(Askies vir die agterstevoor ou skyfie
Vervelig, het die resensent Cecile Cilliers die hoofstuk “Padlangs” in my 2003-boek “In Kamera” brutaal genoem. Daardie hoofstuk handel oor die motors in my lewe, en motors is klaarblyklik ‘n onderwerp waaraan die uitgesproke me. Cilliers nie juis erg het nie.
Wel, as my motorstories vervelig is, het die vorige blog oor my wenkarre sekere bloglesers waarskynlik dodelik verveel. Die verveeldes moet hierdie blog dan ook maar oorslaan, want dis weer oor ‘n kar.Die herinneringe aan die maroen Dodge en die Valiant Charger het die herinneringe aan my getroue Totyota Corona Merk II-stasiewa weer laat opvlam.
In 1976 is die gesin Van Deventer na Amerika vir die Nieman-jaar. Ons wou soveel as moontlik teen die laagste moontlike koste van die land sien. ’n Stasiewa het na ’n goeie keuse gelyk; veral ’n viersilinder. Ons koop toe die 1972-Merk II teen $1 500, wat daardie tyd ’n bietjie minder as R1 500 was. Inderdaad goeie ou dae! En ons begin die kilometers opsit.
Noordwaarts was ons met dié staatmaker tot diep in Kanada, waar ons deur uitgestrekte sneeuvelde moes ploeg. Suidwaarts was ons tot in Key West, die suidelikste punt van die land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana af. En die Corona het die straf gevat! Toe ek aan die einde van daardie jaar in Boston se koerante adverteer, was die kopers volop. Ná ’n jaar se harde werk en sowat 24 000 kilometer op die meter is hy vir $1 000 verkoop. Ek meen ek sou $1 200 kon kry as ek nie so haastig was nie.
Vir die Amerikaners was dit altyd ’n snaaksigheid as ons met ons stasiewa ’n woonwakamp binnery en tussen hul massiewe huise op wiele kom parkeer. “Where d’ya sleep? D’ya have a tent?” Dat ’n mens – of liewer: vier mense! – agterin so ’n kompakte stasiewa kon slaap, was vir hulle ongelooflik. Maar dikwels was ons soort slapery juis die aanknopingspunt vir lekker geselse.
Dosyne kere het ek, Tokkie en Johan (5) en Marisa (3) die agterste sitplek platgevou, ’n matras oopgerol en die slaap van die regverdiges geslaap. ’n Blik sardientjies soos min! Net een nag was daar ’n ligte krisis.
Terwyl die sneeu by die ski-oord Waterville Valley in New Hampshire se White Mountains buite neersif, kry Marisa ’n ongelukkie. Onvermydelik kring die glipsie gou uit tot nat kolle wat die ander slapers ru uit hul drome wek. Die skok gee ’n kettingreaksie af waarin die vader des huises eers sy kop ongenadiglik teen die dak stamp en daarna die moeder met sy elmboog skuins langs die neus tref. Dit sit haar aan die praat, nie juis in sitkamertaal nie.
Die res van die nag verloop bra gespanne met huilende kinders, omgekrapte grootmense, nat komberse en ’n nat winterkoue wat eensklaps deur elke stukkie ondigtheid in die stasiewa se bakwerk begin sypel. Toe die son daardie oggend oor die sneeubedekte kruin van ons naweekberg loer – eintlik ’n asemrowende gesig – strompel ons moeg, vies, vaak en koud na buite, gaan leen kookwatertjies by ’n barmhartige buurman en drink ons ons Amerikaanse boeretroos asof dit die wonderlikste ding op die aardbol is.
’n Keer het ons selfs ’n oornaggas gehad: skrywer Hans du Plessis. Hy het hom vir die nag agter die stuurwiel ingewikkel. Die volgende oggend was sy litte egter maar stram. Toe gaan soek hy ’n hotel. Só ontwikkel ’n voordelige sisteem.
Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.
Die berugte winter van 1976–77 met sy sneeustorm op sneeustorm – die “Big Freeze” het koerante dit genoem – het vir ’n oningewyde soms verskriklike probleme opgelewer. In Kanada moes ek ’n keer seker 50 tot 60 kilometer deur ’n sneeuveld kruip teen ’n slakkegang van kwalik meer as 40 kilometer per uur ’n Sterk wind het die sneeu in vlae oor die pad gedryf. Dit is deur elke moontlike skrefie na binne gepers. So ver ’n mens kon sien, was dit wit. Langs die pad was talle motors wat in sneeubanke vasgery of sommer net steeks geraak het. Met die Merk II het ons deurgedruk en by ons bestemming aangekom; sopnat van die sweet maar ongeskonde.
Wat my elke keer verwonder het, is dat die enjin so maklik kon vat, selfs nadat ’n nagtelike storm ’n vrag sneeu op die kar gegiet het. Dikwels moes ek ons ryding letterlik met ’n graaf losgrawe. As jy die sleutel egter ’n keer of drie gedraai het, begin die enjin rukkerig luier – vir hierdie Suid-Afrikaner nou nog ’n werktuigkundige wonderwerk.
’n Roes op Amerikaanse motors is die sout wat op die paaie gestrooi word om die sneeu te laat smelt. Dit laat gate in die bakwerk val, veral op die modderskerms. Ook die Merk II het deurgeloop, maar die koper was nie juis daaroor besorg nie. Vir hom was dit ’n “nice car, hey?” en klaar.
Comments