top of page
  • Izak de Vries

Op ’n persoonlike noot

(My English-speaking FB-friends can run this through Google-Translate)

Die foto’s het ek gister geneem, vanoggend moes ek help borrels maak. Hier is die storie.

’n Lewe met telge is nooit voorspelbaar nie. Gooi nog twee werkende ouers ook in die mengsel (die ouers kry nie tyd om saam in die bad gegooi te word nie), dan kry jy heerlike chaos.

Toe my knaap klein was, kon ons hom omkoop om daardie sjokoladelyfie skoon te kry deur pa te laat saam bad. Daar is baie skuim in so ’n bad, en die water is koud om nie die sjokolade te laat smelt nie. Pa doen lustig mee, maar droom van die dag dat ’n volwasse, vroulike skuimmaker ’n warm bad met hom sal deel... Intussen verduur hy die koue skuim maar omdat die mannetjie se glimlaggie so kosbaar is.

Knaap het intussen gegroei en stort deesdae – wat vir almal makliker is. Maar gister wou hy weer in skuim bad. (Hy was baie mooi soet, want die skool het vroeër gesluit en ek moes nog ’n vol dag se werk insit, so hy moes homself vermaak terwyl Pa sy werk probeer onder die knie kry.) Hy was teen vieruur al uitgekuier met sy eie geselskap en ek het gehoop ’n bad sou my nog so ’n halfuur gee. Toe nie. Mannetjie hou van ’n waarderende gehoor.

Die vloer, nou ja... Sy ma het maar laat blyk dat sy pa sal moet seker maak alles is weer oukei.

Na die bad is daar so woes gespeel dat Knaap moes gaan stort voor hy sy slaapklere kon aantrek. (Seuntjie, water en modder ... Eish.) Na aandete probeer Pa nog werk, Ma gaan maak siek kinders gesond en Knaap is baie soet.

Pa kom baie laat in die bed, want na hy die eerste deel van die analise afgehandel het, moes daar nog gepoog word om Achille Mbembe onder die knie te kry. (Lees gerus sy werk, hy is Afrika se antwoord op Derrida, maar hy is intelligenter as Derrida.)

Vanoggend moes Pa al weer bitter vroeg op, want ek moes 20 km hardloop en die geliefde moes al weer baie vroeg by die hospitaal wees – so ek moes terug wees voor sy vetrek.

Met my 20 km in my bene (en ’n moerse val later) kom ek vol rowe by die huis aan, soen die geliefde tot siens, stort en geniet ’n halfuur van verdere analise voor Knapie wakker word.

Pa maak Milo, gesels ’n bietjie en ... word toe gevra om weer saam te bad, soos in die ou dae. Nou ja, pa se effens stywe bene is nie lus vir ’n koue bad nie, maar Knapie se gesiggie is so hoopvol dat ek nie kan nee sê nie.

Die probleem is, Knaap is nou heelwat langer as drie jaar gelede, so pa se kant van die bad is kleiner.

Maar skuim het ons gemaak!

Op ’n stadium sê Knaap: “Hou aan tot die biesies bewe!”

Toe ek lag vir die mooi uitdrukking sê hy: “Wat? Ek het dit by jou geleer!”

Wie kan nou nie ’n koue bad waardeer nie?

Etienne van Heerden het so tien jaar gelede ’n slag vir my gesê: “Sakkie, kinders is die Groot Avontuur.” Ek kan nie stry nie.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page