top of page
  • Uitmelkbos

OP OU VOETSPORE

 Om op ou voetspore terug te loop, is vir my ‘n hartsaak.

 Ek is ‘n reünie-man en gaan loer graag op Volkies en Tukkies by my ou klas- en koshuiskamers in.  Ek gaan soek my geboortewêreld in Kwazulu-Natal op en trotseer dongas om op die werf van ons plaashuis naby Babanango te kom.  Ek gaan kyk hoe lyk die Diagonalstraat 10, Kimberley, Botanic Grove 9, Berea, Durban, en Neeltjiestraat 20, Meiringspark, Klerksdorp van my kinderdae.

 As ek in Bloemfontein kom, sal ek nie die geleentheid laat verbygaan om weer by Kmdt. Senekalstraat 33 en Van Schoorstraat 1 in Dan Pienaar ‘n draai te maak nie. As ek op die N1 verby Johannesburg ry, draai ek af Maroelastraat 3 (eers 936), Randparkrif 3 toe.   

 Sou wat wou gee om verlede week saam met tydgenote Sarel Venter en Piet Theron by Volksblad ‘n vleisie te gaan braai ter ere van ons kollega Nols Nieman wat jonk-jonk op 60 oorlede is.  Die twee het nie net lekker saam met die jongklomp gekuier nie; hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die gebou geneem.  Dit was klaarblyklik ‘n openbaring.   

 Sarel skryf: “‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek by die motorhek van die parkeerterrein oos van die gebou inry. ‘n Veiligheidswag, duiwelsvurkheinings, parkering waarvan die meeste onderdak is, netjiese plaveisel en beheerde toegang na die gebou. Ek was meer as twaalf jaar laas daar waar ek 36 jaar gewerk het.

 “Dadelik het my gedagtes teruggegaan na my eie parkeeromstandighede van lank gelede: eers oorkant die straat (waar ons gewedywer het vir die skaduwee van die Monte Carlo-teater), toe iewers langs strate sonder parkeermeters, toe op Ramblers se terrein onder ‘n afdakkie (waar my motor eendag oopgebreek is), later aan die oostekant van Ramblers onder nette, ‘n paar maande tussen die redakteur en die bestuurder se motors onder die afdak by die Volksblad-gebou, en toe tot my aftrede weer onder die Ramblers se nette, aan die einde van ‘n donker paadjie langs Wes-Burgerstraat.  

 “”Dit lyk vir my of die meeste van die mense wat vandag by Volksblad werk, op hierdie betreklik nuwe, veilige en gerieflike terrein parkeer wat van straat tot straat strek. Die ingang van die parkeergebied na die gebou is aan die oostekant van die ou binnehof met sy groot boom (karee?) en ‘n grasdaklapa.

 “Die rede vir my (en Piet) se besoek na so baie jare was ‘n uitnodiging deur Gert Coetzee om wyle Nols se lewe te kom gedenk met ‘n braai. Dankie aan Gert, Dirk Kok en Pieter Steyn.

 “‘n Klompie jong Volksblad-werkers van die vroulike geslag was ook dadelik by om te hoor wie is ons. Die ‘aangename kennis, Sarel!’ en ‘bly te kenne, Piet!’ uit vrolike kele wat al ‘n bier of wat geniet het, het later darem ‘oom Sarel’ en ‘oom Piet’ geword. Meen, hulle is mos maar eintlik kinders teen ons! Een het vertel dat sy by die ontvangstoonbank werk, ‘n ander een kom van sirkulasie af en nog een van advertensies.

 “Bekendes daar was ook die tegniese manne Kobus (of Torie) en Jackie – al sterk middeljarig.

 “Toe ons later die aand groet was genoemde dametjies en ‘n paar ander nog gesellig aan die kuier in die opleidingslokaal langs die binnehof. En toe een sê sy wil ‘n drukkie hê, het die ander ook ewe vrypostig daarvoor nader gestaan. ‘n Vreemde wêreld, inderdaad!

 “Nog voordat ons tjops en wors, broodrolletjies en aartappelslaai – wyn en bier was op die huis, lyk dit vir my – gereed was, het Gert vir my en Piet op ‘n toertjie deur die gebou geneem. Werklik nóg ‘n vreemde wêreld. As ons destyds gedink het die vernuwings en herindeling van ruimtes onder leiding van argitek Fanie van Jaarsveld jare der jare gelede was iets groot, het ons nie kon droom oor wat later en herhaaldelik weer in die gebou gedoen is nie.

 “Ek kon min dinge sien wat bekend lyk, en sou heeltemal verdwaal het as Gert nie saam met ons was nie. Die brandkamer se deur is nuut geverf, maar is nog dieselfde. Die traprelings is nog goed versorgde hout; weet nie of dit al vervang is nie. Die ou ‘stuurkas’ wat later die konferensiekamer geword het, met die lang tafel wat destyds in administrasie vir sortering van pos gebruik is, staan nog daar, maar die mure is vol moderne skilderye en selfs ‘n reuse-platskerm waarop foto’s vir keuring tydens nuuskonferensies vertoon word.

 “Die redakteursfoto’s wat in ‘n stadium uit die redakteur se kantoor verwyder is omdat dit kwansuis ‘spoke uit die verlede is’ , het teen die straatkantmuur van die konferensiekamer gehang. In Ainsley Moos se tyd is daardie hele muur met glas vervang en is die foto’s na die gang verskuif. Daar, regoor die deur na die redakteur se sekretaresse,  is dit myns insiens meer prominent en ‘n waardige galery van foto’s.

 “Ook goed om te sien: die talle uitstalkaste met memorabilia. ‘n Blye weersiens vir my was die klein ossewaentjie wat in 1988 deur die FAK aan Die Volksblad toegeken is vir die beste beriggewing oor die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Nog in sy glaskas met ‘n geraamde hoofartikel, ‘Ons hartklop’ , daarop aangebring. Die waentjie was glo lank iewers weggebêre nadat dit dalk om politiek korrek te wees, van ‘n prominente staanplek by die trappe verwyder is.

 “Oral is groot oopplanruimtes. In die nagkantoor waar Nelia Grobbelaar steeds hoofsub is, is net ‘n paar vroue saam met haar. Ek verneem die dagsubs onder leiding van Adele Dempers is ook hoofsaaklik vroue.

“Daar is ‘n hele paar klein kombuise. Lank, baie lank nie meer iemand soos ou Grace (tee-vrou) wat swaar skinkborde ronddra nie. (Ek wonder of sy nog leef).

 “In die stuurkas sit toe die aand net Annelize Doubell en Mauritz van Wyk. Dit klink vir my of Mauritz elke aand daar werk. Ander stuurmanne is Constant Steyn en soms Christo van Staden.

 “Die kantoor wat ek van Herman le Roux ‘geërf’ het (langs die trappies na waar die skakelbord eers was en Charl Marais ‘n tyd lank gewerk het) is nou Van Staden se kantoor. Die kantoor waar Paul Marais gewerk het en toe Jonathan Crowther en daarna ek tot my aftrede (langs die sekretaresse se kantoor), is nou Mauritz se kantoor.

 “Dit is byna hartverskeurend om al die moderne geriewe en die gerieflike kantooromgewing, meesal oopplan, maar tog afgeskort, te sien en te hoor daar is net ‘n Gideonsbendetjie oor wat die koerant moet uitgee. Hierdie spannetjie moet te midde van al die gerief en tegnologiese wonderwerke onder groot druk werk om elke dag se koerant die lig te laat sien. Ook ‘n wonderwerk.

 “Ons het die nuwe redakteur, Johanna van Eeden, ontmoet en sy het my botteltjie Chateau Libertas met my gedeel. Ons het lekker gesels. Die feit dat sy haar huistoegaantyd uitgestel het om ons ou veterane (‘has beens’) te ontmoet en ‘n rukkie saam te kuier, tel vir punte.

 “Vir haar en haar redaksie kan ‘n mens maar net die beste toewens. Mag die magshebbers ons Volksblad – steeds fokuspunt van ons lojaliteit – steeds die son gun wat op hom skyn. Mag ons koerant lank lewe!”

 Sarel, dankie vir die herinneringsreis. Die nostalgie het dik geloop by die lees hiervan. Ek sekondeer graag uit Melkbos: Mag ons koerant lank lewe!

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Commenti


bottom of page