademie, die Erfenisstigting en ‘n Vriend van die Voortrekkermonument, wat seker deur mnr, Oosthuizen met afkeur bejeën sal word. Sy goeie reg. Ek is trots op daardie verbintenisse.
Wat nie korrek is nie . is dat ek sogenaamd “op die NP se takke en besture gedien” het. Die vergissing is voorheen aan mnr. Oosthuizen uitgewys. As hy dit iewers reggestel het, het dit ongelukkig nie onder my aandag gekom nie. As hy volhou dat hy nie met hierdie bewering die waarheid geweld aandoen nie nie, vra ek hom beleefd om te bewys waar en wanneer ek lid van ‘n NP-bestuur was.
Vergaderings van die NP-hoofbestuur wat ek bygewoon het, was op uitnodiging as redakteur van Die Volksblad. Dus: ex officio. Dit was niks buitengewoon nie. Prof. Piet Cillié het as redakteur van Die Burger dieselfde gedoen. Ook ander redakteurs van Die Burger en Die Volksblad totdat die inisiatief van koerantekant gekom het om daardie gebruik te laat vaar.
Hier volg nou die manifes van 15 Augustus 2018. My advies aan mnr. Oosthuizen is: lees dit aandagtig, vergelyk jou aansprake daarin met die werklikheid soos dit ontvou het. Besin dan daaroor hoe dit jou geloofwaardigheid as meningsvormer ondermyn wanneer jou vooroordeele jou oordeel so vertroebel.
Hennie van Deventer
Jean Oosthuizen se manifes:
Ek glo nie in samesweringsteorieë nie maar ek wil ook ‘n straaltjie pie op Birds Island.
Ek dink nie alles in die boek is noodwendig korrek nie. 2. Ek dink ook nie alles in die boek is uit die duim gesuig nie. Dit moet ‘n baie dik duim wees. 3. Ek dink Volksblad se oud redakteur wat so selfversekerd verklaar alles in die boek is bog praat bog. Hy was self in die NP se alie ingekruip, het op die NP se takke en besture gedien en was lid van die geheime broederbond. Moet ons nou sý mening ernstig opneem as objektief? Rerig? 4. Die oud generaals soos oom Constant se verklarings oor Birds Island se dinge is ook maar net dit. Nóg ‘n verklaring. Amper soos daai destyds dat die weermag nie in Angola was nie. Sak Sarel. Nag general. 5. Die basis van die storie in die boek was al in die 80’s welbekend onder baie joernaliste al het Volksblad se oud redakteur nie daarvan geweet nie. Hy het ook nie van Vlakplaas “geweet” nie. 6. Ek weet nie of Mark Minnie homself geskiet het nie. Indien wel wonder ek hoekom. 7. Ek dink te veel mense wat niks van die saak weet nie dink hulle weet alles daarvan en dit geld vir beide kante. 8. Wat ek weet is dat daar baie vir ons gelieg is in die verlede. Politici het nie toe minder vir ons gelieg as nou nie. Ook nie generaals nie. 9. Die derde oud minister se verweer dat hy nie Nagmaal sou kon gebruik as hy skuldig was nie maak my ook nie opgewonde nie. Katolieke priesters wat kinders gemolesteer het, het Sondag na Sondag Nagmaal gebruik én bedien. 10. Ek hoop ons kom nader aan die waarheid ter wille van almal wat betrokke is. 11. Laastens wens ek mense wil ophou om die boodskapper te skiet.
Jean Oosthuizen
15 Augustus 2018.
Комментарии