Chris Moolman en Mariette van Manen
Herman le Roux, sport-ghoeroe, se aanspraak is dat hy my as verslaggewer “op die map gesit” het met ‘n storie wat hy by sy haarkapper, Fred Joseph, gehoor het oor lyke wat omgeruil is. Dit het ‘n woeste jaagtog van lykwaens afgegee. Ek het die storie, teen die sin van die bedroefde naasbestaandes, in Brandfort se kroeg losgewoel.
Piet Theron, Cas Jacobs, studentemaat, HvD, Herman le Roux en Sarel Venter
Hoe lekker was dit nie om hierdie wellewende kollega by HvD70 teenwoordig te hê nie. Uit daardie era was ook Piet Theron, Sarel Venter, Pierre van Manen , Ben van Rensburg. Chris Moolman, Johan van Wyk, Nancy Oosthuysen, Piet Gouws en Kootjie Geldenhuys.
HvD en Johan van Wyk
My loopbaan as verslaggewer was, helaas, te kort. Heel gou het ek die juk as hoofsubredakteur van Die Volksblad gedra. My woonstelmaat Piet Theron was een van die subs. Daardie span subs het nie minder nie as vyf redakteurs en adjunk-redakteurs gelewer: onder wie Piet, Pierre van Manen en Sarel Venter.
Ben van Rensburg, bekroonde motorskrywer en latere woonstelmaat, was die beneukste lid van die subspan – hy is vandag nog ‘n taalpuris, wat nie geduld met kabouters het nie.
Chris Moolman, Londense verteenwoordiger en latere redakteur van Rapport, het vir my op Trafalgar Square die blye nuus gebring oor ‘n Valiant Charger wat ek in ‘n limerick-kompetisie gewen het – ses weke tevore het ek ‘n Dodge SE gewen.
Johan van Wyk, berugte/beroemde skrywer van die rubriek Stop van Myne – ‘n “skermunkel” het P.W, Botha hom genoem – het vir baie opsprake gesorg, o.m. toe hy, te midde van ‘n kwaai droogte skryf oor boere se vet vroue wat in “tjoeps” in Maselspoort se swembad ronddobber. Ohopoho!
Kootjie Geldenhuys, wie se onbenydenswaardige taak dit was om hierdie woelgeeste te bestuur, is die enigste wat ek uit respekte “meneer” bly noem het, ondanks al sy teenstribbelinge. Maar, dêmmit, 70 is 70 – van my verjaardag af is Kootjie Kootjie, al het hy op my 70ste, 3 Januarie, die status van oupagrootjie verwerf.
Onder nie-koerant-vriende uit daardie era was Toy Vermeulen, ‘n oud-politikus, en Joha ons bure, asook dr. Willem Kotzé, skrywer van ‘n rits Kalahariboeke, en sy vrou Alice.
Almal het al gehoor van ‘n buurman wat sy broek vir jou sal uittrek – volgens Fanus Rautenbach is daar ook sulke buurvroue! – maar het julle al gehoor van bure wat tydens waterbeperkings hul boorgat vir jou leen? Toy en Joha het, en die polisie was nie geamuseerd oor die tuinslang oor die pad in die nagtelike ure nie.
Dok Willie was private sekretatis van die administrateur, Oom Sand du Plessis. Reeds in 1963 het ek soggens by hom gaan inloer op soek na nuus uit die administrateur se kantoor.
Die Van Wyks van Bultfontein het ek in daardie era leer ken – arm, maar ordentlik en gereken in hul gemeenskap. Een het hope musiekpryse ingepalm. Haar bynaam was in ‘n stadium Donsie. Die meeste mense ken haar as Tokkie, my vrou.
Fanie , haar broer, was ‘n kranige atleet, SA 0/19-kampioen in die 440 en houer van ses rekords wat nog staan. Hy en Maretha woon in die aftree-oord Klaradyn in Brackenfell.
Ouma Marietjie is in Groeneweide op Darling. Ek wens van harte sy kon ny die viering gewees het, want ek het baie tyd vir daardie skoonma van my. Sy’s ‘n Israeliet sonder bedrog.
Ek roem daarop dat ek ‘n lojale mens is. Ek was lojaal aan die NP en is steeds lojaal aan die AA (Automobiel-Asosiasie, nie Alkohol Anoniem nie), die NGK, en Absa. Ek en Tokkie is 44 jaar getroud. Soms was dit stormagtig. Maar ek bly vir haar baie lief. In my boek “In Kamera” is ‘n hoofstuk oor haar. Die opskrif is “Beste ding”.
Is sy werklik die “beste ding” wat met my gebeur het? In alle eerlikheid heroorweeg ek soms my uitspraak. Na haar mooi, pittige heildronk by my 70ste, gee ek haar weer die voordeel van
die twyfel.
Sy was die eerste meisie vir wie ek ‘n versie geskryf het: Kersie, granaat en ryp waatlemoen/rooi bly n kleur wat iets aan jou doen/ tooi jou in rooi, my rooibloedvrou/ om my vir altyd aan jou voete te hou. By die verjaardagviering was sy natuurlik in rooi. Ek is steeds aan haar voete.
Die twee kinders, Johan en Marisa, is in Bloemfontein gebore en is in die Kaapse era met Mariza en Brent getroud. Ek dink ons kan terugkyk op goeie tye saam. Danksy die kinders het ek ses jaar gelede oupa geword – ‘n status wat my groot behae gee.
Johan en Mariza, Brent en Marisa en die vier seuntjies, Jacob, Thomas, Migael en Christopher, se bydraes tot die laate 40 jaar van hvd70 was nooit saai of vervelig nie.
Comments