Twee resensente takel vir Boeke24 die Afrikaanse seksroman van die jaar, Boer kry ‘n vrou, geskryf deur Jan van Staden. Die resensente is Riette Rust en Koos Kombuis. Ek kan nie onthou wanneer laas die pot só skouspelagtig misgesit is as hier nie.
“Warm en wild, maar nie vir almal” lui die opskrif by Rust se resensie. Dit het onmiddellik ‘n sweem van preutsheid, en daardie sweempie word ‘n stuwing in die resensie self. Die resensent bekyk die boek op ‘n ander vlak as dié waarop die roman beweeg.
Sy besing en betreur allerlei in die boek, en sluit uiteindelik af met die opmerking dat dit ‘n vervelige naweek sal opkikker nadat sy vroeg al verduidelik het dat die roman nie vir behoudenes is nie. Onder watter groep skaar sy haarself? Ek vermoed nie onder die preutses nie, ’n bietjie aa en oe verstaan jy, maar hoe sou ek nou werklik kon sê?
Koos Kombuis weer vaar voort onder die opskrif “Boer Kry ‘n vrou: ‘Fifty Shades of Khaki’ oortuig nie”. Mens kan nie juis hande klap vir die oorspronklikheid van ‘Fifty Shades of Khaki’ nie, maar ek neem aan dit het ‘n paar lesers op ‘n skoolse manier gekielie.
Sy evaluering self – ook nadat hy ‘n paar dinge gesoek het wat hy kon prys – wentel om die uitgangspunt dat hierdie roman sekere lewenswaarhede verdraai. Ek’s half verbaas om te sien hoe mnr. Kombuis skarrel na ‘n politiek korrekte hoekie, en vandaar vir Jan van Staden aanvat oor die manier waarop hy liefde en seks met mekaar verwar.
Wat is hier aan die gebeur?
Sowel Rust as Kombuis is nie bereid om die roman te takseer vir wat dit wil wees nie. Albei is té versigtig om te sê of Jan van Staden in sy doel geslaag het – om ‘n roman te skryf wat die leser tittileer, prikkel. Wat die leser se bloed laat bruis en hom/haar ‘n groot en plesierige jagsheid laat beleef.
Boeke soos hierdie verdien nie ‘n analise deur mense wat skaam is om te erken dat die inhoud hulle eroties aangevuur het nie, net so min as wat dit platgeslaan moet word deur ‘n resensent wat te kenne wil gee dat die lyfpret al ‘n bietjie passé is.
Het dit jou aangedraai, of nie. Dis al wat Jan van Staden wil weet.
Ek ook.
Dit gesê, wonder ek ook of dit werklik sinvol is om ‘n roman soos hierdie uitvoerig te resenseer. Gegee die ingeboude vrees wat enige resensent sal hê om sigself as wellustige te verklaar (vgl Rust en Kombuis).
Om te doen wat Lona Gericke Sondag in Rapport gedoen het met haar groot opgaaf van boeke vir jong lesers en kykers, dít het ‘n veelvoudiger informatiewe funksie, al maak dit van Gericke meer kolporteur as resensent. As ek my nie misgis nie, het Boeke24 ook onlangs iets van hierdie aard aangepak.
Sulke oorsigte verg ook gewillige koerantlesers – en dié kry mens in groter maat by besprekings van Boer kry ‘n vrou as wat na die koerant gryp om ‘n oorsig van kinder- en jeugboeke te verslind.
Hoe groot die leserstal van resensies oor digbundels is, wonder ek gereeld. Veral wanneer Boeke24 iets plaas soos Tom Gouws se bespreking van Skadu oor die sonwyser van Kobus Lombard. Met ‘n voetnoot dat die volledige resensie aanlyn gelees kan word. Have a heart!
Die opskrif lui “Vaardige digter se bundel kort vlerke, nuwe temas”. Wat my dadelik laat wonder het of ek die resensie moes lees, ek weet mos nou alles wat ek van dié bundel wil weet.
Wat is dit met die redakteurs van die boekeblaaie dat hulle so maklik digbundels laat resenseer en net een keer in ‘n skrikkeljaar aandag gee aan kinder- en jeugboeke? Is hulle regtig seker dít is wat hul lesers wil hê?
Ter afsluiting terug by Boer kry ‘n vrou. ‘n Sluimerende nagedagte. Hoe het dit gebeur dat die ondeunde mnr. Kombuis, hy wat met soveel plesier sing van hoe baie hy van ‘n vet vrou hou, nie ten minste iewers in sy resensie gevra het of die regte werkwoord in die boek se titel gebruik is nie? Terwyl ek nou op daardie vlak is.
Comments