* * * Alta Cloete se Opdrag van oorkant is ’n groot verrassing. Op verskeie gebiede. Ten eerste is dit nie ’n liefdesverhaal nie. Wees gewaarsku. Hier is heelwat liefdesintriges in, maar as jy ’n boek soek oor daardie beeldskone man wat ’n reikhalsende vrou van haar voete afswiep in ’n stomende kus, hou verby. Goed, Alta skryf al lankal nie meer hierdie soort liefdesverhale nie. Om die waarheid te sê, gaan kyk na die kortlys van die Liefdesverhaalafdeling vir die 2015 ATKV-Veertjies, dan is daar nie een boek wat aan die stereotipe voldoen nie. Hier is die kortlys. Jy gaan ver soek vir reikhalsende vroue in hierdie boeke.
Stiletto’s van staal – Bernette Bergenthuin
Ewebeeld – Chanette Paul
Raaiselspieël – Chanette Paul Alta se Geur-reeks, en die Seisoene-reeks wat daarop gevolg het, was al donker boeke met baie vleis aan. Tog was daar uiteindelik ’n samekoms van soekende siele. Daar was dus ’n mate van genoegdoening vir die persoon wat man A by meisie A wou uitkry. Ek het egter haar boeke gelees vir die interessante familie-intriges. Alta se sewe boeke in hierdie twee reekse is baie onderskat, want die literati besef nie hoe subversief sy al die jare skryf nie. Waarom is Opdrag van oorkant dan ’n verrassing? Lees self. Selfs iemand wat Alta se werk ken, sal verras wees. Dis ’n besonder knap roman wat my telkens, meer as een keer, op die verkeerde voet gevang het. Die hoofkarakter is al ’n ou vrou, in haar eie woorde, en tog, ná al die jare, hunker sy wel na ’n bepaalde man se teenwoordigheid. Dit is ’n vleeslike hunkering, want die ouderdom onderdruk nie die libido nie, maar dis ook ’n meer verstandelike hunkering. Wat dán gebeur moet julle self lees, en asseblief, wees baie bang vir spoilers op hierdie boek. Ek kan meer as die helfte van die goed nie hier noem nie, want dan gaan ek die leser se genot wegneem.
* * *
Die plot: Ek beloof hier volg nie spoilers nie - wat ek hier noem sal jy in die eerste tien bladsye raakloop, en daarna raak die boek éérs interessant.
Coenraad Beyers sterf kort na hy ’n plofbare outobiografie geskryf het. En hoe. Deur die loop van die verhaal leer ons Coenraad se lewe ken, en dis baie ná aan ’n plotlyn wat André P. Brink sou kon uitdink.
Om die waarheid te sê, ek twyfel vir geen oomblik dat Coenraad Beyers losweg op Brink geskoei is nie.
Goed. Beyers sterf en rig ’n bisar versoek aan die vier vroue in sy lewe. Hulle moet instem om die boek saam-saam te bemark, anders verskyn dit nie. Die wortel is dat die boek goed sal geld maak.
Aanvanklik wil die vroue nie, maar dan gebeur ’n paar goed wat hulle tog laat saamspan.
Lees self.
Ek is ernstig dat hierdie boek André Brink se kopknik sou wegdra in terme van die sterk politieke ondertoon wat hier ingebou is. Sien my nota oor Vryheid in Suid-Afrika en dink mooi oor vroue se rolle in hierdie dae.
Struktureel is die boek egter nie so moeilik soos Brink op sy beste was nie. Die boek lees maklik, eintlik vinnig, en ek het ’n groot deel daarvan (die laaste) tjankend op ’n vliegtuig sit en lees verlede Sondag.
Ja, ek het getjank.
* * *
Koop dit en lees dit voor die spoliers instroom.
Hou die snesies gereed.
* * * Van Brink gepraat: Karina Szczurek, Brink se weduwee, verdien ook vermelding op Vrouedag. Sy huldig Brink as ’n deel van ons almal se erfenis op maniere wat soms pynlik moet wees vir haar. Ek verstom my aan haar vrygewigheid. Sy doen in die werklike lewe vrywillig wat Alta Cloete se fiktiewe vroue onder dwang doen. Szczurek se bundeling van die briewe tussen Brink en Ingrid Jonker verskyn eersdaags. Hou dit in gedagte.
Comments