top of page
  • Uitmelkbos

OOR SPOEG EN SEMENT

Desmond Tutu is bereid om sy persoonlike genoom met die wêreld te deel, “want ek vertel in elk geval altyd vir almal oor alles myself.” Heeltemal só openhartig is ek nie.

Dus: geen verduideliking oor hoekom ek nie langer Woensdag ingaan vir my heupvervanging nie. Die operasiedatum word tot Oktober/November verskuif. Dis al.

Voldoende om verder te laat val dat ek intussen die Groot Stryd teen Gewig aandurf.

Ek eet klaar soos ‘n mossie, drink soos ‘n kameel – net een keer per week (indien wel) – en beur met my stram litte wind-op op verpligte wandelinge om die blok.

Die skaal staan beskuldigend op die badkamervloer by die deur. Kan die bleddie ding nie miskyk nie, al wil ek!

In die aanloop tot die abortiewe heup-chirurgie het ek ‘n paar dinge geleer – oor myself en my eie broekbewerigheid oor sake soos narkose, waakeenhede, lang wit kouse, kateters, en dies meer. Ook oor die vreemde weë van mediese fondse.

Moet sê wat van die sogenaamde “spaarfonds” verhaal word en waarvoor die fonds opdok, bly vir hierdie waarnemer ‘n verrassingspakkie. Elke verrekening wat op die rekenaarskerm verskyn, lok verbaasde krete uit.

“Kyk, Tokkie, vir hierdie bloedtoets betaal die fonds jou werklik!” “Ai, kyk net hoe roei hulle nou weer ons spaarfonds uit met daardie plate!”

Iets om voor fyn dop te hou, is “prosedures” waarvoor glad nie betaal word nie. ‘n Reeks verskillende kodes verklap die redes. ‘n Kode om spesiaal voor lig te loop, is daardie een wat aandui dat ‘n bepaalde “lyn” nie gelees kon word nie.

Aan die arme, verwarde siekefondslid word te kenne gegee dis weens ‘n swakheidjie op die faks wat ontvang is. Ek wonder soms of dit nie is wanneer die betrokke amptenaar sy/haar oë geknip het nie.

Siekefonds het merkwaardige uitsluitings, het ek opnuut geleer nadat ek as jong vader al verbaas was dat vir my seun se insulien betaal word maar nie vir die spuitjies waarmee dit toegedien moet word nie. Vraag: hoe kry andersins jy die goed in jou lyf?

Nou het ‘n soortgelyke probleem opgeduik met die sement (gom?) waarmee ‘n porseleinkroon aan ‘n gebreekte tand geheg word. ‘n Goue kroon is goed en wel – vir daardie sement (gom?) word gewillig opgedok. Maar met die porselein-weergawe moet jy klaarblyklik maar ‘n ander plan maak.

Toe ek my verbasing daaroor luidkeels te kenne gee, bel ‘n vername jong man om “alles mooi vir die oom te verduidelik”.

Uit die staanspoor vererg ek my toe. “Kyk, man, ek is 70 maar nie onnosel nie, hoor!”

Só sukkel ons kommunikasie voort totdat ek gebelgd by hom wil weet: “Waarmee sit ‘n mens dan jou krone vas? Met spoeg?”

Hy het my ‘n antwoord skuldig gebly.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page