top of page
  • Uitmelkbos

OP SARIE – HEILDRONK IN DIE MAANLIG


‘‘Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit – dit was een van die liefdesverhale in die eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, sestig jaar gelede, verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.


Die aand van 6 Julie is afgemerk op die 2009-almanak in die kombuis van ons Sabieparkse boshuis. Ek sal daardie aand by ‘n vuurtjie hier by Wildevy 154 langs die einste Sabierivier, met die rivier se geruis in my ore, ‘n glasie op Sarie se sestigste klink.


Net 24 uur later, op 7 Julie, is dit inderdaad “Maanlig op die Sabie”. Dan is dit volmaan en klink ek graag ‘n tweede glasie op daardie heuglike verjaardag-okkasie. Volmaan in die raam van die nagtelike takke-netwerk is immers een van die groot bekoorlikhede van die bos – uitgeknip om iets romanties te doen soos om op ‘n sjarmante tydskrif ‘n heildronkie te geniet.


Die geboorte van Sarie sestig jaar gelede herinner my aan my eerste besoek as agtjarige seuntjie aan die stad Bloemfontein waar ek later in my lewe as joernalis twee gelukkige skofte van 12 jaar elk sou deurbring. Pas na Sarie se buiging is ek saam met my oom Willie en tant Minnie Smith asook hul kinders, my neef Ben en niggie Elize, van Kimberley af na die Vrystaatse hoofstad vir die een of ander doktersbesoek.


Hoewel die datum dit onwaarskynlik laat lyk, herinner ek my dat ek daardie dag stokkies gedraai het en dat die vrolike tant Minnie aangeraai het ons moet vir my standerd-twee-onderwyseres, die strenge Juffrou Muller, sê dat ek die pasiënt was – en wel om my stembande te laat ondersoek.


Ek het blykbaar al in daardie tenger jare ‘n volume kon voortbring wat luidsprekers en daardie klas ding vir die volwasse Van Deventer onnodig gemaak het as hy, soos Sewende Laan se Oom Septimus, ‘n “gevleuelde woordjie” spreek.


Op aandrang van my tante het ek in Bloemfontein vir my weduweema, Baby, ‘n geskenk gekoop. Sy het sjokolade aan die hand gedoen.


By ‘n straatverkoper naby die ou Oranje-hotel in Maitandstraat het ek egter die eerste uitgawe van Sarie sien lê. Die voorblad het dadelik my aandag getrek. Daarop verskyn ‘n moderne meisie met ‘n aantreklike bloese wat ontleen is aan die drag van ‘n Voortrekkernooi, soos ‘n skim op die agtergrond. Dit het ‘n sikspens (5c) gekos –presies die bedrag wat in die vorm van twee tiekies in my sak was.


Ek het gemeen my ma sal daarvan hou. Sy het. Ek is behoorlik gesoen en gedruk om dankie te sê.


Ma Baby het my later vertel hoe lief sy vir Sarie Marais se voorganger Die Boerevrou was wat deur Mabel Malherbe gestig is en waarvan M.E.R ‘n mede-pionier was. My tannie Hettie van Deventer van Rondspring, Babanango, het glo ook gereeld bydraes gelewer – die eerste Van Deventer met drukkersink in die are!


Ma het daardie Sarie Marais lank soos ‘n kleinood gebêre. Later is dit ook maar deur mot en roes verteer.


Enkele jare gelede het my skoondogter, Mariza, ‘n eksemplaar by ‘n tweedehandse-boekwinkel raakgeloop. In hom is ‘n brief in sy eie handskrif deur Fred le Roux, die eerste redakteur. Die datum van die brief is 1 September 1950.


Le Roux konstateer: “Hierdie nommer van Sarie Marais – 6 Julie 1949 – is die eerste van ‘n nuwe weekblad wat deur die Nasionale Pers Bpk. vir die Afrikaanse Vrou uitgegee word.”


Ek blaai graag daarin en lees die eerste verhale uit die penne van bekendes soos E. J. M. Fraser, Marie Linde, Louise Behrens, G. Sutherland en andere.


In die eerste Sarie Marais is ‘n artikel deur Elsa Joubert oor die sogenaamde “New Look”, na ‘n besoek aan die modehuis van Christian Dior in Parys. M..E.R. gee ‘n wenkie vir blommerangskikkers. Sy vra: “Wat is die aandblom sonder maanlig of die gousblom sonder sonlig?”


Maar Tryna du Toit se storie oor “Maanlig op die Sabie” – dit roer my hartsnare meer as enigiets anders in daardie eerste Sarie.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


bottom of page