top of page
  • Uitmelkbos

OP VER PAAIE WOORD GEBRING


Gereed vir “huisbesoek”. In Parys was ds. Ockie net vyf dae per maand tuis.


Ds.Ockie Raubenheimer (92) se plek in die kerk is nou finaal leeg. Ook in die NGK Melkbosstrand. Vyf jaar lank was hy elke Sondagoggend van vroeg hier fier en regop op sy pos in die gangetjie by die hoofdeur. Kennisse is met ‘n breë glimlag en ferme handdruk gegroet.

Die laaste jaar of twee het ds. Ockie se bywoning minder gereeld geword. Die gesondheid het begin lol. Daar was ‘n terugslag, en nog een, en nog een. Onlangs was hy geruime tyd in die hospitaal. Daarna is sy motortjie na die kleinkinders. Dit was die einde van die Sondaguitstappies uit Parklands.

In sy lewe het die wellewende veteraanleraar – soos Paulus, gereis en geskryf het – die wêreld vol gereis en gepreek: “letterlik,” in sy eie woorde “van die sone van die middernagson in die Noordelike Halfrond tot waar die son agter Marioneiland in die Suidelike Halfrond ondergaan.”

Op 24 Desember, op die vooraand van Kersfees 2016, het sy son ook ondergegaan. ‘n Lang, lang seisoen van ver paaie loop het tot ’n einde gekom.

Ds. Ockie het sy verswakkende gesondheid lank dapper probeer wegsteek. Hy was eenvoudig te beskeie om die aandag op hom te wil fokus. Dit was egter nie altyd moontlik nie.

In Maart 2012 sou hy ons Melkbosse gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek oor sy bediening in die buiteland”. Die oggend daag hy toe op met ’n kierie. Dit het ek nog nie voorheen raakgesien nie.

Die voorsitter, Elna Smit, werp egter lig. Sy kondig aan dat sy hom nie aan die woord gaan stel nie – hy voel “ ’n bietjie olik”. Dit blyk die man, bejaard soos hy is, het uit sy hospitaalbed opgestaan, sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, hom – soos altyd – spiekeries uitgevat en siek-siek sy afspraak kom nakom.

Met sy kenmerkende glimlag stap die kloeke ds. Ockie daarop self waardig na die kateder, betuig sy spyt dat hy nie die toespraak kan lewer nie, groet vriendelik en keer terug hospitaal toe waar hy vir ’n ernstige bloedprobleem behandel word.

Die Sondag daarop het ds. Ockie die gemeente verras deur, stralend soos altyd, die erediens by te woon, terwyl sy naam nog lewensgroot as hospitaalpasiënt in die nuusbrief staan! Hy was fluks aan’t herstel ná die groot terugslag. Maar die stygende jare het hul tol geëis. Daarna was weer ’n terugslag, en nog een, en nog een. Onlangs was hy geruime tyd in die hospitaal. Sy motortjie is na die kleinkinders. Die organe het eenvoudig moeg geraak. In sy herfsjare kon hy terugkyk op ‘n vol en vrugbare lewe.

Sy buitelandse bediening het 60 jaar gelede begin: by die Suid-Afrikaanse weerstasie op Marioneiland in 1955. Die ruggraat daarvan was van 1971 tot 1975 as weermagkapelaan in Parys, Frankryk. Hier was hy 25 dae per maand op die pad. Een Sondag per maand het hy ‘n diens in Londen gaan hou. Dit was die voorloper tot die Londense gemeente, waar sy seun, ds. Ockie junior, ook later was. Die gemeente was in ’n stadium 8 000 tot 9 000 lidmate sterk.

Uit Parys het hy Suid-Afrikaners in 17 lande van Europa, asook vyf lande in Suid-Amerika, in Noord-Amerika, Kanada, die Midde-Ooste en Japan bearbei. By alle Suid-Afrikaanse buitelandse sendings het ds. Ockie gou ’n bekende en geliefde figuur geword.

Afrikaans of Engels het vir hom geen verskil gemaak nie. Elkeen wat wou, kon met vrymoedigheid aanklop. Dan was hy vinnig Finland toe vir ’n buitengewone doop; dan was hy voorsanger by ’n vreemde diens in die suide van Argentinië; dan weer was hy by die Suid-Afrikaanse skooltjie in Toulon, in die suide van Frankryk, met die indiensstelling van Suid-Afrika se eerste drie duikbote.

Vroeër is sy vrou, Veda, wat hom nege jaar gelede ná ’n huwelik van 57 jaar ontval het, en hul sewe kinders in hul Volkswagen Kombi saam op vele toere in Afrika. Die Kombi is die “rooi posbus” gedoop weens die negestuks wat so styf ingeprop moes sit.

Snags moes hulle, elk in sy eie slaapsak, soos tipiese posstukke in drie lae slaap. ’n Rak onder die dak het bedags as pakplek vir beddegoed en oortollige klere ge¬dien en snags as krip vir die jongste. Hul Erka-sleepwaentjie was onmisbaar as spens en kombuis.

Met sy 90ste verjaardag op 13 April 2014 het die Raubenheimers feesgevier by Hemel en Aarde, Hermanus. Van sy 47 nasate was 42 teenwoordig. By die fees het die gedagte ontstaan: Kom ons stip in boekvorm aan waar ons klomp oral gewerk en vakansie gehou het. Hulle begin toe tel en tel. Die slotsom was asemrowend. – sy eie en sy nasate se voetspore lê in 272 buitelandse plekke. Die patriarg se bydrae was vanselfsprekend verreweg die grootste.

Een van sy sak vol anekdotes was oor ’n diens in die suide van Argentinië. Ná die diens is van die ambassadeur afskeid geneem. “Sing asseblief vir ons van ons ou bekende Afrikaanse volksliedere,” kom die versoek toe tot die besoekende leraar. Maar skaars het hy weggeval, of die kitaar en konsertina kom uit – en daar dans die klomp vir ’n vale. Moontlike koerantopskrif wat hy later self in ‘n geselsie aan die hand gedoen het: “Kapelaan voorsanger op dansvloer”!

Ds. Ockie was een van vier kinders uit ’n arm huis. Sy pa het ná ’n vyf jaar lange droogte in Calvinia se Karoo uitgeboer. In 1927 het die gesin na Randfontein getrek om vir ’n Jood op ’n groenteplaas vir £13 per maand te boer. Vier jaar lank moes hy vyf myl heen en weer na ‘n laerskool op Randfontein pendel, eers te perd en later op ’n fiets met ’n jonger sussie agterop.

Universiteit was eers op Potchefstroom, toe Stellenbosch. Later as predikant in die Wes-Kaap en Transvaal is hy verder toegerus vir vir sy uiteindelike roeping: nie as ’n skaapboer tussen die Karoobossies nie, maar ’n skaapwagter van Sy diverse en verspreide kudde anderkant die waters, soos hy dit gestel het.

‘n Lywige boek kan oor Ockie Raubenheimer se lewe geskryf word. Hopelik durf iemand die ambisieuse taak aan. So ‘n boek sal ná sy dood ‘n ewe groot inspirasie kan wees as wat die wellewende veteraan in sy lewe vir sovele was.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Commentaires


bottom of page