top of page
  • Uitmelkbos

Op ‘n galop

Helen Schöer skryf oor eMajuba, deur Dawie Louw. (Boeke24) En toe raak haar hartjie sag. Helen Schöer begin met die swaar agenda wat Dawie Louw in die roman inbou, en waarmee sy, lei ek af, nie noodwendig saamstem nie. Mens begin al ’n beeld kry van dit waarmee mens te doene gaan kry. Maar sodra sy gesê het die dialoog is lomp, besef sy dat sy eintlik geboei was deur die lees (buite die politiek om, blyk dit). Van sommige elemente in die roman hou sy soveel dat  sy vra dat hy volgende keer meer daarvan moet gee. Ek’s ’n bietjie deurmekaar gelees aan hierdie resensie.

Melt Myburgh skryf oor Kruispad, deur Deon Opperman. (Boeke24) Melt Myburgh skryf met meer sekerheid as Helen Schöer – doelgerig, as jy dit só wil noem. Dis ’n groots opgesette roman (Kerneels Breytenbach se omskakeling van die teks van Opperman se TV-reeks na prosa) waarin Opperman ’n breë oorsig probeer gee het van die Afrikaner se reaksie op die veranderinge wat hom in 1994 en daarna getref het. Myburgh bly in beheer van die taksering van inhoud en hoe dit die sprong na ’n ander genre oorleef, en uiteindelik vind hy wil dinge wat hom hinder. Vir die student van resensies is dit insiggewend om Myburgh se aanslag met dié van Schöer te vergelyk.

Herman Lategan skryf oor Kruispad, deur Deon Opperman. (Rapport Boeke) Waar Melt Myburgh nog ’n neutrale afstand tussen resensent en boek inbou in sy resensie oor Kruispad, het Herman Lategan die lees duidelik dermate geniet dat hy die boek op ’n manier beskryf wat die skrywers sekerlik besonder goed laat voel. Hy sê die skrywers “voer n pas de deux” uit wat hom na sy asem laat snak het. “Hier het ons twee storievertellers se geoefende stemme wat soos ’n duo alchemisties saamsmelt om ’n hoogs pakkende, boeiende duet te vorm”. En dan swaai hy sy resensie vernuftig om ten einde kritiek deur ’n ander resensent te beantwoord. Lategan bou dus wigte en teenwigte in sy resensie in – sy geesdrif vir die roman het as teenpool opmerkings oor die eendimensionaliteit van sommige van die karakters. Sy kritiek op genoemde ander resensent wat Donkerland ’n sepieroman genoem het word aangevul deur ’n omskrywing van inhoud, tematiek en sterk punte. En sy gebruik van een woord, “parvenu” (om ’n karakter te beskryf), was genoeg om my weerstand teen ’n werk soos hierdie af te breek. Daar’s ’n ou spreekwoord wat lui dat die parvenu altyd iemand anders is, en nou wil ek dit gaan toets.

Herman Lategan skryf oor Sonde van Lucinda, deur Anton Schoombee. (LitNet) Teen die tyd dat ek hier by Lategan se laaste woorde gekom het, het ek eers sy Kruispad-resensie gaan herlees. En toe weer hierdie een. Herman Lategan is, wanneer hy van ’n boek hou, iemand wat ’n koerantredakteur se droom is, en sowel uitgewer as skrywer trots sal laat voel op die taalvlug wat hulle by Lategan ontlok het. Sy negatiewe resensies is goed, ongemaklik goed; sy positiewe resensies is eenvoudig skitterend. Enige ervare resensent sal weet dat dit makliker is om ’n negatiewe reaksie te verwoord as ’n positiewe een. Maar om onverskrokke positief te reageer, en te skryf op ’n manier wat laat blyk dat jy dit geniet het om die resensie te skryf – dít is ’n moeilike taak. Lategan gee inligting én dui die dinge wat vir lesers problematies kan word aan: “Die skrywer handhaaf ’n fyn balans tussen ’n wilde dierlike genaai waar die sop spat en ’n meer intieme, liefdevolle seksuele genuanseerdeheid. Wees tog voorbereid: al is hierdie katoolse sekseskapades goed en genotvol geskryf, is daar ook duister oomblikke gekenmerk deur onheilspellende sekstonele wat jou hoogs ongemaklik gaan laat voel, juis omdat baie lesers (behalwe psigopate) sal voel die mure tussen wat aanvaarbaar is en wat vinnig onaanvaarbaar kan raak (met alle seks, ook buite die blaaie van hierdie boek), baie dun is en dit gevaarlik maklik is om deur daardie skanse te breek.” Ander kere gee hy hom oor aan die soort woordkeuses wat dit vir hom moontlik maak om stilisties ’n suggestie te plant oor die soort taal-argitektuur wat jy in die boek onder bespreking mag aantref: “Dis die meedoënlose maanlandskap van die mensgemaakte lewelose waterfront, Jip de Jager- en Durbanweg-afrit, lang boulevards van rook en roet, groot rollende grasperke, skuldbult (ook die metaforiese knop voor in die hoofkarakter se broek) en die verskiklike deprimerende Tygervallei-sentrum met sy flikkerende, folterende neonlighel wat almal na kadawers laat lyk.” Sy beskrywing van die een vroulike hoofkarakter is weergaloos: “Ja-nee, iemand se kaiings gaan uitbraai, en die gode moes toe reeds “Götterdämmerung” in sy of haar ore gefluister het, maar hulle het nie. Sy is 20, sonder matriek, kamma ’n model, en net lus vir een ding: fornikeer, kafoefel; sy wil die slang van sonde in haar voel spoeg. Sý koperkapel is wat sy wil uitruik. Die boek beweeg vinnig, die tempo vat jou op ’n galop soos die skarniere van ’n ou katel wat vinnig kraak.“ Vermoedelik het die vryheid wat die Internet mens bied, Lategan laat voel dat hy maar kan laat waai. Moontlik sou hy nie ’n resensie vir ’n papier-medium op dieselfde manier aangepak het nie. Hoe ook al, só kan dit gedoen word.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page